Student begin petisie oor parkeerprobleem by Tuks

Die probleem met parkering kom glo al sedert die 1980’s by die kampus voor, maar soos die tyd gevorder het, het al meer probleme begin kop uitsteek.

Meer as 2 000 studente het reeds ’n petisie geteken waarin die Universiteit van Pretoria (UP) se bestuur versoek word om meer en veiliger parkering vir studente beskikbaar te stel.

Christoff Barnard (25), ’n derdejaar regsstudent aan Tukkies en die brein agter die petisie, sê hy en talle ander Tukkies-studente is keelvol om klasse te mis omdat daar nie parkering  op of buite die Hatfield-kampus beskikbaar is nie. Studente mag in aangewese terreine buite die kampus parkeer omdat die parkering op kampus reeds vol is. Die terreine is beperk en studente word soms gedwing om op sypaadjies en selfs in die pad te parkeer.

“Ek was hierdie week vir die soveelste keer laat vir my klas omdat ek vir 45 minute lank heeltyd om die kampus moes ry om oop parkering te soek,” vertel Barnard.

Die probleem met parkering kom glo al sedert die 1980’s by die kampus voor, maar soos die tyd gevorder het, het al meer probleme begin kop uitsteek. Studente word nou geteister deur kriminele, karwagte en die metropolisie.

Diewe gee hulself voor as studente en vra onskuldige studente vir rygeleenthede, waarna hulle studente dan beroof. Diewe breek ook in by voertuie wat buite die kampus geparkeer is.

Karwagte teister studente op ’n daaglikse basis en dreig hulle selfs indien die studente nie vir hulle ’n geldjie betaal nie. “Jong vroue word veral deur karwagte geteister. Die situasie is al so erg dat talle vroulike studente nie meer klas toe wil gaan nie omdat hul lewens bedreig voel. Party karwagte dreig met fisieke geweld indien studente nie vir hulle geld gee nie,” vertel Barnard.

Nog ’n student aan die universiteit sê aan Maroela Media studente word gedwing om te ry vanaf nabygeleë studentebehuising omdat dit onveilig is om kampus toe te stap. ’n Medestudent in haar kommune digby die Hatfield-kampus is verlede jaar aangeval toe sy van kampus teruggestap het huis toe.

Meer as 2 000 studente het reeds die petisie oor die probleme met parkering onderteken.

Die student vertel sy het ook groot skade gely nadat ’n ander voertuig in haar voertuig, wat buite die kampus geparkeer was, vasgery het weens die beperkte parkeerruimte. “Omdat ’n groot aantal voertuie in een spasie probeer pas, is die kans groot dat die voertuie teen mekaar kan vasry.”

Die metropolisie sien studente boonop as maklike teikens. Barnard sê studente het al meer as een boete op ’n dag ontvang omdat karwagte die boetes onbewustelik uit die voertuie se vensters vat. Een student het ʼn totaal van R6 000 se boetes gekry omdat die metropolisie die parkering as “onwettig” beskou het.

Barnard vertel die universiteit is bewus van die probleem en raai studente aan om by die Hillcrest-kampus te parkeer en ’n bus na die Hatfield-kampus te gebruik. “Dit is nie ’n permanente oplossing nie. Die busse is nie altyd op tyd nie. Deur die bus te vat, kom jy partymaal steeds laat vir jou klas. Die aflaaipunte is baie ver van klasse en dis baie ontwrigtend vir studente.”

Barnard beoog om die getekende petisie aan die universiteit se bestuur te oorhandig. Die petisie staan tans op 2 080 handtekeninge. Studente wat die petisie wil teken, kan http://chng.it/zvBV5xsg besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gawie ·

Ek was in die middel 80s op Tukkies, en parkering was toe reeds ‘n groot probleem. Ten minste was jou voertuig daardie tyd redelik veilig al het jy buite die kampus parkeer.

PIETER ·

In die 70’s kon ons darem, as jy vroeg genoeg was, by die Griekse kerkie se parkering stilhou. Boetebessies (mag hulle nog so genoem word?) was lief vir die studente wat op die sypaadjies parkeer het. Hulle het baie ‘liefdesbriefies’ gekry en dan moes jy ‘n ‘donasie’ aan die stadskoffers maak.

J ·

Studente is veronderstel om SLIM te wees.

Vir 40 jaar reeds weet almal by Tuks dat daar nie parkering by die Hatfield kampus is nie … ten spyte daarvan ry studente steeds met hul eie voertuie en HOOP dat hulle ‘n parkeerplek gaan ‘score’.

Tuks se besigheid is om navorsing te doen en om onderrig te gee … nie parkering nie! Dit behoort slim studente sélf te kan beplan.

Alternatiewe oplossings vir die parkering probleem is stap (i.p.v. ry), fiets, taxi, trein, bus of parkeer by L C de Villiers en neem die GRATIS bus. Of studeer AANLYN oor die internet.

Universiteite kan nie bekostig om personeellede aan te stel om parkering, kos, klere, akkommodasie, boekwinkels, voorbehoedmiddels ensovoorts te voorsien nie.

‘Professor in parkering’ … ‘voorbehoedmiddels’ …??? … ha … ha …

Nee boetie / sussie …. word nou groot!

Nadz ·

AJ…ek dink nie jy het die artikel mooi gelees nie. Al die “oplossings” wat jy verskaf is reeds genoem in die artikel asook die redes waarom dit NIE n goeie alternatief en permanente oplossing is nie.
Dit het heeltemal te gevaarlik geraak om te stap of fiets te ry, nie almal kan bekostig om elke dag taxi of bus te ry nie, die trein neem ure uit elke dag en die stasie is n ent van die UV en die gratis bus is nie altyd op tyd nie.
Studente (of hul ouers of beurs) betaal BAIE geld om by enige Universiteit te studeer en daarom is dit elke student se reg om gerief en veiligheid te geniet. Hierdie is ook nie net n probleem by Tuks nie maar by meeste universiteite bv. NWU.

Cristie ·

Om ‘slim’ te wees gaan nie skielik meer parkering voorsien nie, en dit gaan ook nie die misdaad keer nie. Daar is pleinweg nie genoeg parkering nie, en ek was onlangs ‘n student. Die karwagte is ongeskik en bombasties. Ek was al in baie benoude situasies, situasies waarin jy nie jou eie dogter of enige familielid sal wil he nie.
Voor jy kan praat, moes jy self daar wees in hierdie era.
So, raak vir my rustig.

Gawie ·

Nee wat AJ, Ek dink dis jy wat moet slim word. Soos Nadz reeds aan jou uitgewys het, die artikel spreek reeds al die oplossings aan wat jy noem.
Jy sê Tuks se besigheid is onderrig en navorsing, en nie parkering nie. Net so is enige ander besigheid of maatskappy se besigheid om ‘n spesifieke diens te verskaf, maar as hulle nie parkering vir hulle kliënte kan verskaf nie, kry die besigheid swaar. Om nou vir die studente te sê die parkering is hulle probleem, is dieselfde as vir Pick & Pay om vir hulle kliënte te sê: ‘Kom koop by ons, maar ons kan nie vir jou parkering verskaf nie’.

Annie ·

As oud student wat weet dat hierdie al baie lank ‘n probleem is, dink ek studente kan gerus die petisie aan oud studente oopstel. Ek sal dit steun.

Hennie ·

Dievprobleem is net die eerste 3 masnde, dan val n groot getal studente uit soos vlieë. My seun het altyd baie vroeg opgestaan en kon so maklik, veilihe parkering kry. Hy is tans besig met nagraads by Tuks en hy doen presies dieselfde, staan vroeg op en kry goeie parkering. Dit kom masr net neer op goeie beplanning!

Cristie ·

Goeie beplanning gaan nie skielik meer parkering vir almal verskaf nie.

AndrewL ·

Parkering is al jare ‘n probleem. Daar is nou akkomodasie binne stapafstand van die universiteit. Boopnop dra die universiteit muldelik by tot Hatfield CID wat wagte ens voorsien om die area veiliger te maak.

Ongelukkige is studente die instrumente van hul eie ondergang. Daar word elke jaar voorligting gegee oor veiligheid. Die polisie, universiteit sekuriteit en Hatfield CID werk nou saam om veiligheid te verseker, maar studente luister baie maal na niemand nie.

Daar is veilige parkereing en ‘n busdiens wat verskaf word vanaf ander dele van die kampus. Studente weet hierdie dinge, maar is steeds geneig om op die nippertjie te ry en dan parkering te soek “voor die lesingkamer se stoep”.

Met klein bietjie beplanning en luister na raad, kan meeste van die probleme uitsorteer word.

Dit is maklik om petisies te teken, maar pleks daarvan kan die klomp slim studente mos met alternatiewe oplossings kom. Maar nouja, alles moet mos op ‘n goue skinkbord gegee word.

Cristie ·

Jy was duidelik nie ‘n student op Tukkies nie? Of jare laas in Pretoria. Dit is nie veilig nie. Of jy nou stap of fiets ry of jou kar gebruik.
As jy jou sogenaamde beplanning doen, beteken dit steeds nie dat daar genoeg parkering gaan wees vir almal nie,en jy kan nie daarmee stry nie.

Theo ·

Die studente kom op die nippertjie by die kampus aan en verwag dan dat hulle parkering kry.Daar is busse wat hulle kan neem vanaf die Sportsentrum of Groenkloof kampus maar hoekom sal ons dit doen.Dit is mos baie makliker en verwag die Universiteit moet alles vir hulle doen.Hulle skree oor die klas gelde oor die toetse.Maak nie saak wat die Univetsiteit alles vir hulle doen nie alles moet verniet gegee word en probeer net om die klasgelde te verhoog dan is die hel los.Dit is tyd dat die studente groot word en optree soos groot mense.

Cristie ·

Die busse is glad nie betroubaar nie. Ek was al daar, my sussie was al daar. Sy moes al BAIE ver loop, omdat haar bus net glad nie opgedaag het nie. Inteendeel, geen bus het op party dae opgedaag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.