Swaar reën op pad

Argieffoto (Foto: Megan Swart, Maroela Media)

Suid-Afrikaners moet vandeesweek die sambrele gereed hou aangesien swaar reënval oor groot dele van die land verwag word.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel dat wydverspreide reën en donderbuie in die komende paar dae oor die sentrale en oostelike dele van die land gaan voorkom.

Dit sal na verwagting Sondag vanaf Richardsbaai al langs die kus tot by Kaapstad reën, terwyl gebiede soos Upington en De Aar in die Noord-Kaap, asook Thabazimbi in Noordwes en Polokwane in Limpopo ʼn 30%-kans op reën het.

Volgens die weerdiens het Bloemfontein, Bethlehem en Pietermaritzburg Sondag ʼn 60%-kans op reën.

Dié erge reën sal na verwagting Maandag en Dinsdag voortduur wanneer dié gebiede ʼn 80%-kans op reën het.

Benewens die gebiede wat ʼn 80%-kans op reën het, sal die res van die land steeds warm tot uiterste temperature te midde die reënbuie ervaar.

Die gure weerstoestande het reeds 40 lewens in KwaZulu-Natal geëis en talle dakloos gelaat.

Die provinsie se departement van samewerkende regering en tradisionele sake sê twee plaaswerkers is dood toe hulle in Bergville deur weerlig getref is. Sowat 50 mense is ook deur die weerlig beseer, en nog vier mense is na ʼn hospitaal geneem waar hulle tans herstel.

Hoewel die weerdiens in hierdie stadium geen weerwaarskuwings uitgereik het nie, het hy daarop gewys dat verskeie dele van die land donderstorms kan verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.