Taxigeweld duur voort in Kaapstad

Taxigeweld in Kaapstad (Foto: Terence Quma/Twitter)

Taxigeweld het Maandag in Kaapstad voortgeduur ondanks die provinsiale en nasionale regerings wat alles in hul vermoë gedoen het om ʼn volhoubare oplossing te vind vir die dispuut oor roetes.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het gesê die geweld kos nie net lewens nie, maar ook mense se lewensbestaan, omdat mense sukkel om veilig by die werk uit te kom en sommige bedrywighede het tot stilstand gekom. “Dit gebeur nie op alle roetes nie, maar dit het ʼn ernstige impak op talle inwoners.”

Winde sê dit is eenvoudig onaanvaarbaar dat ʼn dispuut oor roetes nou die welstand en veiligheid van inwoners ondermyn. “Ons sal nie toelaat dat die geweld voortduur nie. Die provinsiale gesamentlike bedryfsentrum is geaktiveer om spesifiek hierdie geweld aan te spreek en ʼn kollektiewe veiligheidsreaksie van die SAPD en alle ander wetstoepassers in die land te verseker.”

Winde het vandag tydens ʼn vergadering van die komitee sy kommer uitgespreek oor hoe ʼn paar kriminele elemente in die bedryf die hele provinsie gyselaar hou. “Ek het maksimum fokus deur die SAPD versoek om seker te maak dat alle verantwoordelike partye aan die pen sal ry en dat veiligheidsoperasies sal voortduur.”

Winde vergader Maandagaand ook met die burgemeester van Kaapstad en die burgemeester van Drakenstein om gekoördineerde ingryping deur alle vlakke van regering te verseker. “Dit volg ná ʼn spesiale kabinetsvergadering vanoggend waar taxigeweld bo-aan die agenda was.”

Die Wes-Kaapse departement van vervoer, as die “reguleerder” in die Wes-Kaap, verskaf steeds ʼn ruimte vir die twee taxiverenigings om te vergader deur ʼn onafhanklike bemiddelingsproses. “Dit is bykomend tot ʼn interdik in die Wes-Kaapse hooggeregshof teen onwettige bedrywighede deur enige van die verenigings op die betrokke roetes en publikasie in die Staatskoerant om sekere roetes, kragtens nasionale wetgewing, te sluit. Dit is egter nie onmiddellik van toepassing nie. Daar moet eers ʼn proses volg van openbare kommentaar en oorweging deur die provinsiale minister voor enige stappe gedoen kan word. Minister Mitchell is reeds besig om die besluit te hersien en te oorweeg.

“Ek wil dit baie duidelik stel dat almal wat verantwoordelik is vir hierdie geweld in hegtenis geneem moet word en vervolg moet word sodat ʼn baie sterk boodskap gestuur kan word dat ons nie hierdie kriminele gedrag in die Wes-Kaap sal duld nie,” het Winde bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

Ek’s regtig jammer om te sê dat geen persoon die taxi’s gaan stop nie. Hulle maak dood eenvoudig wat hulle wil en is bo die wet verhewe ons het dit mos beleef. Hierdie ouens speel nie – hulle skiet net en dit oor ‘n roete genade!

Linx ·

As n mens iets sé bly j mos n rasis,maar ek gaan weereens sé as jou geboorte certificate nie sé jys gebore in d weskaap nie,moet j gaan d weskaap operate goed genoeg sonder inkomers,maar nee d menseregte-besigheid sé mos klomp goed,so ons moet maar ly.

Francois ·

Jammer maar julle het te ver gegaan.om soveel taxis toe te laat. Die eens pragtige kaap met sy mooi paaie het soos gauteng in anargie verval waar die taxis die baas geraak het en niemand hulle stuit nie

Boon ·

Die Wes Kaapse regering moet self die misdadige elemente in die taxi bedryf aankla. Ons weet wie hulle is, en ook dat hulle,agter die vernietiging van die spoorvervoer sit. Nou will hulle ook die busdiens vernietig en n monopolie op vervoer verkry. Dan kan hulle die hele ekonomie in streek beheer . Dis al amper te laat om.hierdie misdadigers vir lank uit die gemeenskaps- te verwyder , maar Premier Winde moet Nou ingryp en ophou praat.

JohanR ·

Die Ridder in Hoed is op pad! En daar val ek van my stoel af van die lag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.