Taakspan sal swaelreuk in Noordwes, Gauteng ondersoek

Argieffoto (Foto: Emilian Robert Vicol/Pixabay)

ʼn Taakspan is aangestel om klagtes te ondersoek oor ʼn slegte reuk oor dele van Gauteng en Noordwes die afgelope week.

Albi Modise, woordvoerder van die departement van bosbou, visserye en die omgewing, sê die taakspan bestaan uit omgewing- en luggehaltebeamptes van die departement. Die provinsiale departemente in Mpumalanga, Gauteng, Noordwes en die Vrystaat sal ook ʼn proaktiewe langtermyn program saamstel om die bestuur van swaeldioksied en waterstofsulfied-uitlatingsbronne te verbeter bo en behalwe terugvoer uit openbare klagtes.

“Die vergadering op 9 Junie het formeel ʼn ondersoek na die oorsprong van die swaelreuk van stapel gestuur. Die reuk kan vermoedelik toegeskryf word aan ʼn kombinasie van bogemiddelde vlakke van swaeldioksied of waterstofsulfied in die lug.”

Tydens Februarie 2021 is soortgelyke swaelreuke oor Mpumalanga en Gauteng opgemerk. “Ondersoeke deur die departement en atmosferiese uitlatingslisensiëringsowerhede in die twee provinsies het gefokus op Sasol Secunda-bedrywighede. Dié fasiliteite is bekend daarvoor dat hulle ʼn beduidende bydrae lewer tot die uitlating van swaeldioksied en waterstofsulfied. Hierdie ondersoeke was egter onbeslissend en geen verdere stappe kon gedoen word nie.”

Ná klagtes die afgelope week oor die sterk swaelreuk oor Gauteng en dele van Noordwes het beamptes onderneem om dadelik die moontlike bron en oorsaak van die reuk te ondersoek en ʼn gedetailleerde verslag oor die saak teen die einde van volgende week in te dien.

“Die taakspan sal ook moontlike toestande ondersoek wat die afgelope maand deur uitlatingsgas-lisensiehouers ervaar of aangemeld is wat die moontlikheid het om groot hoeveelhede swaeldioksied of waterstofsulfied in die atmosfeer vry te stel. Moniteringsberigte oor die stand van luggehalte in die streek die afgelope maand sal bestudeer word, met ʼn fokus op swaeldioksied en waterstofsulfied. Waarnemings deur die Suid-Afrikaanse Luggehalte-inligtingstelsel (SAAQIS) wys dat die swaeldioksiedvlakke hoër was, maar steeds voldoen het aan standaarde in Gauteng.”

Modise sê voorlopige uitslae wys egter beduidende verhoogde vlakke van waterstofsulfied rondom die Irene-moniteringstasie in Centurion op 7 Junie 2022. Moontlike bronne wat ʼn invloed kan hê op die vlakke sal geïdentifiseer word deur ʼn meteorologiese assessering.

Die taakspan sal ook moontlike bronne ondersoek deur inspeksies en ʼn nakomingsassessering van uitlaatgasverslae teen atmosferiese uitlatingslisensievereistes. “Waar nienakoming geïdentifiseer word, sal stappe gedoen word.”

Die beamptes sal vir die lang termyn ook ʼn gedetailleerde assessering doen van waterstofsulfiedbronne in die vier provinsies. Atmosferiese uitlatingslisensiehouers, afvalwaterbehandelingsfasiliteite en vullisterreine sal geprioritiseer word omdat dit gewoonlik die grootste bydraers is. Vir die atmosferiese uitlatingslisensiehouers sal uitlatingsvermindering en bestuursplanne saamgestel word om die monitering en bestuur van waterstofsulfied te verbeter om die risiko van voortgesette besoedelingsepisodes te verminder.

“Die langtermynplanne sal die implementering van luggehaltebeheerplanne in prioriteitsgebiede versterk om die vermindering van lugbesoedeling te verseker sodra die Regulasies oor Prioriteitsgebiede van krag word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.