Video en foto’s: Haelstorm rig groot skade by Sun City aan

Haelkorrels lê byna soos ʼn sneeukombers by die gewilde Sun City-oord nadat ʼn verwoestende haelstorm die omgewing Saterdag getref het. Foto: Facebook

Uitgebreide skade is aan geboue en voertuie by die gewilde Sun City-oord aangerig nadat ʼn verwoestende haelstorm die Pilanesberg en omgewing in Noordwes getref het.

Foto’s en video’s wat op sosiale media gedeel is, wys onder meer hoe die ontspanningsareas rondom die oord se swembaddens deur ʼn haelkombers bedek is, hoe water en haelkorrels by ʼn hoteldeur instroom en hoe gedeeltes van die plafon van een van die geboue ineenstort.

Die oord het in ʼn verklaring gesê die haelstorm het Saterdag omstreeks 16:30 gewoed. “Ons kan bevestig dat die Sun City-oord geraak is deur die storm en dat gevolglike kitsoorstromings aansienlike skade aan hotelkamers, asook die Sun Central- gesins-en-vermaakarea aangerig het,” lui die verklaring.

Volgens die oord is dagbesoekers na veiligheid gebring en in busse uit die erg beskadigde gebiede verwyder.

Haelkorrels lê byna soos ʼn sneeukombers by die gewilde Sun City-oord nadat ʼn verwoestende haelstorm die omgewing Saterdag getref het. Foto: Facebook

“Die oord se nooddienste is op die toneel om die omvang van die skade te bepaal. Gebeurlikheidsplanne is ingestel om die opruimingswerk in die beskadigde hotelkamers en openbare areas te behartig.”

Die oord het gesê gaste wie se verblyf deur die storm geraak is en wat wel in ʼn posisie was om huis toe te keer, is gevra om dit te doen.

Die oord het laat gisteraand op sy Facebook-blad gewaarsku dat die Soho- sowel as die Cabanas-hotel geen kamers meer beskikbaar het nie weens die storm. Gaste wat kamers in dié hotelle bespreek het en binnekort by die oord moet arriveer, is gevra om 014 557 5110/1580 te skakel.

Verskeie sosialemediagebruikers het hul teleurstelling uitgespreek omdat hul vakansieplanne in die wiele gery is en verskeie mense wou dadelik weet of en wanneer hul besprekingsgeld terugbetaal sal word.

ʼn Video van die toneel by die oord verskyn onderaan die foto’s.

Heavy rainfall and hail at Sun City in South Africa, lead to flooding at the Sun City Resort this afternoon (15 December 2018).Source: Riandi Lindford

Posted by Geologica – Day By Day on Saturday, December 15, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Nonnie ·

Genade tog! Pleks van dankbaar wees vir d reen en minimale skade mor d mensdom oor hul plesier wat nou daarmee heen is? Sun City sit nie brood op jou tafel wel d boere wat die reen dringend nodig het!

Marie ·

Wat verwag jy van stadsjapies? Wens dit wil by ons ook reën.

Nonnie ·

Waaroor sal d mensdom nog mor??? Pleks van dankbaarheid oor d reen kla hul oor hul plesier wat verlore is…

Smurfie ·

Waar, maar dis duur om daar te bly. Eks seker daarvan, julle sou van die eerstes gewees het om te wil weet of jy jou R10 000.00 plus gaan terug kry of nie. Of kan julle bekostig om soveel geld te verloor?

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek werk vir die afgelope 23 jaar buite….en ons kry niks meer “gematig” nie? As dit nie storms is nie, is dit droogte….Die Mens”dom” het voorwaar hierdie planeet verwoes….

Riandrie ·

Dit is vreeslik ja… maar wat vir my uitstaan dit dat almal net aangaan oor Sun City maar nie 1 woord word gesê of gevra oor die mense in die omliggende nedersettings (wat reeds minder as niks het) en of hulle okay is nie??!!

Veritas ·

Wie kan vir ons sê waar al dié water heen gaan? Erens moet ‘n dam wees wat lekker vol gaan raak.

Hans ·

3 Hoera’s die aarde is daar nat, klink nie of iemand omgekom het nie die res kan weldra uitgesorteer word.

Stan Oberholster ·

Ek verlekker my nie oor n ander se ellende nie. Vir my is dit Sin City. Die Here het seker genoeg gehad van al die ongeregtigheid wat daar plaasvind. As ons Suid -Afrikaners nie terugkeer na die God van hul voorvaders nie, wag nog groter ellende op ons land.

Daan ·

Netso Stan,God is nog steeds die God wat Sodom en Gomorra verwoes het.Hy haat die sonde maar is lief vir elke sondaar.In ‘n tyd soos hierdie het Hy sy Seun gestuur om vir almal se sondes te betaal aan die kruis.Roep Hom aan en Hy sal jou red.

Marius ·

Ek het grootgeword op Boshoek, oppad Sun City toe en was vir die 1e keer in my lewe in 2015 by Sun City self, alhoewel ek baie keer deur die berge na Northam en Thabazimbi gery het voor Sun City bestaan het. Tydens laerskool was daar een keer op Boshoek ‘n verwoestende halestorm gepaardgaande met ‘n tornado wat baie groot skade aangerig het en by my oorlede ouers se huis het glassplinters letterlik in die eetkamer se houtdeur vasgesit so groot was die intensiteit van die storm. Wat by Sun City afgespeel het, is nie onbekend nie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.