Talle beseer toe branders deur eetplekke stroom

Die restaurant op op die Marine-strand is verwoes deur branders. (Foto: Mi7 National Group/Facebook)

Talle gaste wat Sondag by ʼn restaurant aan KwaZulu-Natalse kus geëet het, het vreesbevange probeer wegkom toe ʼn reusegolf die eetplek oorstroom het.

Die brander het omstreeks 16:00 die Mariners-restaurant op die Marine-strand getref en almal in die eetplek na die agterkant van die gebou gestoot. Toe die water terugtrek, is een persoon deur die stroom meegesleur.

“Die vinnige reaksie van lewensredders het beteken dat die persoon uit die see gered is,” sê die nooddiensoperateur KZN Private Ambulance.

Volgens ooggetuies het die stygende water ná die eerste verwoestende brander weer deur die restaurant gespoel.

Paramedici het gaste later vir beserings ondersoek nadat die water teruggesak het.

“Altesame vyf mense het ernstige beserings opgedoen. Die pasiënte is op die toneel behandel en gestabiliseer voordat hulle na ʼn hospitaal geneem is.”

Die veiligheid- en nooddiensoperateur Mi7 National Group, wat ook op die toneel was, sê nog twee mense het geringe beserings opgedoen en hospitaalbehandeling was nie nodig nie.

Die nooddiensonderneming het mense gemaan om strande te vermy totdat dit weer veilig is.

ʼn Restaurant in Kalkbaai in die Kaapse Skiereiland het Sondag ook deurgeloop toe ʼn brander oor ʼn getypoel gebars en deur die restaurant gestroom het.

Charlotte Powell, woordvoerder van die Stad Kaapstad se rampbestuursentrum, sê een persoon by die Brass Bell-restaurant is in die voorval beseer.

“Daar is skade aan die sitplekgedeelte van die restaurant, vensters is stukkend en die getypoel is vol sand en klippe,” sê sy.

“Die restaurant is gedeeltelik gesluit terwyl personeel besig is met opruimingswerk.”

SANParke sê fratsgolwe het ook die Tsitsikamma Nasionale Park getref. Dit het tot wydverspreide skade gelei en stappers moes noodgedwonge uit ʼn gedeelte van die Tuinroete na veiligheid geneem word.

Rey Thakhuli, woordvoerder van SANParke, sê dele van die tydelike restaurantstruktuur in die Tsitsikamma-park is deur die seestroom meegesleur, of het ander ernstige skade opgedoen. Die restaurant is intussen gesluit.

Stappers op die Otter-staproete is ook op aangewese ontsnappingsroetes na veiligheid gelei om moontlike fratsgolwe te vermy.

Die Waterval-staproete en die Stormsriviermond-roete is intussen tydelik gesluit om die veiligheid van stappers te verseker. Die Stormsriviermond-ruskamp bly egter oop vir die publiek.

Dele van Wildernis en Knysna is ook deur die onstuimige toestande geraak, maar Thakhuli sê infrastruktuur in hierdie dele van die nasionale park het minimale skade.

“Die parkbestuur is besig met ʼn skadebepaling sodat die bedrywighede so gou moontlik hervat kan word,” sê hy.

Die Nature’s Valley-ruskamp is intussen gesluit nadat dit ook deur fratsgolwe getref is. Die kamp sal heropen word sodra dit veilig is.

Die jongste voorvalle is onder die talle wat die afgelope naweek aan die kus weens die springgety veroorsaak is.

ʼn Bejaarde vrou is Saterdag by Leentjiesklip in die Wildernis-omgewing dood toe sy vermoedelik deur ʼn fratsgolf tydens hooggety van haar voete af geslaan is.

Gevaarlike fratsgolwe het ook skade in onder meer Gqeberha (Port Elizabeth), Sandy Bay, Drieankerbaai, Gordonsbaai, Jongensfontein, Heroldsbaai en George aangerig.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Maandag nog ʼn waarskuwing uitgereik vir “verwoestende golwe” aan dele van die kus.

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing is uitgereik vir kusgebiede van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Die weerdiens sê onstuimige toestande word van Plettenbergbaai tot by Richardsbaai verwag.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het nog ʼn waarskuwing uitgereik. (Foto: Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Michael ·

Hierdie tipe golwe is nie fratse of onnatuurlik nie. Dis maar deel van die natuur. Die probleem is die huise en besighede wat so naby die water gebou word

Spotty ·

Ek glo geen arm persoon se huis of resturant het in die slag gebly nie.

domheks ·

Hulle word al ‘n paar jaar gewaarsku dat die see verder gaan opstoot! Net NATUUR!

Misky ·

Mens vergeet soms die krag van water en die natuur is geen mens se speelmaat nie.

TrueMan ·

Kyk. As ek ooit in my lewe dankbaar was ek bly nie naby die see nie, is dit nou

Manie ·

Dis nie die see se skuld nie, dis die mens se beheptheid om teen die see te wil woon en werk.

Karoo ·

Hierdie is geensins ‘n frats… daar was dae lank gewaarsku daarteen, mense is aagies… NRSI vra so mooi, bly weg maar nee, mense maak’ n uitstappie daarvan en dan verloor ‘ n bejaarde haar lewe daarvoor.

TrueMan ·

Gee vir my datums. Ek ken veral die tuinroete al meer as 50 jaar.

Dirk ·

27 August 1969, 12/26/2004, 08/21/2008. Sulke golwe is nie ongewoon nie. Maar hierdie gaan vermeeder en erger raak.

TrueMan ·

Eerste een Dwarskers bbos was hoogste golf 2.9m. Hierdie keer was golwe van tot sewe meter. hmmm

Hussin ·

Daar was ‘n blou maan, daarom was die spring gety erger as gewoonlik. Niks vreemd nie.

TrueMan ·

Maar as jy gemaklik voel daarmee om dit as “normaal” te sien, is jy welkom. Ek is al amper twee jaar uit my comfort zone. Want niks is meer normaal. Behalwe vir skin patches

bolletjie blom ·

Die restaurante moes nooit so naby aan die seevlak gebou het nie. Dit is seker lekker om so oor die wye oseaan uit te kyk maar ek hoor nou al lank dat die see plekke gaan oorstroom. Dit is net God se genade dat daar nie lewensverliese was nie.

TrueMan ·

Jy vergeet van die bejaarde dame en die 20000 in Libie. Maar ek neem aan hulle het daai bus gemis

Susan ·

Hierdie restaurant in Marina is nie so naby die see gebou nie. Wel in die 70’s & 80’s was dit wildernis. Die see nooit so vêr op gestoot nie.

Hussin ·

Dit is maar net ‘n spring gety. Regtig dit gebeur nog altyd en sal weer gebeur. Dit a.g.v. die bloumaan wat dit erger was. Maar regtig, ek het met die groot geword. Niks om te sien hier nie.

TrueMan ·

Ek het vir jare by die see gebly. Tuinroete. Gereeld springety gesien. EN nooit was dit so. Selfs een jaar n Vic baaie gewees om daarna te gaan kyk as kind.

Hussin ·

Nee, die blou maan maak al die verskil. Dit is tog algemene kennis. Dit is duidelik gemaak. Ek weet van die springety in Vic en Wildernis, daar het ons eenkeer ‘n rowe een gehad, maar nee nie so erg nie. Dit het nie gepaard gegaan met ‘n blou maan nie.

Hussin ·

Nou gaan almal weer wil op en af spring oor klimaat verandering. Ek was nog ‘n kind in die 70’s toe ons ‘n ys era sou beleef, ek was so opgewonde, toe kom die 80’s en acid reën gaan ons uitvat. In die 90’s was dit die osoonlaag wat verdwyn, die einde was naby. Toe kom globale verhitting. Dit was bietjie van ‘n flop, toe word dit vinnig en soomloos na klimaat verandering verander. Is dit warmer? Nee, lees op oor die hitte van die 1930, die ergste ooit in opgetekende geskiedenis, en hier is ons nog. Kalmeer. Al wat die goed ingemeen gehad het is belasting. Vir elke een was daar iets.

Hussin ·

Juis, dit word rekord temperature genoem, maar dit is nie. Maar elke dekade ‘n ander storie om mens op te werk.

Hussin ·

En laat ons nou nie al die ander twak wat dekade na dekade opgedis word vergeet nie…

Jacobus ·

Ek bly in Mosselbaai, hierdie was n saamloop van die spring gety en n baie sterk suide weste wind wat die water verder teen die kus vasgedruk het. Dit is hoekom sekere strande erger geraak was as ander.

Papsak ·

Ja huise besighede hopeloos te naby die strande gebou daarom as so iets gebeur sleur hy alles mee maar die Here praat met ons hy is ongelukkig daarom praat hy deur die natuur met ons sterkte daar met almal en alles

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.