Talle SA’ners wag steeds om gerepatrieer te word

Minister Naledi Pandor (Foto: DIRCO South Africa, Twitter)

Altesaam 5 239 Suid-Afrikaners is sedert die instel van die landwye afsondering van reg oor die wêreld na Suid-Afrika gerepatrieer. Die departement is egter bewus van talle Suid-Afrikaners in die buiteland wat steeds wag om teruggebring te word. Só het Naledi Pandor, minister van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), Donderdag tydens ’n aanlyn mediakonferensie gesê.

Honderde mense is ook al van ander Afrika-lande teruggebring.

Pandor het gesê meer Suid-Afrikaners is al gerepatrieer as die 3 637 wat aanvanklik met Dirco kontak gemaak en aangedui het dat hulle in die buiteland gestrand is.

“Ons het die repatriasieproses aanvanklik geïmplementeer om ons burgers wat in die buiteland ten tyde van die afsondering in nood verkeer, by te staan. Dit sluit in diegene wat op lughawens gestrand was, studente wat gevra is om hul verblyfplekke te ontruim en bejaardes en diegene wat ernstig mediese hulp benodig het,” het Pandor gesê.

Pandor sê met verloop van tyd het burgers in die buiteland ook met Dirco begin kontak maak wat óf hul werk verloor het weens ondernemings en skole wat deur die afsonderingstydperk geraak is, of wie se geld om hulself in die buiteland te onderhou bloot opgeraak het.

Volgens Pandor het Dirco ʼn sentrum gestig wat 24 uur per dag beskikbaar is vir gestrande Suid-Afrikaners wat met die departement wil kontak maak. Dirco het ook Suid-Afrikaners aangemoedig om die ambassades in die lande waar hulle gestrand is, te kontak. Dit is sodat Dirco kan bepaal hoeveel mense in elke land gestrand is.

Pandor het daarop gewys dat die repatriasieproses nie maklik is nie. “Dirco word deur talle uitdagings in die gesig gestaar en kan nie al die gestrande Suid-Afrikaners eensklaps terugbring nie. Die afsonderingsregulasies in Suid-Afrika en veral in die betrokke lande waar die Suid-Afrikaners gestrand is, maak dit vir ons moeilik om ons repatriasieprosedures te volg,” sê sy.

Pandor het al die ambassades van regoor die wêreld bedank vir hul harde werk om te verseker dat dié Suid-Afrikaners veilig terugkom huis toe.

Pandor sê nóg Suid-Afrikaners wat in die VSA, Rusland, Viëtnam, Indië, Katar en Brittanje gestrand is, gaan in die komende dae en weke teruggebring word.

“Dirco is bewus van talle Suid-Afrikaners wat steeds in die buiteland gestrand is, en ons sal alles in ons vermoë doen om dié Suid-Afrikaners veilig terug te bring huis toe.”

Pandor sê indien Suid-Afrikaners ná afloop van die afsonderingstydperk wil terugkeer, hulle dit op eie onkoste sal moet doen.

Gestrande Suid-Afrikaners kan Dirco se sentrum kontak by +27 (0)12 351 1754 of +27 (0)12 351 1756. Hulle kan ook ʼn e-pos stuur na [email protected] of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Nog een met ‘n doek, maar in die geval lyk dit asof daar ‘n brein onder die doek is!!

Scalla ·

Word net van een dept na ander verskuif om verder af te breek, Johan.

Miskruier ·

My kind het geen klagtes gehad vir die 10 dae wat hy in kwarantyn moes deurbring, net dat die uitslae van die toets te lank vat.

Jaco ·

WAAROM wil wit mense waarvan seker 90% hier weg is weens regstellende aksie, misdaad, swak staatshospitale, swak munisipale dienste ens ens, TERUGKOM na hierdie slegte land???
Ek verstaan dit glad nie.

BoerSonderRoer ·

Hierdie mense is mense wat toeriste is, of soos hulle sê, wat se geld op geraak het. Die buieland is baie duur sonder geld.

BoerSonderRoer ·

Alles in hulle vermoe is net te min.
Maar laat ‘n minister siek word, dan is daar skielik baie vlugte beskikbaar na Rusland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.