Talle in Noord-Kaap oorstelp ná sluise van hemel oopgaan

Johan Spamer het in trane uitgebars toe die eerste druppel reën op hom val (Foto: Manus Spamer, Facebook)

Inwoners en boere van die Noord-Kaap was oorstelp van vreugde toe die langverwagte reën die afgelope week op die gebied se dorre aarde uitgesak het.

Willem Symington, adjunkpresident van Agri Noord-Kaap, sê die provinsie gaan al vir die afgelope agt jaar onder erge droogte gebuk. Ná jare lange smeekgebede het die sluise van die hemel Dinsdag in sekere gebiede in die provinsie oopgegaan.

Volgens statistieke wat sommige landbouers van die Noord-Kaap versamel het, het die oostelike gebiede van die provinsie tussen Sondag en Woensdag goeie reën gekry. Gebiede in die Douglas-omgewing het tot 115 mm ontvang. In die Williston-gebied het sekere gedeeltes tot 59 mm reën ontvang en in die Fraserburg- en Victoria-Wes-gebied tot 35 mm reën. Die Petrusville- en Hopetown-gebiede het onderskeidelik tot 55 mm en 40 mm reën gehad.

Die Namakwaland en Boesmanland het egter steeds nie ʼn druppel reën gehad nie.

“Die reën het geïsoleerd en verspreid oor die provinsie voorgekom; sekere gedeeltes het goeie reën gekry, terwyl omliggende gebiede weer nie ʼn druppel ontvang het nie,” sê Symington.

Reënwater op Johan Spamer se plaas (Foto: Manus Spamer, Facebook)

“Ons hoop die reën kan na die gebiede wat nog nie goeie reën ontvang het nie, versprei, want hulle het dit net so broodnodig.”

Volgens Symington is die veld weens die jare lange droogte in ʼn baie swak toestand en sal daar bogemiddelde reën vir ʼn baie lang tydperk moet val voor die veld behoorlik herstel. Die lae veegetalle is ook vir talle boere ʼn groot bekommernis en volgens Symington gaan dit lank vat om hierdie kuddes weer op te bou.

“Die droogte se einde moet tog iewers begin en ons glo dit is nou.”

Symington sê die boere is oor die algemeen positief oor die reënvoorspellings vir die res van die seisoen. Weerkundiges het voorspel dat die Noord-Kaap se reënseisoen middel Desember sou begin en tot ongeveer einde Maart sal duur.

Volgens Carel van der Merwe (52), wat op ʼn plaas digby Van Wyksvlei en Carnarvon boer, het die reën vanjaar vroeg gekom.

Carel van der Merwe sê die reën op sy plaas bring hoop (Foto: Carel van der Merwe, Facebook)

“Ons sou vantevore gewoonlik eers teen einde Maart so ʼn paar reënspatsels kry,” vertel Van der Merwe.

Volgens hom het die gebied tussen Van Wyksvlei en Carnarvon Dinsdagaand tussen 25 mm en 40 mm reën ontvang. Dieselfde streek het verlede week tussen 30 mm en 70 mm ontvang.

Verlede jaar het die Van Wyksvlei-gebied vir die hele jaar slegs 11 mm reën ontvang. Dit is die eerste keer in ses jaar dat hierdie gebiede hierdie tyd van die jaar sulke goeie reën kry.

“Die reën bring groot verligting. As ons goeie opvolgreën gaan kry, is die kans goed dat die droogte gebreek gaan word.”

Van der Merwe sê hy is oortuig dat die verspreide buie wat hulle nou gekry het, anders is as die vorige vyf jaar se reën.

“As die weer opsteek, dan reën dit. Dit skets reeds ʼn meer kleurryke prentjie vir die res van die seisoen.”

Van der Merwe sê die vleispryse is ook vanjaar aansienlik beter teenoor verlede jaar se prys. Die prys per kilogram vir skaap het van verlede jaar se R58 p/kg na tussen R85 en R90 p/kg verbeter.

Dirk (72) en Vissie Langner (68) het Dinsdag op hul plaas, sowat 54 km buite Williston, buite in die reën gestaan sodat die druppels oor hulle kan spoel. Vir dié egpaar het die eerste reën in agt jaar lig in ʼn baie donker tyd gebring.

Dirk en Vissie Langner van Williston het gister reën gekry vir die eerste keer in agt jaar (Foto: Verskaf)

“Ons het in daardie stadium gevoel ons wil buite toe hardloop en net onsself skoonwas. Die bietjie reën het ons gemoedere gelig om die volgende dag weer die stryd moedig verder te stry,” vertel Vissie.

Dié omgewing het daardie dag tussen 6 mm en 26 mm reën ontvang. Die reën het plek-plek op die plaas geval. Op sommige van die omliggende plase het slegs ʼn paar druppels geval, terwyl ander weer meer reën ontvang het.

“Dit is swaar om self reën te kry, maar te sien dat jou buurman nie eens ʼn druppel gekry het nie.

“Niemand van ons veg alleen teen die droogte nie. Droogte raak die siel van ʼn gemeenskap. Droogte is meer as ʼn tekort aan reën, dit mergel liggaam, siel en gees uit. Droogte bind ʼn gemeenskap in swaarkry saam.”

Vissie sê die bietjie reën bring dalk nie kos vir die diere nie omdat die veld uitgetrap is, maar dit het iets vir hul siele beteken.

Johan Spamer, ʼn boer van Boesmanskolk naby Williston, het tussen 43 mm en 57,5 mm op sy plaas ontvang. Dié boer ondervind ook al langer as ses jaar ʼn droogte en het slegs ʼn derde van sy boerdery oor.

Spamer het onbeheers begin huil toe die reën uitsak.

“Die spanning ná jare lange droogte en swaarkry, met geen inkomste nie, is gebreek. My trane het saam met die reëndruppels van dankbaarheid gevloei. Ek en my eggenote het mekaar vasgehou en die Here saam geloof, gedank en geprys vir die ontsettende groot geskenk. Hierdie gevoel en praat met jou God is absoluut heilige oomblikke,” vertel Spamer.

Volgens Lulama Pheme, weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), gaan die reën teen die naweek in die Noord-Kaap opklaar. Die boere is wel hoopvol dat die Here vinnig vir hulle nog reën sal stuur.

Johan Spamer het die afgelope ses jaar erge droogte ervaar (Foto: Manus Spamer, Facebook)

Reënwater op Johan Spamer se plaas (Foto: Manus Spamer, Facebook)

Wolke pak op (Foto: Carel van der Merwe, Facebook)

Die reën het vanjaar vroeg gekom (Foto: Carel van der Merwe, Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

JohanR ·

Is water nie ‘n wonderlike gawe van bo nie? Sonder water kan jy niks doen.

Agter die skerms ·

Ek sit hier agter my werkstasie met hare wat rys net om te se hoe wonderlik God is. Dirk en Vissie jubel in die reen. Die fotos is pragtig…..

Danny ·

Genade – Geseënd!!! Dankie Here vir ons gebede wat verhoor word!

Anel ·

En ons is saam met julle bly. Ons dien sowaar ”n Almagtige God.

Maggies ·

Dankie Hemelse Vader. Ons loof U met dankbare harte. U sal nog meer reën in die droogte geteisterde gebiede laat neerdaal. Amen

Francois Le Cochon ·

Wens ek kon daar wees. 25mm Reen is 25 liter water op 1 vkm. Op 1000 vkm (‘n groot erf) is 25 ton water. Op 1 hektaar is dit 250 ton water, en op ‘n 1000 hektaar plaas is dit 250 000 ton water. Ongelooflik ne.

Niklaas ·

En ons is almal saam met hierdie mensae in daai gebiede , innig dankbaar.

Louis ·

Ja, sonder water is daar geen lewe! Ek het self op ‘n saaiplaas in Wes-Transvaal opgegroei en 50 jaar daar geleef. Dit is ‘n harde lewe, in die winter as die lande afgeoes is, wonder mens waarvan leef mens hier? Die opwinding van ‘n lekker reenbui wat na ‘n lang droogte tydperk val, kan mens nie beskryf nie. Ek onthou 1 jaar wat die mielie-oes op die lande gestaan en verdroog het. Vir 6 weke het geen enkele druppel reen op die aarde geval nie. Elke oggend het ek na die landerye gestap, dan het die mielie plante hulle bes gedoen om nog vars en groen te lyk en nog bietjie hoop gebring. Op ‘n dag sien jy net die plante word al korter en vertoon vaal en verskrompel, van daar af gaan dit sommer vinnig ten gronde. My pa het met ‘n goeie oes 8 000 sakke ge-oes, maar daardie jaar ‘n skamele 80 sakke, nie eers genoeg vir papmeel vir die werkers en diere. Gelukkig het aangetroude familie ‘n 8 ton vragmotor vol mielies gestuur vanaf Oos-Transvaal, waar die opbrengs gewoonlik hoog is. ‘

Andre ·

Ek kan net dink hoe dankbaar daardie mense moet wees. Dan dink ek aan daardie mense wat toelaat dat ons riviere in riool-slote verander.

Ietsanders ·

So dankbaar vir julle onthalwe! Ons wag nog vir reen in ons opvang gebiede, ons damme is dolleeg. PE omgewing.

Chris ·

Alles gebeur op goeie tyd, nie ons tyd nie maar Sy tyd. Dit is weereens ‘n bewys hoe kwesbaar die mens eintlik is. Alles het ‘n begin en ‘n einde. As die hemele kan oopgaan en die aarde seen, hoeveel te meer moet ons nie op ons kniee gaan en bid vir ‘n ander uitkoms in die land nie. By ons Hemelse Vader is niks onmootlik nie. Hy sal ons smeekgebede op Sy tyd verhoor. Soos die droogte gebreek kan word kan die wurggreep van ‘n ongelowige regime ook oor ons gebreek kan word. Ons moet net aanhou bid. Daar sal ‘n uitkoms wees.

LANA is ELANè ·

Asemrowend is ons Here, Sy genade met die sondige mens is groot en sonder perke, maar nes in die Bybel kan daai genade in woede omgedraai word as die mensdom bly sondig teen die Allerhoogste.
Soos in Johannes 3:36 ~ ongelukkig betaal ons almal vir sonde selfs die boere wat pal by die Here se voete sit ervaar die ellende van die mensdom se sonde. Maar hier wys Hy weer sy genade groot en onverstaanbaar in reëndruppels op ‘n dorre dors aarde.

Danett ·

Ek bid nou in die almagtige naam van Jesus waar alles moontlik is dat Namakwaland en Boesmanland ook sal reën ontvang. Dankie ons getrou Vader dat jy ons gebed hoor. En U woord sê waar twee of meer saam staan in U naam Sal gegee word. Dankie vir pragtige reën wat nie verwoesting Sal bring nie, maar deurdring tot op waar dit nodig is in die ground. Ek bid ook vir n geestes reën wat op U kinder Sal neerdaal. Dat hul sal sien how almagtige en wonderbaar U is. Maak hul geestes oë oop en vul hulle met U liefde wat so getrou en onbeskryfbaar is. Dankie my Vader!

Derek ·

Ons is dankbaar vir die reen en die volgende geskenke wat nog oppad is

christo ·

Die Here se genade strek wyd maar ons moderne mense se geloof berus in tegnologie en materiële rykdom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.