Swerwende olifante naby Mosambiek hervestig

Die trop het ‘n reis van sowat 800 km afgelê wat hulle deur Mosambiek, eSwatini en eindelik tot by die Krugerwildtuin in Suid-Afrika geneem het. (Foto: Elephants Alive/Instagram)

Vyf van die 11 olifantbulle wat die afgelope paar dae sowat 800 km afgelê het om eindelik voor ʼn grensdraad van die Krugerwildtuin te staan te kom, is gevang en in die Shingwedzi-gebied, naby die Mosambiekse grens, vrygelaat.

Die trop jong bulle het sowat ʼn maand gelede in Mosambiek in die pad geval, al langs die eSwatini-grens (voorheen Swaziland) afgestap en deur Mpumalanga eindelik by ʼn suidelike wildtuingrens beland, het die organisasie Elephants Alive, wat die trop se bewegings die afgelope ruk op sosiale media gedeel het, gesê.

In eSwatini het die trop aan suikerriet weggelê – sonder dat enigiemand hulle verjaag het – en in Mosambiek het hulle ook sonder voorval honderde kilometers afgelê. Die leier van die trop, na wie die organisasie as Trailblazer verwys, het in Maart vanjaar ʼn opsporingstoestel in Mosambiek gekry en hul roete is op dié manier gevolg.

“Nadat hulle oor drie lande gereis en meer as 700 km afgelê het om eindelik by Suid-Afrika se bekendste nasionale park te eindig, is ons hoop dat hul welstand voorkeur sal geniet en dat hierdie reis as besonders erken sal word,” het die organisasie ʼn dag gelede op Instagram geskryf.

Kort nadat hulle in Suid-Afrika aangekom het, is daar egter glo op hulle losgebrand en minstens een van die bulle is gewond, sê Elephants Alive. Die trop het in kleiner groepies verdeel terwyl hulle al langs die draad gedwaal het in ʼn poging om toegang tot die Krugerwildtuin te verkry.

(Skermgreep: Elephants Alive/Instagram)

SANParke en die Mpumalanga-toerisme-en-parkagentskap (MTPA) het Dinsdag in ʼn gesamentlike verklaring gesê vyf van die olifante is vroeër vandag met die hulp van SANParke se Veeartswildlewedienstespan en veldwagterdienste suksesvol verskuif. Hulpbronne soos ʼn vastevlerkvliegtuig, ʼn helikopter, wildvang-vragmotors, ʼn laaiblad en ander toerusting is beskikbaar gestel om te verseker die olifante word sonder voorval aangekeer.

Die bul het ‘n opsporingstoestel waarmee die trop se reis gevolg kon word. (Foto: Elephants Alive/Instagram)

“Die samewerking tussen hierdie twee bewaringsowerhede het van die operasie ʼn sukses gemaak. Ons is verheug dat die olifante gevang en veilig hervestig is. Ons wildlewebestuurspan gaan voort om die situasie dop te hou en op die uitkyk te wees vir die oorblywende olifante wat vermoedelik saam met die paringstroppe is,” sê Mduduzi Vilakazi, waarnemende hoof van die MTPA.

Gareth Coleman, bestuurshoof van die Krugerwildtuin, het die operasie as “moeilik en stresvol” bestempel, maar gesê hulle is verheug dat die diere weg van gemeenskappe hervestig is.

“Ons doen ʼn beroep op gemeenskappe om amptenare in kennis te stel wanneer hulle diere buite beskermde gebiede sien, asook om weg te bly van die diere en bewaringsowerhede die ruimte te gun om hul pligte ongehinderd ten bate van die veiligheid van mens en dier uit te voer,” sê hy.

Volgens Elephants Alive is een van die bulle van kant gemaak.

In eSwatini het die olifante sonder voorval aan suikerriet geëet, voor hulle verder gestap het. (Foto: Elephants Alive/Instagram)

Die organisasie het die trop se reis as “verstommend” bestempel en sê dit benadruk die belang van beskermde oorgrensgebiede. Indien die diere egter op bewoonde of bewerkte grond tussen mense beland, ontstaan die moontlikheid vir konflik tussen mens en dier. Die organisasie sê elke land het die diere anders behandel en hy het vantevore ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om aan hulle “dieselfde mate van vryheid en waardigheid te gee as ons bure van eSwatini en Mosambiek”.

Honderde mense het die afgelope ruk die trop se vordering gevolg en Elephants Alive het diegene bedank wat die bulle op hul reis gehelp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

SO bly hulle is nou veilig! Wonder wat gebeur het dat hierdie olifante so ver gereis het. Dalk nie genoeg kos beskikbaar waar hulle gevestig was nie.

Johan ·

Assof die wiltuin nie genoeg van die goed het nie…mense darem. Dit moet heet “Die Kruger National Oliefant en niks anders park”.

Johan ·

Ons is hul enigste natuurlike veihande en mense jag dit al vir eeue, nou wil die slim mense kom en sê niemand mag dit skiet nie en dit sal n natuurlike populasie ewewig herstel. Sien jul waar is die probleem, hulle verwyder die organisme (ons) wat hul getalle beheer. Hahaha, mense is so verwyder van die natuur dat hul nie agterkom dat ons ook n rol het om te speel met die balans nie. Baie arrogant van mense wat hulself uitgee as natuur kenners. Die wiltuin is totaal oorbevolk, maak nie saak hoe die “slim” mense daaroor redeneer nie. Hulle moet dringend duisende verwyder uit die park.

Cherokee ·

Byna 2000 kilos heen en weer! En hulle het dit kaalvoet gedoen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.