Stranddrinkers in Kaapstad se doppie geklink; metro reg vir langnaweek

Die Kaapstad-metro sê openbare ontspanningsruimtes sal fyn dopgehou word. Nooddienste is ook op hoë gereedheid, terwyl die metropolisie ʼn verskerpte fokus op padveiligheid het. (Foto: Verskaf)

Wetstoepassers in Kaapstad het sedert 24 Oktober op 3 870 bottels alkohol beslag gelê, wat op 2 124 liter drank neerkom. Die meeste van dié alkohol is op openbare strande aan die Atlantiese kus gekonfiskeer, asook die kus van Valsbaai en strande van Muizenberg tot Simonstad.

Alkohol word op openbare Kaapse strande verbied.

Die Kaapstadse metro het Donderdag gesê hy verwag dat openbare plekke tydens die langnaweek en die res van die feestyd druk besoek sal word, en dat oortreders hul rieme kan styfloop.

“Die feestyd is loshande een van ons besigste tydperke van die jaar, en daarom het ons ʼn omvattende openbare veiligheidplan gereed, het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, gesê.

“Openbare samewerking is die een veranderlike waaroor ons geen beheer het nie, en ons alkoholbeslagleggingstatistieke dui reeds op ʼn al te bekende verhaal. Alkoholmisbruik en die verwante anti-sosiale gedrag is ʼn blywende kopseer vir wetstoepassers- en nooddienste. Ek pleit by die publiek om asseblief verantwoordelik te wees en hul verstand te behou – nie net in terme van persoonlike gedrag en aanspreeklikheid nie, maar ook vir diegene met misdadige bedoelings wat meer as jou feesvreugde wil steel.”

Smith sê die metro se openbare ontspanningsruimtes sal fyn dopgehou word. Nooddienste is ook op hoë gereedheid, terwyl die metropolisie ʼn verskerpte fokus op padveiligheid het.

Die Kaapstad-metro sê openbare ontspanningsruimtes sal fyn dopgehou word. Nooddienste is ook op hoë gereedheid, terwyl die metropolisie ʼn verskerpte fokus op padveiligheid het. (Foto: Verskaf)

“Die polisiëringsplan vir die feestyd sluit in ontplooiing op openbare plekke en by ontspanningsgeriewe, maar ook na ekonomiese sentra waarheen mense gereeld stroom om te kuier en inkopies te doen.

“Padveiligheid bly ook ʼn topprioriteit en motoriste kan padblokkades verwag.”

Smith sê metro-beamptes het die afgelope week reeds 595 voertuie deursoek.

Verder word inwoners en besoekers aan die kus versoek om ten alle tye veiligheid voor oë te hou – veral wanneer hul gaan swem, op die strand is of naby die see beweeg.

Volgens Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, was daar sedert die begin van Desember al drie verdrinkings, en ses voorvalle sedert laat November waartydens mense byna verdrink het.

ʼn 30-jarige man op 11 Desember by die Milnerton-strandmeer dood, ʼn 21-jarige vrou op 5 Desember by Strandfontein-strand en ʼn 58-jarige man op 5 Desember by Clifton se Vierde Strand.

“Die meeste van hierdie voorvalle het buite aangewese swemgebiede plaasgevind, of toe daar geen lewensredders aan diens was nie,” het Van der Ross gesê.

“Ons is ook baie bekommerd oor mense wat onder die invloed swem. Daar is ’n nuwemaan en daarom verwag ons erger getye, moontlik met sterker seestrome as normaalweg.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.