Talle natuurreservate bestaan dalk gou net op papier

(Foto: Michael Lorentz via GroundUp)

Deur Paul Giess, GroundUp

Natuurbewaarders is bekommerd oor die agteruitgang van provinsiale natuurreservate in Suid-Afrika en die bedreiging wat dit vir die bewaring van biodiversiteit inhou.

In ʼn onlangse verslag deur die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) is bevind dat reservate nie hul bewaringsdoelwitte bereik nie – hoofsaaklik weens ondoeltreffende bestuur. Dit word grootliks deur  ʼn gebrek aan geld, beperkings op personeelkapasiteit en swak bestuursvaardighede veroorsaak.

Bewaringsgebiede beslaan ongeveer 112 807 km² van Suid-Afrikaanse grondgebied en provinsiale natuurreservate beslaan sowat 44,5% hiervan.

Luidens die verslag word tussen 80% en 90% van geld wat aan reservate toegewys word, aan salarisse bestee. Dit lei weer tot ʼn gebrek aan besteding aan die instandhouding van reservate.

Daar was ook ʼn beduidende verlies aan institusionele kennis by reservate sedert ʼn assessering wat in 2010 gedoen is. Ervare personeel het reservate verlaat en is deur minder bekwame mense vervang. Soms is dié mense sommer glad nie vervang nie.

In sommige provinsies was die helfte van die vakante poste in wetenskaplike ondersteuningsrolle, wat dit moeilik maak om data oor spesie-afnames aan te teken of om wetenskapgedrewe oplossings aan bestuurders te verskaf.

Uitdagings

Die EWT-verslag het reservate in KwaZulu-Natal geïdentifiseer as dié met die grootste probleme.

“Die Hluhluwe-iMfolozi Park was die beskermde gebied wat die dringendste ondersteuning en aandag nodig gehad het. Die park het onlangs opslae gemaak oor verskeie voorvalle wat direk met swak bestuur verband hou.

“Dit sluit in die stropery van 275 renosters in die eerste helfte van verlede jaar, en konflik tussen mense en wilde diere weens stukkende heinings,” lui die verslag.

[Foto: The state of provincial reserves in South Africa, Endangered Wildlife Trust (EWT)]

“In 2020 is die ganse bestuur van die Ezemvelo KZN-wildbewaringsagentskap geskors, ná die goed gedokumenteerde politieke aanstelling van ʼn onervare ANC-jeugliga-amptenaar as direkteur van die natuurbewaringsagentskap.”

Die verslag het voorts bevind dat ʼn gedeelte van die Songimvelo-natuurreservaat in Mpumalanga, wat 28 diere huisves, verlate is. Die grond word deur beeste bewei omdat heinings nie meer in stand gehou word nie.

Verder word dié reservaat se renosterbevolking gestroop en voertuie is stukkend.

Daar is ook vasgestel dat renoster-, seekoei- en krokodilbevolkings in talle reservate afneem weens stropery. Drie tot vier wildebeeste word per week in die Ntsikeni Vlei-natuurreservaat in KwaZulu-Natal gestroop, lui die verslag.

“Heinings wat nie meer in stand gehou word nie, is dikwels die eerste sigbare teken dat ʼn reservaat se bestuur misluk. Daar is talle berigte van vee wat reservate binnegaan en mense wat naby woon, het selfs gewasse in sommige reservate geplant.

[Foto: The state of provincial reserves in South Africa, Endangered Wildlife Trust (EWT)]

“Probleme ontstaan ook wanneer diere maklik beskermde gebiede kan verlaat. Waar roofdiere soos leeus en hiënas interaksie met plaaslike gemeenskappe het, word hulle dikwels deur woedende inwoners doodgemaak voordat die reservaatbestuur kan reageer.”

Op sommige plekke het ʼn bose kringloop ontstaan waar die swak instandhouding van toerisme-infrastruktuur besoekersgetalle laat afneem. Dit lei weer tot die sluiting van ʼn moontlike inkomstebron wat gebruik kon word om die toerismefasiliteite en parkgrensheinings in stand te hou.

Daar is kommer dat provinsiale reservate “papierparke” sal word, wat volgens die EWT slegs op papier as bewaringsbeskermingsgebiede bestaan.

“Hoewel die meeste reservate finansieel te min hulpbronne en nie voldoende kapasiteit het nie, behou hulle die potensiaal om ʼn betekenisvolle rol te speel in die bewaring van waardevolle habitatte.”

Oplossings

Die verslag sit ook die geleenthede en praktiese stappe uiteen wat steeds die provinsiale reservate se situasie kan omkeer: alles van die werwing van ervare personeel tot innoverende finansieringsmodelle.

[Foto: The state of provincial reserves in South Africa, Endangered Wildlife Trust (EWT)]

“Reservate met ʼn gebrek aan hulpbronne kan strategiese vennootskappe aangaan en kritieke dienste uitkontrakteer aan liggame met ʼn bewese bewaringsrekord – nieregeringsorganisasies (NRO’s), die private sektor of navorsingsinstellings.

 

“Bewaringsbestuurders kyk op na die departement van bosbou, visserye en die omgewing vir leierskap in die finansiering en verbetering van die bestuur van reservate om te verseker dat die departement se eie doelwitte bereik kan word.

“Daar is ʼn sterk behoefte dat provinsiale reservate bestuur word deur entiteite met ʼn bewarings- of ekologiemandaat, met toepaslike kundigheid op hierdie gebied, en met die ondersteuning van finansiële en infrastruktuur-kundiges, en nie andersom nie.”

Tensy hierdie soort bestuur ingestel word, sal Suid-Afrika se beskermde gebiede nie hul bewaringsmandate nakom nie, lui die verslag.

Lees die volledige verslag hier.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.