‘Swak vertalings’ laat leerders kopkrap met wiskundige geletterdheid

skole matrieks matriekeksamen

(Argieffoto: Maroela Media)

Die matriekleerders wat heelweek met hul neus in die boeke gesit het, het Vrydag lag-lag deur hul eerste wiskundevraestel gewerk. Maar geen mate van voorbereiding sou die matriekleerders kon help om deur die “swak vertalings” in die vraestel vir wiskundige geletterdheid te worstel nie.

Volgens onderwysers met wie Maroela Media gepraat het, was die vraestel vir wiskundige geletterdheid op standaard en goed gebalanseerd.

“Leerders moes hier en daar kopkrap, maar daar was oor die algemeen ʼn goeie balans,” sê ʼn onderwyser by ʼn skool wat verbonde is aan die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Dit het egter nie vergoed vir die feit dat direkte vertalings die matrieks deurmekaar gemaak het nie. Onderwysers is dit eens dat die vertaling van die vraestel van Engels na Afrikaans “nie baie goed was nie”.

“Daar was soms direkte vertalings van Engels wat die leerders nie altyd verstaan het nie, en dit het ʼn wesenlike invloed gehad op hoe hulle die vrae beantwoord.”

Die leerders wat die eerste wiskundevraestel geskryf het, het egter minder probleme ondervind.

“Dit was ʼn baie lekker vraestel,” sê Karlize Bacher, ʼn matriekleerder aan die Hoërskool Pietersburg in Polokwane.

“Daar was ʼn paar moeilike vrae, maar niks wat ek nie kon doen nie.”

Volgens Bacher was daar geen deel van die vraestel wat haar onkant betrap het nie en sy verwag om goeie punte te behaal.

Die wiskundevraestel het uit 150 punte bestaan en sowat drie uur is toegestaan om dit te voltooi – wat volgens leerders meer as genoeg tyd was.

Die eerste vraestel in tegniese wiskunde was volgens onderwysers ook op standaard en goed gebalanseerd. Die doel van tegniese wiskunde is om wiskundige konsepte toe te pas op die tegniese veld eerder as om met abstrakte idees te werk.

ʼn Onderwyser by ʼn skool in Bloemfontein wat verbonde is aan die SOS sê 76% van die vraestel vir tegniese wiskunde het vlak 1- en vlak 2-vrae bevat. Dit is vrae wat leerders se kennis toets en vereis dat hulle eenvoudige berekeninge met ʼn paar stappe doen.

Die res van die vraestel het uit vlak 3- en vlak 4-vrae bestaan. Dié vrae vereis dat leerders komplekse berekeninge doen. Die oplossing tot ʼn probleem is ook dikwels nie voor die hand liggend nie, wat beteken dat leerders die probleem moet uitredeneer.

“Die meeste van die probleemoplossingvrae was nie buitengewoon moeilik nie,” sê die onderwyser.

“Die vraestel het ook ʼn goeie aantal praktiese toepassingsvrae bevat wat relevant is vir tegniese velde. Waar nodig, is bykomende formules gegee as dit nie reeds op die formuleblad verskyn het nie.”

Die matriekleerders het nou heelnaweek om voor te berei vir die tweede wiskundevraestel wat Maandag afgelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Goldy ·

Hoe lank kan mense in die land vat om nuwe tegnologie aan te neem. ChatGpt se nuutste is nou al beter met vertaling as meeste vertalers wat ons al gebruik het, en dit is veral goed om tussen Afrikaans en Engels te vertaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.