Talle Oos-Kaapse polisiestasies val uitmekaar

‘n Google Earth-skermgreep van die Graaff-Reinet-polisiestasie in 2009.

Byna die helfte van die land se polisiestasies wat as infrastruktuurgewys as “swak” geklassifiseer word, is in die Oos-Kaap. Van hierdie stasies is 70 in só ʼn beroerde toestand dat dit ʼn gesondheid- en veiligheidsgevaar vir werkers inhou en groot ontwrigting veroorsaak aan die polisie in die provinsie se vermoë om dienste te lewer.

Die DA gaan die probleem nou na die parlement neem om antwoorde by die nasionale departement van openbare werke te probeer kry oor wat gedoen word om die vrotsige infrastruktuur te pak.

Uit die 199 polisiestasies in die Oos-Kaap word 70 as “swak” geklassifiseer, 106 kry ʼn gradering van “billik”, nege kry ʼn gradering van “goed”, terwyl 14 van die polisiestasies in die provinsie as “uitstekend” geklassifiseer word.

Só lyk nasionale prentjie:

ProvinsieBaie swak (C2)Billik (C3)Goed (C4)Uitstekend (C5)Totaal
Oos-Kaap70106914199
Vrystaat1429680111
Gauteng1212155143
KZN20138917184
Limpopo19526104
Mpumalanga9706691
Noordwes43736784
Noord-Kaap14637791
Wes-Kaap17112175151
Totaal148754189671 158

 

Die klassifikasie van “uitstekend” beteken die gebou het geen ooglopende foute nie en lyk nuut. Daar is geen uitwerking op diensvermoëns nie.

“Goed” beteken die gebou het oppervlakkige tekens van gebruik, met klein defekte en tekens van agteruitgang. Die kans dat daar ʼn gesondheid- of veiligheidsgevaar bestaan, is min.

Die term “billik” beteken die gebou is in ʼn gemiddelde toestand, daar is plekke wat aandag kort en hoewel alles werk, benodig sommige elemente instandhoudingswerk. Daar is deurlopende onderbrekings aan bedrywighede en ʼn matige gevaar vir gesondheid en veiligheid.

“Swak” word bestempel as ʼn gebou wat sleg agteruitgegaan het en ernstig strukturele probleme het. Die algemene voorkoms is swak, sommige goed is stukkend en daar ʼn beduidende getal groot defekte. Die risiko-indeks word bestempel as hoog en daar is ʼn groot koste‑implikasie verbonde.

“Baie swak” is waar die gebou tot so ʼn mate verswak het dat dit nie meer operasioneel is nie en ook nie bewoon kan word nie. Daar is ʼn onmiddellike gevaar vir sekuriteit, gesondheid en veiligheid en dit gaan met ʼn noemenswaardige kosterekening gepaard.

Polisiestasies in die Oos-Kaap wat as “baie swak” bestempel word, sluit in Algoa Park, Barkley-Oos, Cradock, Dutywa, Gelvandale, Graaff-Reinet, Humansdorp, Joubertina, Keimond, Middelburg, Queenstown en Scenery Park, die buurt waar ʼn groep jong kinders onlangs in ʼn taverne dood is.

“Dit is verregaande dat die polisie onderwerp moet word aan sulke swak werksomstandighede wat ʼn uitwerking het op hul vermoë en motivering om misdaad te bekamp,” sê Bobby Stevenson, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Oos-Kaap.

Stevenson sê dit is geen wonder nie dat die provinsie “die stryd teen geweldsmisdaad verloor het, met die hoogste moordkoers landwyd”.

Hy sê die groot probleme wat polisiebeamptes op stasievlak in die gesig staar weens verslegtende infrastruktuur en ʼn gebrek aan behoorlike en gereelde instandhoudingswerk, het ʼn uitwerking op die doeltreffendheid van die polisie.

Sommige van die polisiestasies het nie eens aanhoudingselle wat gebruik kan word nie.

“Dit beteken polisievoertuie word as ʼn taxidiens gebruik om misdadigers tussen polisiestasies te karwei, pleks daarvan om die strate te patrolleer en inwoners veilig te hou,” sê Stevenson.

Die DA wil ook weet watter van die 70 swakste stasies binne die volgende jaar opgegradeer gaan word en watter begroting daarvoor toegewys is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Botterblommetjie ·

By ons val die geboue en polisie uitmekaar….. Bloemfontein…. voertuie word openlik vir privaatgebruik aangewend, so ook die staatsmotors… als is ‘n grap, behalwe die hartseer van kriminele wat openlik seëvier…. bloed op ons land se hande….

Henri ·

Die antwoord is voor die hand liggend. Feitlik alle dienslewering word deur vakbonde beheer en ‘n beleid van “meer geld, minder werk” geld. Dit is onmoontlik om van ‘n werknemer ontslae te raak wat meer as 10jaar diens het. Dis finansieël rampspoedig. Nou sit hulle daar en doen bôggerôl teen 2×, 3× en selfs 4× die minimum loon. Geen verantwoordelikheid en nog minder trots.

Nie Verbaas ·

Welgedaan Cele, jy doen goed man. Korrupsie, polisiestasies val uitmekaar, voertuie word gebruik vir taxis, opleiding swak, jy gil soos n besetene en het die redenasievermoë van n peuter. Jy doen regtig “goed” man.

Di ·

NIKS word in stand hou in SA nie! Daar is nie geld nie want die in beheer verryk hulle self met daardie belasting betalers se geld! Solank die korrupte spul in beheer is, sal NIKS beter raak. Die land het klaar in riool status verval en gaan ‘n wonderwerk vat om dit om te keer.

SjN ·

Instandhouding en onderhoud vorm nie deel van die kaders se beperkte pligstaat en werkomskrywing nie.

Kobus ·

Al statistiek wat ” verbeter” onder ANC is (1) Bevolkingsaanwas, (2) Potholes, (3) Crime (4) aantal onbevoegde ministers

Harley Davidson ·

Voor de klerk was polisiestasies goed versorg met mooi tuine en die instandhouding was gereeld gedoen deur van gevangenes gebruik te maak dit het uitstekend gewerk en teen minimale koste vir die staat en belastingbetalers en nou dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.