Talle dolfyne dood op Namibiese strand

Wetenskaplikes krap kop oor die massastranding van 86 dolfyne op die strand van Hottentotsbaai (Foto: Lüderitz Marine Research via Faceboook)

Wetenskaplikes krap kop oor die massastranding van 86 dolfyne op die strand van Hottentotsbaai, sowat 60 km van die stad Lüderitz, in Namibië.

The Namibian het Woensdag berig die dolfyne is Vrydag deur die bemanningslede van ’n kreefboot dood op die strand gevind. Twee pasgebore en ’n paar jong dolfyne was onder dié wat dood op die strand aangetref is.

“Die massastranding was ’n baie hartseer prentjie,” het Kolette Grobler, senior mariene bioloog van Lüderitz se ministerie van visserye en mariene hulpbronne, gesê.

Grobler en vier ander navorsers het die toneel besoek. Sy sê die dolfyne was reeds aan’t ontbind toe hulle gevind is. “Hiënas, jakkalse en seemeeue het aan die karkasse begin voed,” het sy vertel.

Die dolfyne is eers ongeveer ’n week nadat hulle uitgespoel het, ontdek omrede die gebied baie geïsoleerd is.

Die massastranding was ’n baie hartseer prentjie (Foto: Lüderitz Marine Research via Facebook)

Grobler sê dit is ongewoon vir hierdie dolfyne om naby land te kom.

Lüderitz Marine Research het op sy Facebook-blad gesê daar is geen leidrade oor wat moontlik hierdie massastranding kon veroorsaak het nie, omdat die dolfyne reeds begin ontbind het. “Hulle het miskien om die een of ander rede gedisoriënteerd geraak en hulself per ongeluk gestrand. Of hulle het dalk saamgedrom om ʼn lid van hul groep wat in die moeilikheid was, te help,” lui dié Facebook-inskrywing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bloedhond ·

Lüderitz Marine Research dit maak geen sin om so onnosel antwoord te gee nie. Toets hulle vir gif en plastiek al is hulle besig om te ontbind!

Jaco ·

Vreemde naam wat dié baai het. Word sulke name dan nog in Namibië toegelaat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.