Student praat oor noue ontkoming met renoster

Kieran Munns (Foto: Facebook)

Die jong buitelandse student wat vroeër vandeesweek na ’n hospitaal geneem is ná ’n noue ontkoming met ’n swartrenoster, het slegs ’n ontwrigte heup en verskeie kneusplekke opgedoen. Die voorval het Woensdag by ’n private reservaat in KwaZulu-Natal plaasgevind.

Kieran Munns (21) sê hy het ’n hou teen die kop weg nadat ’n renosterkoei met ’n kalf hom onderstebo geloop en teen ’n boom vasgekeer het. Die kalf het in die proses ook bo-oor Munns se been gehardloop.

Hy het genadiglik geen ernstige beserings opgedoen nie. “Ek veg nie vir my lewe nie, geen operasie is nodig nie en ek herstel vinnig,” het Munns vanuit sy hospitaalbed aan die Britse publikasie The Daily Record gesê.

Munns is Donderdag uit die hospitaal ontslaan.

BBC berig dié Skotse student se familie is van die dorp Livingston in Skotland. Hy studeer die afgelope twee jaar natuurbewaring aan Bhejane Nature Training in Suid-Afrika.

Die voorval het by ’n private reservaat in KwaZulu-Natal plaasgevind. (Foto: IPSS Medical Rescue)

Munns was ten tyde van die voorval deel van ’n groep natuurbewaarders wat Woensdag ’n swartrenoster in noordelike Zoeloeland gemonitor het.

“Dit het regtig vinnig gebeur. Ons dink sy het in die bos geslaap en toe kom sy net vir ons – vinnig,” vertel hy.

Munns kon nie gou genoeg uit die pad kom nie.

“Sy het my getref en ek was tussen haar en die boom ingedruk. Ek het geval en sy het my [weer gestorm] en toe hardloop die kalf oor my been.”

Die dier het gereedgemaak om Munns vir ’n derde keer te storm. Die ander natuurbewaarders het toe almal begin skree en die renosterkoei en haar kalf het weggehardloop.

Die noue ontkoming kan wel nie Munns se liefde vir natuurbewaring stuit nie.

“Ek is nog steeds mal oor wat ek doen en het geen negatiewe gevoelens teenoor die onskuldige renoster nie. Ek is nog steeds lief vir alle diere, waaronder die swartrenoster, en sien uit daarna om weer in die veld te wees sodra ek daartoe in staat is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ansie ·

Sjoe, baie bly hy is nie ernstig beseer nie. Hoop hy herstel vinnig en volkome. Klink na ‘n oulike jong man met sy kop reg aangeskroef.

Di ·

Dink die rede vir die aanval was die kalfie. Diere is baie beskermd wanneer dit kom by die beskerming van hulle kleintjies. Dink baie mense kan by diere leer hoe dit veronderstel is om te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.