Sun City ploeg terug in gemeenskap

Sun City het honderde sitrusbome aangeplant. (Foto: Verskaf)

ʼn Hele boord sitrusbome verskaf nie net voedsel aan plaaslike gemeenskappe in Noordwes nie, maar ook broodnodige vaardighede vir jong mense wat nie andersins die geleentheid sou gehad het om die werksmag te betree nie.

Sun City het onlangs teruggeploeg in die omliggende gemeenskappe deur honderde sitrusbome aan te plant en dit te gebruik om jong mense in die landboubedryf op te lei.

Die oord se maatskaplike en ekonomiese ontwikkelingsprogram het verlede jaar ʼn projek van stapel gestuur wat werkgeleenthede vir jong mense in die gebied skep.

Die projek het aanvanklik 100 sitrusbome by die Sedibelo Secondary School en die Temogo- spesiale skool aangeplant. Al die leerders en onderwysers by dié skole was betrokke by die plant van die bome en werk nou saam om dit te onderhou.

Vanjaar is daar nog 550 sitrusbome aangekoop, waarvan 250 in ʼn boord by Sun City aangeplant is.

Die res is aan ses skole in die Moses Kotane- plaaslike munisipaliteit en die Rustenburg-munisipaliteit geskenk. Die oord het ook die nodige besproeiingstoerusting geskenk om te verseker dat die sitrusbome onderhou word en kan floreer.

Tebogo Mokgejane, Sun City se belangegroepbestuurder, sê die projek het verlede jaar reeds vrugte afgewerp toe dit werklose jeugdiges opgelei het in sitrusondernemingsbestuur.

Die Sitrus Akademie het altesame 23 werklose jeugdiges ingeneem om in sitrusondernemingsbestuur opgelei te word. Al dié studente het ʼn NQF vlak 2- kwalifikasie behaal, wat gelykstaande is aan ʼn gr. 10-sertifikaat. Altesame ses van die studente het daarin geslaag om ʼn NQF vlak 4- kwalifikasie te behaal, wat gelykstaande is aan ʼn Nasionale Senior Sertifikaat oftewel ʼn matrieksertifikaat.

“Tesame met die kursusse het die jeug boonop boomsnoeitegnieke by Sun City se tuindienste geleer, wat hulle reeds toepas om na die sitrusbome te help omsien,” sê hy.

“Die toevoeging van nog bome tot die boord by Sun City sal die ander studente ook die geleentheid bied om voort te gaan om hul kennis prakties toe te pas en om ook te help om die bome te onderhou.”

Meer as net bome

Leerders en onderwysers van naburige skole het saamgekom om bome te plant en daaroor te leer. (Foto: Verskaf)

Basetsana Motha, Sun City se omgewingsbestuurder, sê die hele doel van die projek is om voedselsekuriteit te bevorder en “om belangstelling in voedselproduksie by die jeug te kweek”.

“Die skole wat die sitrusbome ontvang het, se voedingsprogramme sal voordeel hieruit trek, aangesien hulle ʼn gratis bron van gesonde, vars produkte het,” sê sy.

“Die geborgde sitrusbome kan ook ʼn bron van inkomste vir skole wees as hulle dit verkoop. Die geld kan gebruik word om buitemuurse aktiwiteite te befonds of die skool se infrastruktuur te verbeter.”

Sun City het onlangs ter viering van nasionale boomplantweek ʼn opvoedkundige omgewingsbewustheidsessie aangebied waartydens leerders en onderwysers van naburige skole saamgekom het om oor bome te leer. Hulle het ook gehelp om van die sitrusbome by Sun City te plant.

“Hierdie geleentheid het die belangrikheid van bome bevorder, en jong kinders geleer hoe belangrik bome is wat help om koolstofvrystellings te verminder en luggehalte te verbeter.”

Lwazi Mswelanto, Sun City se volhoubaarheidsbestuurder, sê Sun City het nog altyd gefokus op gemeenskapsontwikkeling en dat al sy projekte daarop gefokus is om gemeenskappe met vaardighede toe te rus.

“Dis ʼn wederkerige verhouding, want die gemeenskappe maak staat op Sun City vir indiensneming en ons maak staat op hulle om dienste te verskaf sodat ons besoekers kan bedien. So vir ons is dit van kardinale belang om aan ons gemeenskappe te kan teruggee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.