Taverne-eienaar se vrou nou ook aangekla

Die Enyobeni-taverne in Scenery Park, Oos-Londen. (Foto: Twitter)

Die bestuurder van die taverne in Scenery Park in Oos-Londen waar 21 tieners in Julie omgekom het, se eggenoot is nou ook as beskuldigde tot die saak gevoeg.

Vuyokazi Ndevu – geregistreerde lisensiehouer van die Enyobeni-taverne – het Vrydag by haar man, Siyakwamkela Ndevu, in die beskuldigde bank van die Oos-Londense landdroshof aangesluit voordat die saak tot volgende maand uitgestel is.

Die egpaar staan nou saam tereg op twee aanklagte van die oortreding van die Drankwet.

Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê Siyakwamkela en Vuyokazi word daarvan beskuldig dat hulle drank aan persone jonger as 18 jaar verkoop het.

Hulle word ook daarvan beskuldig dat hulle met werknemers saamgesweer het om wederregtelik drank aan minderjarige persone te verkoop.

Die egpaar het gister vlugtig saam in die beskuldigdebank verskyn voordat die saak tot 5 Oktober uitgestel is.

Tyali sê die Nasionale Vervolgingsgesag wag in dié stadium nog op ʼn dossier van die polisie voordat daar oor verdere moontlike aanklagte besluit kan word.

“Die families van die jong kinders, van wie sommige minderjarig is, die geraakte gemeenskap en Suid-Afrikaners in die algemeen, is gretig om te sien dat geregtigheid geskied vir die kinders wat onder sulke tragiese omstandighede gesterf het.”

Maroela Media het vandeesweek berig die kinders se ouers is meegedeel dat hul kinders glo versmoor het weens die feit dat die taverne oorvol was.

Die Oos-Kaapse departement van gesondheid het die ouers Donderdag ingelig oor die oorsaak van hul kinders se dood. Die ouers is egter toegang tot die toksikologieverslag geweier.

Volgens Tyali word die toksikologieverslag nog deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maritza ·

Hoewel dit baie tragies is moet die ouers nie in onskuld staan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.