Talle kiesers nog onseker vir wie om te stem – Ipsos

(Argieffoto: Emmanuel Croset/AFP)

Dit is byna ’n maand voor die verkiesing en die marknavorsingsfirma Ipsos se jongste peiling toon dat meer as ’n derde (35%) van geregistreerde kiesers steeds van mening is dat daar “geen politieke party is wat werklik hul sienings verteenwoordig nie”.

’n Skamele 23% van geregistreerde kiesers glo in dié stadium dat die land in die regte rigting beweeg, terwyl twee-derdes (66%) dink dat die land se huidige “rigting van reis” verkeerd is.

Onsekerheid is die hoogste in KwaZulu-Natal. Byna ’n vyfde van die provinsie se kiesers het nog nie besluit vir watter party of kandidaat hulle op 29 Mei gaan stem nie.

Ipsos sê kiesers se onsekerheid en vrees oor die potensiële uitkoms en gevolge van die 2024- nasionale en provinsiale verkiesings herinner aan die gevoelens wat Suid-Afrikaners in 1994 ervaar het.

Die firma sê sy jongste peiling beklemtoon dus hoe belangrik dit is dat politieke partye en kandidate binne die volgende maand aandag aan kiesers se bekommernisse gee.

Ipsos het gedurende Maart en April ’n lukraak geselekteerde steekproef oor al nege provinsies, nedersettingtipes en landelike gebiede in Suid-Afrika gedoen, as deel van sy jongste peiling. Diegene wat aangedui het dat hulle geregistreer is om te stem (2 545), is afsonderlik ontleed.

Volgens Mari Harris van Ipsos ondergaan die politieke landskap in Suid-Afrika tans beduidende verskuiwings. Sy sê dit is duidelik uit die jongste meningspeiling dat die ANC sukkel om kiesers te beïndruk en dat die stigting van die uMkhonto we Sizwe (MK)-party oor die laaste paar maande ’n diepgaande uitwerking op die verspreiding van steun onder die voorste politieke partye gehad het.

Slegs 38% van kiesers nasionaal glo in dié stadium dat die ANC hul verkiesingsbeloftes gestand sal doen. Ipsos sê die party se steunbasis is ook al lankal in landelike gebiede gekonsentreer.

Die opkoms van die MKP het die vordering wat die EFF die afgelope jare gemaak het, veral in KwaZulu-Natal, gestuit, met sommige voormalige EFF-ondersteuners wat na die nuwe party migreer.

Harris sê die DA behou egter nog sy posisie en trek in die stadium die steun van sowat ’n vyfde van kiesers.

Die IVP se steun is hoofsaaklik in KwaZulu-Natal gekonsentreer, terwyl ActionSA se steun hoofsaaklik uit Gauteng kom. Alhoewel die VF Plus lae algehele steun het, kom dit van reg oor die land, toon Ipsos se peiling.

Gauteng en KwaZulu-Natal, met onderskeidelik 23,6% en 20,7% van kiesers, blyk weer die sleutelprovinsies te wees om dop te hou in die komende verkiesing.

Harris sê dit sal wys wees van politieke partye om gedurende die laaste maand van hul veldtogte op die sienings en opinies van vroue te fokus.

Vroue maak 55,24% van die land se geregistreerde kiesers uit.

“Terwyl Suid-Afrika gereed maak om na die stembus te gaan, sal die verskuiwende politieke alliansies, streeksonsekerheid en die belangrikheid van die vroulike kiesers alles ʼn deurslaggewende rol speel in die bepaling van die uitslag van hierdie geskiedkundige verkiesing.”

Harris waarsku egter dat die partysteunsyfers wat in Ipsos se jongste meningspeiling bespreek word, nié as ’n vaste voorspelling van moontlike verkiesingsuitslae beskou behoort te word nie, aangesien die volgende maand ongetwyfeld baie wisselvalligheid en verandering in die politieke omgewing sal meebring.

Nie alle geregistreerde kiesers sal boonop op verkiesingsdag hul kruisie trek nie en dit sal ook die finale verkiesingsuitkomste beïnvloed, verduidelik Harris.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Papsak ·

Stem vir enige paty net vir die anc of eff ens nie asb !!???

Republikein in die Wes Kaap ·

Gisteraand sê Roelof Botha op RSG dat die ANC weer meer as 50% gaan kry. Hy reken dis reg so, want Ramaphosa moet sy planne om SA reg te ruk afhandel.

Di ·

Stem saam met Papsak, Enige party behalwe die korrupte ANC en EFF

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.