Strande, seelewe veilig ná oliestorting by Algoabaai

Argieffoto van ‘n oliestorting (Foto: Samsa)

Die kusgebiede om Algoabaai aan die ooskus van die land, en die diere wat hulself hier tuismaak, is buite gevaar nadat die meeste van die olie wat aan dié baai gestort is, opgeruim is.

“Niks van die olie het die strande bereik nie en die meeste daarvan is reeds opgeruim met geen sigbare olielagie wat op die water glinster nie,” het die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) in ʼn verklaring gesê.

SANParke se patrolliebote het ook positiewe terugvoer gehad oor die stand van sake aangesien “geen olie naby die eilande aan die kusgebied by Algoabaai gekom het nie en geen voëls wat met olie besmeer is, opgemerk is nie”.

Die seeoppervlak naby die Ngqura-hawe was Maandag bedek met olie nadat die oordra van olie tussen twee skepe skeefgeloop het.

Teen-besoedelingsvaartuie is deur die departement van bosbou, visserye en omgewingsake ontplooi om die oliestorting te beheer en binne dae kon spanne daarin slaag om die meeste van die olie op te ruim.

“Aanvanklik is die twee skepe [wat die storting veroorsaak het] langs mekaar gehou om enige verdere storting te beperk,” het Samsa gesê.

“Noudat baie olie om die skepe uit die water opgeruim is, het owerhede egter die kleiner skip toegelaat om terug na die Gqeberha (Port Elizabeth)-hawe te vaar, terwyl die groter skip voor anker sal bly lê in afwagting op ʼn ankerplek by die hawe.”

Die oliestorting het Maandag gebeur toe olie tussen twee skepe oorgedra is.(Foto: Verskaf)

Al die toerusting met olie aan is intussen uit die water verwyder sodat dit geen verdere besoedelingsbedreiging vir die hawe en sy bedrywighede inhou nie.

Volgens Samsa hou die owerhede met behulp van gevorderde tegnologie die kusgebiede, sowel as die see om die oliestorting, fyn dop.

ʼn Vastevlerkvliegtuig met die nuutste waarnemingstoerusting is vanaf Kaapstad gekarteer om ʼn volledige soektog na enige olie oor die hele Algoabaai-gebied te doen. Die vliegtuig sal hoëdefinisie-kameras en olie-opsporingstelsels gebruik om ʼn volledige oorsig te doen.

“Indien enige olie opgemerk word, sal die vliegtuig ʼn oliestortingsmodellering doen om die rigting van die olie te bepaal,” sê die owerheid.

“Ons is egter optimisties dat die meeste van die olie opgeruim is en dat net die skip se romp nog skoongemaak moet word.”

Hoewel die meeste diere buite gevaar is, het Samsa nietemin ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om enige gevalle waar voëls met olie besmeer is aan SANParke of SANCCOB Gqeberha by Cape Recife‑natuurreservaat by 063 942 4702 aan te meld.

“Moet onder geen omstandighede probeer om wildediere wat met olie besmeer is te nader of te vang nie. Veldwagters sal voortgaan om die eilande te monitor en self hierdie gevalle hanteer.”

Die ondersoek na die oorsaak van Maandag se oliestorting duur intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.