Taxi tref trok tydens jaagtog

Die ongelukstoneel in Umbilo, Durban. (Foto: ALS Paramedics)

Die taxibestuurder het intussen aan sy beserings in die hospitaal beswyk. Dit bring die dodetal op 2 te staan. 

Een persoon is dood en twee ander beseer toe ’n minibustaxi Saterdagoggend tydens ’n jaagtog met die polisie teen ’n vragmotor in Durban gebots het.

Daar word beweer dat die polisie en sekerheidswagte die taxi agternagesit het ná die pleeg van ’n misdaad toe die taxi die vragmotor teen ’n hoë spoed in Umbilo getref het.

Die botsing het die lewe van ’n vrouepassasier geëis, terwyl die taxibestuurder uit die wrak bevry moes word.

ALS Paramedics sê ambulansdienste is voor 10:00 na die ongelukstoneel in Umbiloweg ontbied en het ’n bloedbad met hul aankoms aangetref.

Die ongelukstoneel in Umbilo, Durban. (Foto: ALS Paramedics)

Die bestuurder van die taxi was in dié stadium nog in die taxi vasgekeer met kritieke beserings. Die bestuurder is deur paramedici op die toneel gestabiliseer voordat die Ethekwini-brandweer die man met hidrouliese toerusting uit die wrak bevry het.

Die man is sedertdien na ’n Durbanse hospitaal gehaas vir verdere mediese behandeling.

Die bestuurder van die vragmotor het matige beserings tydens die botsing opgedoen en is op die toneel behandel voordat hy ook na ’n hospitaal vervoer is.

Daar is in dié stadium geen besonderhede oor die beweerde misdaad wat die ongeluk voorafgegaan het nie. Maroela Media het laatoggend ’n navraag aan die polisie gestuur en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.