Talle polisiebeamptes vas vir korrupsie, omkopery

Argieffoto ter illustrasie: SAPD

Die polisie in die Wes-Kaap het die afgelope week 13 polisiebeamptes vir korrupsie en omkopery vasgetrek.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, sê drie polisiebeamptes, onderskeidelik 27, 33 en 34 jaar oud, is Woensdag in Khayelitsha in hegtenis geneem vir korrupsie.

Hulle het na bewering omkoopgeld van ʼn app-gebaseerde taxidiensbestuurder in Kaapstad wat glo strydig met die afsonderingsregulasies opgetree het, aanvaar.

Hulle het Donderdag in die landdroshof in Kaapstad verskyn en borgtog is aan hulle toegestaan.

Intussen het twee polisiebeamptes Donderdag in die Paarl-landdroshof verskyn nadat hulle glo omkoopgeld van ʼn sakeman geëis het wat na bewering ten tyde van die afsondering sigarette onwettig verkoop het.

Potelwa sê die beamptes het die sakeman verseker dat hy inhegtenisneming sal vryspring indien hy hulle ’n ooreengekome bedrag sou betaal. Die sakeman het die aanbod van die hand gewys en die beamptes aangeraai om beslag op die sigarette te lê.

Volgens Potelwa het hulle die sigarette geneem en dit later die dag as verlore aangemeld. Die drie beamptes is Woensdagaand in hegtenis geneem.

Nog sewe polisiebeamptes, tussen die ouderdomme van 28 en 48, is Woensdag vasgetrek vir korrupsie nadat hulle verlede week Donderdag sigarette onwettig vir geld wou verruil.

Dié beamptes het ʼn besending sigarette uit ’n winkel in Bellville waarop hulle toegeslaan het, geneem. Die beamptes het na bewering met die winkeleienaar gereël om êrens te ontmoet en dié sigarette in ruil vir kontant terug te gee. Die winkeleienaar het die aanbod van die hand gewys en die saak by die Bellville-polisie aangemeld.

Dié sewe beamptes het Woensdag in die hof verskyn op aanklagte van korrupsie.

Lt.genl. Yolisa Matakata, die provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap, het haar misnoeë oor die polisie se betrokkenheid by misdaad uitgespreek.

“Dit is ontstellend om te sien dat dieselfde mense wat die wet moet toepas, by misdaad betrokke raak. Ons sal sien dat geregtigheid geskied,” sê Matakata.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Boortor ·

En wat gaan nou aan hoed man!!?? Jy is sekerlik baaaie trots op jou ” gekeurde” manne ne! Baie geluk, julle voldoen aan die verwagtinge! Flippen skande man!!!

Sandra ·

En nog steeds verkoop mense sigarette. Adverteer openlik op FB.

Strandloper ·

Sjoe…is dit deesdae die norm of mis ek iets? Waar skryf mens in vir die kompetiesie?

Die Wolf ·

Maak maar net soos die top gedeelte.. Word slagoffers om die res se dade te verbloem.

Sonneblomkind ·

Hulle werk vir die Staat. Dit is nie aanvaarbaar nie

Deon ·

Die is maar die punt van die ysberg – ek is seker daar is vele meer as net die paar wat gevang is.

Piet ·

Hoe kan ons veillig voel met sulke kriminele om ons te beskerm teen wat verkeerd is?

Sarel ·

Luister , kan julle dit hoot. Die doodse stilte vanuit Parlement, Cele en sy Hoofde. Die Aarde dreun daarvan. Onbevoegde aanstellings volgens BEE

Scalla ·

Stuur berig na die buiteland, puik bemarking vir Sapd met hoedeman aan die stuur.

PieterP ·

Dit was die wat dom genoeg was om gevang te word. Nou is hulle uit op borg en die winkeleienaars sal moet rondkyk…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.