‘Sunshine Girls’ lag laaste teen Proteas

Kaptein Bongi Msomi soek ondersteuning in die Wêreldbeker-wedstryd teen Jamaika. (Foto: Twitter/Netball SA)

ʼn Swak vertoning in die derde kwart van hul Wêreldbeker-wedstryd het beteken dat die Proteas met 67–49 teen Jamaika in Kaapstad vasgeval het.

Die Suid-Afrikaners het toe 20 doele afgestaan, terwyl hulle self net drie doele kon aanteken.

Jahniele Fowler, wat 1,98 m in haar sokkies staan, het ʼn reusevertoning vir Jamaika in die doelsirkel gelewer en sy het moeiteloos die een doel ná die ander gesink.

Karla Pretorius is later na verdedigende vleuel geskuif in ʼn oënskynlike poging om te verhoed dat die bal by Fowler uitkom.

Maar in die derde kwart het die Jamaika-kaptein hopeloos te veel skietgoed vir die tuisspan gehad, terwyl Shamera Sterling en Jodi-Ann Ward die Protea-aanvalle gefnuik het.

Ondanks die rampspoedige vertoning in die voorlaaste kwart het die tuisspan glad nie te sleg gespeel nie.

Lenize Potgieter het as doel met akkurate spel vorendag gekom maar sy het gesukkel om haar stempel in die derde kwart af te druk, terwyl Nichole Taljaard vir ʼn welkome adrenalien-inspuiting gesorg het toe sy haar verskyning op die baan gemaak het.

Dalk verdien Ine-Marí Venter ook meer gereelde speelkans.

ʼn Mens kan egter sien dat die Sunshine Girls die Statebond-silwermedaljewenners is. Hulle is klinies en hulle is goed genoeg om die belangrike oomblikke van ʼn wedstryd te wen.

Daarteenoor sal die Proteas beter teen die sterker spanne moet speel om hul podiumdroom ʼn werklikheid te maak. Hulle kan nie net op hul ondersteuners se entoesiastiese aanmoediging steun om die wa deur die drif te trek nie.

Protea-span: Lenize Potgieter (doel), Elmeré van der Berg (hulpdoel), Bongi Msomi (kaptein en aanvallende vleuel), Khanyisa Chawane (senter), Jeanté Strydom (verdedigende vleuel), Karla Pretorius (hulpverdediger), Phumza Maweni (verdediger). Plaasvervangers: Ine-Marí Venter, Nichole Taljaard, Izette Griesel, Shadine van der Merwe en Nichola Smith.

  • Opbreek van kwarte:

Eerste kwart: 16–12 vir Jamaika

Tweede kwart: 16–14 vir Jamaika

Derde kwart 20–3 vir Jamaika

Vierde kwart: 20–15 vir Suid-Afrika

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

Die D en HD van Jamaika was dodelik, veral die HD is baie goed en met die D se lengte is hulle baie sterk in die doel area. Jamaika se V en HV was ook uitstaande. Ons het Taljaard se spel baie geniet en sy het die verdediging oopgetrek en het ZA se D in die baie gehelp. Suid-Afrika moet nou net baie verbeter in die middelveld waar meer akkurate balle gegooi word en baie kere is daaar erg gebondel. Die skip het gesink aan die eenkant. Suid-Afrika het goed gespeel, hulle het baie potensiaal en moet nog net die volgende stappie maak op deel te word van die bestes.

Ronél ·

Die afrigter moes in die 3de kwart al veranderings gemaak het……….1 of 2 swaeltjies (spelers) maak nie ‘n somer (wen) nie

piet ·

Kyk net hoe atleties lyk daai WD van Jamaika op die foto. Geen wonder hulle het die Protea-spannetjie van hulle voete af gespeel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.