Talle senior amptenare onder dié vas oor Fort Hare-misdaadvlaag

(Foto: Facebook / Fort Hare University)

Twee van die 15 mense wat die afgelope naweek in verband met ʼn vlaag misdade by die Universiteit van Fort Hare verbind word, is op borgtog vrygelaat. Die res van die beskuldigdes sal Woensdag weer in die hof verskyn.

Die jongste inhegtenisnemings is oor die Paasnaweek in Gauteng, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal gedoen en die beskuldigdes staan tereg op aanklagte wat insluit bedrog, korrupsie, ontvoering, moord en poging tot moord. Hulle het reeds Dinsdag in die Dimbaza-landdroshof verskyn.

Altesame 24 verdagtes is nou vir hul onderskeie beweerde rolle in ʼn web van korrupsie en selfverryking by die universiteit aangekeer.

Die ondersoek hou onder meer verband met die moord op prof. Sakhela Buhlungu se lyfwag, Mboneli Vesele, in Januarie verlede jaar. Vesele is in ʼn koeëlreën dood toe aanvallers op die visekanselier se voertuig losgebrand het. Buhlungu was nie in daardie stadium in die voertuig nie en is na ʼn plek van veiligheid geneem. Vesele se dood het gevolg op die sluipmoord op Petrus Roets, die universiteit se vlootbestuurder. Roets is in Mei 2022 vermoor.

Die 15 nuwe beskuldigdes sluit in direkteurs van maatskappye wat dienste aan die universiteit gelewer het, asook huidige en vorige senior amptenare van Fort Hare.

Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Fannie Masemola, nasionale polisiehoof, het die hofverskyning bygewoon. Cele het ná afloop van die verrigtinge gesê die lang arm van die gereg is nie selektief nie en gaan ook nie genadig wees nie.

“Ons het dit duidelik gestel dat die polisie geen steen onaangeroer moet laat nie en die inhegtenisnemings is ʼn bewys dat die polisie sy net ver en wyd gegooi het. Dit is ontstellend dat sommige van diegene wat aangekeer is, mense is wat vertrou is met die lewensvatbaarheid van die universiteit.

“Hulle het baie senior en sleutelposisies beklee,” het Cele gesê.

Benewens diegene wat by diensverskaffers van die universiteit gewerk het, sluit die beskuldigdes in ʼn voormalige waarnemende regter en ʼn voormalige senior spesiale ondersoeker by die batebeslagleggingseenheid van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Die polisieondersoek duur intussen voort.

Cele sê hy is vol vertroue dat die ondersoek bestendigheid na die universiteit sal bring en terselfdertyd gaan dien as ʼn waarskuwing vir enigiemand of enige organisasie wat hulle skuldig maak aan geweld in die openbare of private sektor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wondermaarnet ·

Cele rook iets, want van wanneer af is die lang arm van die gereg nie selektief nie?

Andrew ·

“Dit is ontstellend dat sommige van diegene wat aangekeer is, mense is wat vertrou is met die lewensvatbaarheid van die universiteit.
“Hulle het baie senior en sleutelposisies beklee.”

En jy en jou “kronies” is anders hoe?

Porseleintjie ·

Senior en sleutelposisies by Fort Hare. En diegene wat dieselfde posisies in parlement beklee Cele. Het jy notisie geneem van die korrupsie en bedrog onder hulle? Reken die arm van die gereg kan nie tot daar strek nie.

Amelia ·

Ja en wat van vbs bank die rusbank met dollars in die Guptas Eskom en so kan maar net aangaan wat niks van gekom het nie n vis vrot van sy kos af

domheks ·

cele, elkeen wil sy beurt by die krip kry. Die een kan nie meer kry as die ander nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.