Talle soek wel nog plek in Gautengse skole

Argieffoto. (Foto: Maroela Media)

Skole het reeds drie weke gelede vir die nuwe jaar oopgemaak, maar enkele gr. 8-leerders in Gauteng kan nie skoolgaan nie, aangesien die skool waar hulle geplaas is meer as 30 km van hul ouerhuis geleë is.

Dié ouers voer aan die Gautengse departement van onderwys is nie heeltemal eerlik wanneer hy sê dat alle leerders wat aansoek gedoen het om plek, wel geplaas is nie.

Een van die ouers aan die Oos-Rand, wie se gr. 8-kind nie plek in ʼn openbare skool hier gekry het nie, sê die fout het ingesluip toe hulle onverwags van Alberton na Kempton Park verhuis het.

“Ons het in Julie aansoek gedoen vir my seun in ʼn skool in Alberton en hy het plek by Hoërskool Dinamika gekry,” sê Benetta van Biljon.

“Ons het egter besluit om nie dadelik die plasing te aanvaar nie, want daar was ʼn moontlikheid dat ons sou verhuis.”

Die gesin het einde Desember na Kempton Park getrek, terwyl Van Biljon gespook het om haar seun se aansoek oor te skuif na dié woongebied. Weens ʼn oënskynlike stelselfout kon sy egter nooit hierin slaag nie.

“Ek het keer op keer op die stelsel gegaan en sy ID-nommer ingetik, maar elke keer het dit ʼn foutboodskap uitgegooi. Die stelsel kon boonop nie sy ID-nommer met ʼn bestaande aansoek pas nie, al het ons maande vantevore op die einste stelsel aansoek gedoen,” sê sy.

Van Biljon het die departement by verskeie geleenthede genader om hulp, maar die situasie is steeds nie opgeklaar nie.

Intussen is haar seun by ʼn aanlyn skool ingeskryf, hoewel die gesin nie in die finansiële posisie is om dit te kan volhou nie.

“Ek het vrystelling gekry om skoolfonds by ʼn openbare skool te betaal, maar kan uiteraard nie nou meer hierdie opsie uitoefen nie.”

Van Biljon moes boonop ʼn persoonlike lening van duisende rande aangaan sodat sy haar seun met al die benodighede vir die aanlyn skool kon toerus.

gauteng-aanlyn-registrasie-toelating-skole

‘n Skermskoot van die Gautengse onderwysdepartement se aanlyn registrasiestelsel. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

ʼn Pa wat aan die suide van Johannesburg woon, sê hy het dieselfde soort stelselfout teëgekom wat daartoe gelei het dat sy gr. 8-dogter nie in dieselfde skool as haar ouer broer geplaas is nie. Die departement het sy dogter eerder in ʼn skool 50 km van hul huis geplaas.

Andries Sibanyoni vertel dat hy met die aanvang van die registrasieproses in Julie verlede jaar sy dogter probeer registreer het vir plasing in ʼn skool.

“Ons eerste keuse was Hoërskool President in Ridgeway. Dit is waar haar broer is en ons vereenselwig ons met die skool se waardes. Ons wil ons kinders in ʼn tweetalige omgewing grootmaak,” sê hy.

“Lank nadat ons haar geregistreer het, is ons egter in kennis gestel dat die registrasie nooit plaasgevind het nie – al het ons ʼn boodskap ontvang wat die suksesvolle registrasie aandui.”

Sibanyoni en sy vrou het toe by verskeie skole aangeklop, maar is telkens in kennis gestel dat hul dogter se naam nêrens op enige van die registrasielyste verskyn nie. Hy het ook by die departement gaan aanklop, maar is eindelik aangesê om weer aansoek te doen met die tweede fase van inskrywings.

“Ná ʼn groot gesukkel het iemand van die departement my twee weke gelede genader en gesê ek moet na hul hoofkantoor gaan om ʼn plasingsbrief vir my dogter te kry,” sê hy.

“Ek en my vrou is toe al die pad na die hoofkantoor toe, net om te hoor dat sy in ʼn skool aan die ander kant van Johannesburg geplaas is.

“Al is ek hoe desperaat, kan ek nie my dogter na ʼn gebied (Tembisa) stuur waar haar veiligheid in gedrang is nie.”

Sibanyoni het boonop nie die finansiële vermoë om sy dogter na ʼn privaat skool te stuur nie en sy grootste uitdaging met aanlyn onderrig is dat beurtkrag haar skooldag in die helfte sal sny.

“Ons het nie meer veel opsies oor nie.”

Departement moet pa staan

Khume Ramulifho, DA-woordvoerder van onderwys in Gauteng, sê sy word sedert die begin van die jaar oorval met oproepe, boodskappe en e-posse van ouers wat desperaat en onseker is of hul kinders ooit by skole geplaas sal word.

Sy sê van dié ouers het boonop al verskeie kere appèl aangeteken oor die skole waarin hul kinders geplaas is, aangesien dit onder meer te ver of onveilig is. Die appèl val telkens oënskynlik op dowe ore.

“Die departement voer aan dat alle leerders in die provinsie geplaas is, wat beteken dat die leerders wat nog wag om geplaas te word of appèl aangeteken het, nie aan skole toegeken sal word nie,” sê Ramulifho.

“Dit is die departement se verantwoordelikheid om te verseker dat alle kinders van skoolgaande ouderdom by skole geplaas word.”

Die DA het intussen ʼn beroep op die LUR van onderwys in Gauteng gedoen om die betrokke gevalle as ʼn saak van dringendheid te ondersoek.

“Die enigste oplossing om laat plasings of verdere stelselfoute te vermy, ​​is om die aanlyn toelatingsproses te hersien om te verseker dat dit deursigtig, oop en regverdig is.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pierre ·

ANC verval, weer eens veroorsaak Gauteng hulle eie probleme deer tot aan die einde van die jaar te wag om stelsels oop te maak, die kaap begin al Maart maand met aansoeke en plasings.

Di ·

DIT gaan elke jaar gebeur want daar is net nie genoeg skole nie. Die bevolkingsaanwas styg met die spoed van lig maar geen skole word gebou nie. Begin eerder deur die kinder grants te stop sodat minder kinder kry net vir die paar sent elke maand. Selfs kinders kry kinders!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.