Taliban-hoë, talle ander sterf in aanval op hospitaal

‘n Taliban-vegter staan wag by die Sardar Daud Khan-hospitaal in Kaboel. (Foto: Wakil Kohsar / AFP)

Minstens 19 mense is dood en nog 50 gewond in ʼn aanval op ʼn militêre hospitaal in die Afghaanse hoofstad, Kaboel.

ʼn Militêre bevelvoerder van die Taliban was een van dié wat omgekom het toe sy vegters Dinsdag op die aanval gereageer het.

Die Islamitiese Staat (Isis) het reeds verantwoordelikheid aanvaar vir die geweer-en-bomaanval.

Die Islamitiese Staat-Khorasan (IS-K) het in ʼn verklaring op sy Telegram-platform gesê “vyf Isis-groepvegters het gelyktydige gekoördineerde aanvalle” op die Sardar Daud Khan-hospitaal uitgevoer.

“Die Isis-opstandelinge wou burgerlikes, dokters en pasiënte in die hospitaal teiken,” meen Zabiullah Mujahid, ’n woordvoerder van die Taliban.

Luidens inligting het ʼn selfmoordbomaanvaller hom Dinsdag naby die hospitaal se ingang opgeblaas voordat gewapende mans die perseel binnegedring en vuurwapens afgevuur het.

“Negentien lyke en sowat 50 gewonde mense is na ander hospitale in Kaboel geneem,” het ʼn amptenaar van die ministerie van gesondheid ná die aanval aan AFP gesê.

Mujahid hou vol minder mense is dood, maar het bevestig dat twee Taliban-vegters, twee vroue en ʼn kind buite die hospitaal gesterf het.

Hamdullah Mokhlis, ʼn hooggeplaaste lid van die geharde Haqqani-netwerk en ʼn offisier in die Badri- spesialemagtekorps, is dood nadat hy hom na die toneel gehaas het.

Mokhlis is nou die mees senior figuur om vermoor te word sedert die Taliban beheer oor Kaboel geneem het.

“Ons het hom probeer keer, maar hy het net gelag. Later het ons uitgevind dat hy gemartel is toe hy buite die hospitaal van aangesig tot aangesig voor een van die aanvallers te staan gekom het,” het ʼn woordvoerder van die Taliban gesê.

Ooggetuies het intussen angswekkende tonele van terreur aan AFP beskryf.

’n Vrou wat in die hospitaal vasgekeer was toe die aanval begin het, het vertel hoe sy en haar vriendin “gevoel het ons gaan sterf en dat dit die einde is”.

“Daar was ’n ontploffing by die deur,” het Rowana Dawari, ’n digter en dosent, aan AFP gesê.

“Daesh [Isis] het gekom en begin skiet, ons was vas. Ons het geweerskote gehoor, glas wat breek. Ons het onsself in ʼn badkamer toegesluit.”

ʼn 28-jarige skoonmaker by die hospitaal het ʼn bejaarde en swaksiende pasiënt in ʼn rolstoel van die toneel weggestoot.

“Die ontploffing het plaasgevind en na ʼn ruk het mense begin skree ‘Daesh is hier’. Ons het baie geweerskote gehoor.”

Daesh is die Arabiese afkorting vir Isis.

“Ons was op die sewende verdieping en het onsself in ʼn kamer toegesluit. Daar was oral beseerde mense en gebreekte glas. Hulle was spesiale magte, professionele persone, hulle het die deur gebreek en ingekom.”

Hiér het hulle weggekruip totdat Taliban-vegters hulle kom red het.

Volgens Mujahid het die Taliban-magte die aanval binne 15 minute afgeweer nadat spesiale magte uit ’n helikopter tot op die hospitaal se dak laat sak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Heinrich ·

En toe kom hulle met n skok agter daar wag toe nou nie sewe maagde aan die ander kant nie

Swartskaap ·

75 maagde, is wat hulle glo. En vir n ewigheid, is dit maar bitter min.

Swartskaap ·

Bokwagters met AK’s en bomme. Baie gevaarlike kombinasie.

Hennie Biebouw ·

Uiteraard gee mens nie om as hul mekaar uitmoor nie. Probleem is net dat hul hierdie gedrag ook uitbrei na die Westerse beskawing.

Danie ·

Dankie Joe Biden, maar hy is seker weer besig om te sit en slaap en weet nie eers van die gevolge van sy aksie

Shakespeare ·

Die Taliban, Isis en die ANC/EFF het nogal baie ooreenstemmende punte.

JohanR ·

Nou is dit Taliban teen ISIS……die volgende maande en jare gaan dit moelik in daai plek gaan met terroris teen terroris, en almal Muslims.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.