Swart Vrydag: Verkope kan met 30% toeneem

swart-vrydag-blackfriday

Koop só slim hierdie Swart Vrydag. Foto: Basimmiller/Pixabay.com

Suid-Afrikaanse ondernemings is reeds in rep en roer om voor te berei vir vanjaar se Swart Vrydag- winskopies. Navorsing deur Black Friday Global toon dat belangstellings in aanbiedings op dié dag oor die laaste vyf jaar met 9 900% in die land gegroei het.

Verkope op dié maniese dag, wat vanjaar op 29 November plaasvind, word ook na raming verwag om met 30% te styg vergeleke met verlede jaar, sê PayGate, die grootste aanlyn betalingsdiensverskaffer.

Ondernemings in Suid-Afrika het die neiging, soos baie ander lande, ʼn paar jaar terug aangeneem om sy verkope ʼn hupstoot te gee. Verskeie ekonome het egter al uitgewys dat dié verkoopsdag, gepaardgaande met Kuber Maandag, die land se ekonomiese transkasiedata versteur.

Swart Vrydag is die informele naam wat verbruikers in die VSA vir die dag ná hulle Dankseggingsdagviering gegee het, wanneer pryse met tot 90% op goedere gesny word. Dit word ook beskou as die afskop van die feestydperk se inkopieseisoen en ontaard dikwels in wilde inkopietogte, met verbruikers wat probeer om soveel moontlik winskopies los te slaan voor die voorraad opraak.

PayGate se syfers het verder getoon dat die aantal verkope op Swart Vrydag elke jaar verdubbel het oor die laaste drie jaar. Die betalingsklaringsonderneming Bankserv Africa het ook ʼn 55% groei in transaksies in 2018 waargeneem.

PayGate het verder genoem dat Suid-Afrikaanse groei in e-handel ook versterk het. “Dit het op ʼn redelike lae vlak begin, maar 64% van die transaksies wat verlede jaar op Swart Vrydag verwerk is, is aanlyn gedoen.” Vanjaar verwag die instansie dat dit tot soveel as 70% kan groei.

Waak teen winskopies

Die Suid-Afrikaanse Spaarinstituut (Sasi) het verbruikers gemaan om nie blindelings die winkels in te vaar en onnodige items te koop of roekeloos te bestee nie.

“Dit is beter om jou geld te gebruik om skuld af te betaal en die res te belê, eerder as om dit te mors op televisiestelle, ontwerpersklere of ʼn deposito op ʼn nuwe voertuig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AB ·

Gestamp en stoot net om voor in die bondel te wees sodra die winkel se deure open. Jy is gelukkig as jy daar uit kom met net ‘n blou oog en ‘n paar tande minder! En dit net om R10 te spaar op ‘n blik Ricoffy of wasgoedseep! Swart Vrydag is nie vir my nie dankie!

Judge Dredd ·

Ek het laasjaar weggebly – as hulle verwag verkope sal hierdie jaar met 30% toenneem – dan sal ek beslis hierdie jaar ook wegbly. Nie lus vir die maligheid(desperaatheid).

Vintcent ·

Hierdié is net n bewys hoeveel wins handelaars maak. Hul sal NIKS verkoop teen aankoopprys nie. Miskien een item in hele winkel, maar die res se pryse word iewers gelaai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.