Sun City steeds besig met opruimingswerk

Haelkorrels lê in ‘n dik laag op die grond by Sun City. Foto: ANA

Altesaam 200 hotelkamers by die Sun City-oord naby Rustenburg in Noordwes is deur die verwoestende haelstorm Saterdagmiddag geraak, het ʼn beampte by die oord bevestig.

“Die hele ding het binne omtrent 20 of 30 minute gebeur. Gelukkig was daar geen sterftes nie. Tot verdere kennisgewing sal gaste ook nie toegelaat word om in te boek nie,” sê Tshepang Motsekuoa, kommunikasiebestuurder van Sun City.

Een van die hotelle wat die ergste deurgeloop het, was die Sun Soho-hotel. Volgens Motsekuoa moet ʼn beraming van die koste nog gedoen word. Die hotel was volbespreek ten tyde van die storm en terugbetalings sal moontlik gedoen word, sê sy.

Personeel het Sondag geswoeg om die oord opgeruim te kry. Foto: ANA

Gaste moes uit die hotel verwyder word en in nabygeleë gastehuise akkommodeer word. Die gastehuise is by Mogwase en Ledig, wat naby Sun City is, maar nie deur die storm geraak is nie.

Sommige voertuie was Sondagoggend steeds met puin en ys bedek terwyl personeel geswoeg het om die oord opgeruim te kry. Sun City het vroeër gesê die Sun Central- gesins-en-vermaakarea, die Soho Hotel, die Cabanas, die Cascades Hotel, die Vacation-klub en The Palace is almal deur die storm geraak.

Luidens ʼn verklaring was die skoonmaakproses by die Cabanas die maklikste aangesien die vloere geteel is. Die Soho-hotel bied egter ʼn uitdaging aangesien die matte met water deurdrenk is. “Die hotelle se swembaddens is gesluit aangesien dit deur modderstortings geraak is en eers behoorlik skoongemaak moet word. Die Soho-swembad is wel operasioneel,” lui die verklaring.

Die Gary Player-gholfbaan en die Lost City-gholfbaan was albei Sondag gesluit vir dringende herstelwerk. Foto: ANA

Kragtoevoer is ook in baie van die hotelle afgesny wat onder meer die roltrappe en Sky Train staties gelaat het.

Die Gary Player-gholfbaan en die Lost City-gholfbaan was albei vandag gesluit vir dringende herstelwerk. Die pomphuisie by die Gary Player-gholfbaan is tot by die dak oorspoel en pompe en die hoofverdeelborde is beskadig. Die bruggie op die vierde gat het ook weggespoel en die setperke het inkepings van die hael, maar sal na verwagting binne die volgende paar dae herstel word.

Sun Central en Valley of the Waves was wel vandag oop vir dagbesoekers en hotelgaste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CJ ·

n Hele paar mense gaan harder werk as wat hulle gedink het … eish

Ellisras ·

Die natuur is nie jou speelmaat nie. Water, vuur. Die natuurkragte is net groter as die mens.

Nico Bota ·

“gaste ook nie toegelaat word om in te boek nie” – ek vra maar net – is daar nie beter Afrikaans om te gebruik nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.