Talle ontsnapte krokodille reeds uit Breërivier gevis

krokodil

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Altesaam 27 krokodille wat uit ʼn krokodilplaas in die Boland in die Breërivier ontsnap het, is reeds gevang. Dit is egter nie seker hoeveel ontsnapte krokodille nog in die rivier skuil nie.

Volgens Petro van Rhyn, kommunikasiebestuurder van CapeNature, ʼn openbare bewaringsentiteit wat die krokodiljag lei, is die krokodille wat reeds gevang is aan die krokodilplaas naby Bonnievale terugbesorg.

CapeNature lei ʼn gesamentlike poging saam met die eienaar van die fasiliteit, plaaslike grondeienaars en die polisie om die res van die ontsnapte krokodille op te spoor.

“Die eienaar van die plaas se eerste prioriteit is om so vinnig as moontlik soveel moontlik krokodille te vang,” sê Van Rhyn.

ʼn Gebied van ongeveer 5 km stroomop in die rigting van Robertson en 5 km stroomaf in die rigting van Swellendam word deurlopend deur die span dopgehou.

Maroela Media het vroeër berig dat die krokodille elk tussen 1,2 m en 1,5 m lank is en nie lewensgevaarlik is vir mense nie, aangesien hulle gewoond is om gevoer te word eerder as om vir hul kos te jag. “Hulle bly egter steeds wilde en instinktiewe diere wat moontlik ʼn gevaar vir mense inhou,” het James-Brent Styan, woordvoerder vir die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell, gesê.

CapeNature het weereens die publiek gewaarsku om nie die krokodille te nader indien hulle een gewaar nie. Grondeienaars en lede van die gemeenskap aan die oewer is ook in kennis gestel van die situasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tanniepetoors ·

Miskien nie lewensgevaarlik vir mense nie, maar as ‘n 1,2 of1,5m lange krokodil begin honger word, gaan enigiets wat in die water of naby kom wat lyk soos kos, gehap word. Dit kan nou insluit enige dier wat rustig wei of by die rivier kom water drink. Of my of jou se kuite terwyl ons in die water staan en visvang of ons voete as ons met ons voete in die mooi ou Breërivier se water sit en dagdroom…..

JAN ·

Die eienaar van daardie krokodilplaas moet strafregtelik aangekla word en aanspreeklik gehou word vir enige verliese wat uit hierdie fiasko mag voortspruit. Ontspanningsoorde / karavaanparke gaan verliese lei ens. Sulk besighede / plase behoort nie toegelaat te word in die Weskaap waar ons reviere nog altyd veilig was nie.

Kakamiet ·

Hier ini NK is daar gevind en geskiet wat in die Orania rivier was en in n kanaal beland het. Vreemd om hulle hier te sien maar na die reën en alle Damme oorspoel het, glad nie vreemd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.