Taai regter in pekel oor POF-uitsprake  

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Ashraf Hendricks / GroundUp)

Regter Denise Fisher van die Johannesburgse hooggeregshof se reputasie loop haar vooruit: Sy is ʼn taai regter wat sterk standpunt inneem in litigasiesake waarby die Padongelukkefonds (POF) betrokke is, en hou enige tekens van wanadministrasie of moontlike korrupsie fyn dop.

Fisher word egter nou deur ʼn klag van wangedrag in die gesig gestaar nadat die regterlike gedragskomitee bevind het dat sy dalk haar magte oorskry het.

Die betrokke sake waarmee die klag verband hou, is in 2021 deur Fisher aangehoor.

Albei sake het gegaan oor eise teen die POF – een deur Marilyn Doris Taylor en die ander deur Hlengani Victor Mathonsi. Taylor en Mathonsi is albei deur die persoonlike beseringsprokureurs De Broglio Incorporated verteenwoordig.

In die Taylor-aangeleentheid het haar prokureurs én die POF-prokureurs aangevoer dat die POF vir R1,3 miljoen geskik het. Fisher is gevolglik gevra om die saak van die hofrol te verwyder.

In die Mathonsi-aangeleentheid het die prokureurs Fisher gevra om ʼn ooreengekome skikking ten bedrae van R1,75 miljoen af ​​te teken.

Sy het albei versoeke geweier.

Fisher het uiteindelik kommentaar gelewer dat die POF bankrot was en het bevindings van onbehoorlikheid gemaak teen diegene wat by die twee sake betrokke was, insluitend die prokureurs, mediese kundiges en die aktuaris.

Sy het almal na hul onderskeie professionele liggame verwys en beslis dat ʼn afskrif van haar uitspraak aan die POF, die minister van vervoer en die nasionale direkteur van openbare vervolging gelewer word.

Die betrokkenes het teen die beslissing en bevindings geappelleer. Die appèlhof het in 2023 in dié partye se guns beslis en regter Fisher se bevele tersyde gestel.

In ʼn eenparige uitspraak het regter Christiaan van der Merwe (wat vir die hof geskryf het) gesê dat daar nie met Fisher se “bedryf” fout gevind kan word nie, maar dat nie een van die bevindings wat sy gemaak het binne haar magte was nie.

“Boonop is hierdie bevindings gemaak sonder enige toelaatbare bewyse. Die bevindinge ten opsigte van die lewensvatbaarheid van die POF is hoofsaaklik gebaseer op ʼn beëdigde verklaring van die waarnemende uitvoerende hoof van die POF in ʼn ander saak, en die POF se jaarverslag van 2019,” lui die uitspraak.

Die bevindinge ten opsigte van die skikkingsooreenkomste en die gedrag van die geaffekteerde persone is volgens die appèlhof op die regter se beoordeling van feite en omstandighede van ander sake gebaseer, asook die pleitstukke en deskundige verslae in hoflêers. Alles wat volgens uitgemaakte reg nie as bewyse voor ʼn hof kan dien nie.

“Hierdie onoordeelkundige oortreding moet ten sterkste veroordeel word.”

Van der Merwe het voorts gesê waar wanbesteding van openbare fondse behoorlik voor ʼn hof gedaag word, moet dit hanteer word. ʼn Hof het egter geen algemene plig of bevoegdheid gehad om toesig oor die besteding van openbare fondse uit te oefen nie, aldus die uitspraak.

“Wanneer die partye tot litigasie bevestig dat hulle ʼn ooreenkoms bereik het, het ʼn hof geen bevoegdheid of jurisdiksie om ʼn ondersoek te doen of die ooreenkoms geregverdig was óf geldig gesluit is nie,” het Van der Merwe gesê.

De Broglio Ing. het ’n klag in dié verband teen Fisher by die regterlike dienstekommissie ingedien.

Dit is aanvanklik deur Dunstan Mlambo, die Gautengse regterpresident, hanteer, wat dit van die hand gewys het op grond daarvan dat dit uitsluitlik verband hou met die meriete van ʼn uitspraak of bevel.

Met ander woorde kan ʼn gegriefde litigant nie oor ‘n regter kla net omdat hulle nie van die uitspraak hou nie.

Fisher het ‘regte vertrap’

De Broglio het egter teen hierdie besluit geappelleer en gesê die klag was dat sy “die partye se regte vertrap het en die basiese beginsel van audi alteram partem [om na die anderkant te luister] geïgnoreer het”.

Die appèl het voor die regterlike gedragskomitee (JCC) gedien, wat uit adjunkhoofregter Mandisa Maya en regters Chris Jafta, Halima Saldulker en Nolwazi Mabindla-Boqwana bestaan het.

In hul uitspraak het hulle opgemerk dat Fisher “ongunstige en verdoemende bevindings” teen prokureurs en hul mediese deskundige getuies gemaak het, wat tot die gevolgtrekking gekom het dat die prokureurs uiters ontoereikend, korrup en oneerlik was.

“Hul deskundige getuie, wat ’n aktuaris is, is ook nie gespaar nie. Daardie deskundige is daarvan beskuldig dat hy sy berekeninge op valse aannames gemaak het en ʼn verdraaide verslag gelewer het,” het die JCC gesê.

“Aangesien hulle dit nie sien kom het nie, was die geaffekteerde prokureurs en mediese getuies onkant gevang deur die skerp oordeel en bevindings wat teen hulle gemaak is, tesame met die daaropvolgende verwysings na hul onderskeie professionele liggame en die NVG.”

Die JCC het verder benadruk dat die appèlhof dié verwysings tersyde gestel het en bevind dat geen bevindings op bewyse geskoei is nie.

Die geregtelike gedragskode verklaar dat ʼn regter, voordat hy of sy negatiefoor ʼn regspraktisyn kommentaar lewer, daardie persoon die geleentheid moet gee om die bewerings te hanteer en om te verseker dat verhore regverdig is.

De Broglio het in sy klag spesifiek verwys na ʼn oortreding van albei.

“Op sigwaarde kan hierdie bewerings die bewering ondersteun dat regter Fisher wangedrag gepleeg en die kode oortree het,” het die JCC gesê.

“Terwyl dit nie tot die vlak van growwe wangedrag styg nie, regverdig dit verdere ondersoek.”

Die JCC sê Fisher het ʼn “saak om te beantwoord” en het ʼn ondersoek ingevolge art. 17 van die Wet op die Regterlike Dienstekommissie gelas wat ernstige wangedrag reguleer, maar iemand nie in ʼn staat van beskuldiging plaas nie.

  • Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Martie Smartie ·

Dis puik. Regters wat hul magte oorskry en onbewese uitsprake maak, moet kortgevat word, soos geagte me Fisher. Laat my dink aan die regter wat Oscar Pistorius verkeerdelik skuldig bevind het omdat sy nie die reg verstaan het nie. Netso is hierdie regter Fisher nou deur seniors bevind dat sy nie weet hoe om bevindings te grond op feite nie. Regters is nie bo die reg verhewe nie. Puik aan die prokureurs firma!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.