‘Suid-Afrikaners het sekerheid nodig,’ sê reisagentskap

Euan McNeil, besturende direkteur van Flight Centre Suid-Afrika. (Foto: Verskaf)

Die reisagentskap Flight Centre Suid-Afrika sê landsburgers het nou die versekering nodig dat interprovinsiale grense tydens die feestyd sal oopbly, ondanks ʼn vierde Covid-19-golf wat deur die Omikron-variant aangedryf word.

In ʼn ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa skryf Euan McNeil, besturende direkteur, dat die lewensbestaan ​​van toegewyde Suid-Afrikaanse mans en vroue wat direk en indirek van die volhoubaarheid van die hele reisbedryf afhanklik is, in die weegskaal hang.

Burgers het boonop die versekering nodig dat hulle vir ontspanning deur die land sal kan reis en vriende en familie kan besoek, met inagneming van die streng nie-farmaseutiese protokolle wat al meer as ʼn jaar lank geld.

“Terwyl ons van golf tot golf beweeg, het gevolglike beperkings nie net mense verhinder om te reis nie, maar ook vertroue weggekalwe.  “Wanneer daar onsekerheid is, soos ons tans ervaar, word die situasie vererger,” lui die brief.

McNeil sê voorts met dié dat internasionale reisbeperkings die toerismesektor kniehalter, binnelandse toerisme die enigste lewensaar van ʼn beleërde toerisme- en gasvryheidsektor is wat meer as 1,5 miljoen werksgeleenthede ondersteun.

“Die internasionale inkomende toerisme-oplewing wat Suid-Afrika oor hierdie feestyd sou geniet, het teen ’n ondenkbare spoed opgedroog. Dit het ondernemings weer met leë beddens en sitplekke gelaat wat net met plaaslike inwoners gevul kan word – en op die laaste oomblik. “Ek moet beklemtoon dit gaan nie net oor om Suid-Afrikaners aan te moedig om met vakansie te gaan nie.

Die toerisme- en reisbedryf ondersteun ’n diep waardeketting; baie van hierdie ondernemings is in buitestedelike en landelike gebiede bedrywig waar geen ander bedryf werksaam is nie.”

McNeil sê dat mense se lewensbestaan inderdaad weer in gevaar is indien interprovinsiale reisbeperkings ingestel word.

“Ons weet daar is meer onsekerhede as sekerhede met betrekking tot hoe doeltreffend entstowwe teen Omikron is en die mate waarin die variant die las op ons gesondheidsorgstelsel sal beïnvloed.

“Deur Suid-Afrikaners egter nie sekerheid te gee in die aanloop tot die jaarlikse feestydvakansie nie, is baie mense huiwerig om hul plaaslike reisplanne te maak.”

Hy sluit sy ope brief af deur te vra dat behoorlike oorweging geskenk word aan die impak wat regulasies op die toerisme- en reisbedryf sal hê en dat die impak van alle maatreëls om die verspreiding van Covid te stuit, deeglik oorweeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Samuel ·

Hopelik sal rede seëvier in die regering se besluite tov interprovinsiale reis.

melaney ·

Mense betaal duur vir vakansie. Ons kan nie bekostig om planne te maak en daarna hoor ons moet nou by die huis bly nie.

Anke ·

Ek het nou al baie kommenteer op ander berigte gelees wat daar gesê word Gauteng moet gelockdown word, nou hoe nou?

My siening ·

Met die African national Criminal party is jy nie eers seker of gister regtig gebeur het wat nog van besluit, want breins is daar maar min van om van te glo of te vertrou.

Sarel ·

Toe dit goed gegaan het was die Buitelandse Toeris
belangriker vir die befryf as die Binnelandse mense.
Nou kyk jullena ons vir oorlewing?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.