StudentePlein oorweeg appèl ná taaluitspraak

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die organisasie StudentePlein sê hy oorweeg verdere regstappe en moontlik ʼn appèlaansoek nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof vroeër beslis het die Universiteit Stellenbosch (US) het nie onregmatig opgetree nie toe hy vroeër met Afrikaanse leermateriaal weggedoen het.

StudentePlein en die DA het die US se besluit in die hof betwis nadat hy nie sy eie taalbeleid tydens die Covid-19-pandemie streng nagekom het nie. Die US het eerlik toegegee dat hy onder die omstandighede nie in ʼn posisie was om prosedures tot op die letter uit te voer nie. Die hof het beslis die beleid en die reg om onderrig in die amptelike taal van keuse te ontvang, word egter beperk tot omstandighede waar dit “prakties billik” is.

StudentePlein sê in reaksie op die hofuitspraak daar is in die US se guns beslis “op wat rederlikerwys prakties sou wees in die konteks van US se verpligtinge as dit by fakulteite se taalimplementeringsplanne kom”. Die organisasie sê dit is ʼn punt wat nie deur een van die partye in die saak geopper is nie.

“Die bevinding rondom wat rederlikerwys prakties sou wees, maak die hof op sterkte van ʼn klousule in die taalbeleid [ʼn besluit] wat nie ʼn onderwerp van die geskil was nie. Dit wil dus voorkom of die hof se uitspraak nie berus op die geskil wat werklik voor die hof was nie. Vir hierdie redes oorweeg StudentePlein nou verdere appèlopsies.”

Die organisasie sê die uitspraak lê ook klem op die gedagte dat Afrikaanse studente wel Engels verstaan. Hoewel talle Afrikaanse studente Engels verstaan, is dit nie waar binne die raamwerk van akademiese Engels op tersiêre vlak nie. “ʼn Groot gros StudentePlein-lede klop by ons aan vir akademiese hulp, juis omdat hulle nie akademiese Engels kan baasraak nie. Vandaar ook StudentePlein se belang in hierdie hofsaak.”

Die organisasie sê die uitspraak “neem nie weg van die onverskilligheid jeens Afrikaans” wat die US openbaar het nie. StudentePlein meen ook die US skets in sy hofstukke ʼn prentjie dat Afrikaans ʼn onbelangrike bysaak is.

“Die Afrikaanse gemeenskap se geduld met die US se hantering van Afrikaans is uitgeput en dit noop die omliggende Afrikaanse gemeenskap, ook StudentePlein, om alternatiewe Afrikaanse akademiese instellings op die been te bring.

“Alhoewel die US duidelik ontevrede is met die kritiek teen hulle oor die afskaffing van Afrikaans, behoort die US eerder werklik bekommerd te wees die dag wat daar nie meer sodanige druk op die US uitgeoefen word nie.

“Dit sou daarop dui dat die Afrikaanse gemeenskap finaal by die US onttrek en inderdaad aanbeweeg het om hul kinders se toekoms in nuwe instellings te plaas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Rus in Vrede, eens trots Afrikaanse Universiteit van Stellenbosch. Ek sal vir jou onthou vir dit wat jy eens was. Waarom het jy Afrikaans, die fondament van jou bestaan, versaak?

VaalDonkie ·

Stalinbos probeer meer anti-Afrikaans as Moskou op die Heuwel wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.