In ʼn land waar die padongeluk- en padsterftesyfer geweldig hoog is, blyk dit dat veels te min gedoen word om oortreders te vervolg.
Kenners meen onkundige, korrupte of onentoesiastiese polisielede veroorsaak
soms dat ongelukke nie behoorlik ondersoek word nie. Wetstoepassers het ook dikwels nie die regte toerusting nie.
Intussen wag hartgebroke Suid-Afrikaners dat iemand aanspreeklik gehou word vir die ontydige dood van ʼn geliefde in ʼn motorongeluk.
Een só ʼn persoon is Jeanetta Groeneveld (52), wie se dogter saam met twee ander mense in 2021 in ʼn kop-teen-kop‑botsing naby Parow in die Wes-Kaap dood is.
Twee jaar later wag sy steeds dat die motoris wat glo die ongeluk veroorsaak het, sy dag in ʼn hof kry.
Groeneveld het vandeesweek aan Maroela Media gesê haar dogter en enigste kind, Maxi (17), was op 3 Januarie 2021 na die Food Lover’s Market in Parklands op pad, waar sy vakansiewerk as pakker sou doen. Saam met haar in die kar was Groeneveld se vriendin, Lisbé Small, dié se seun Seth Schoonraad (16) en Small se susterskind Malizka Steenkamp (toe 16). Die ongeluk het oorkant die Burgundy-landgoed tussen Parow en Durbanville gebeur en Malizka was die enigste oorlewende in Small se voertuig.
ʼn Motoris in ʼn wit Volkswagen Polo het na bewering gejaag, ander motors verbygesteek en eindelik reg van voor teen Small se rooi Chery QQ gebots. Volgens Groeneveld beweer verskeie ooggetuies dat die motoris in die Volkswagen Polo onverskillig gery het. Die man het glo ná die ongeluk ook agter in sy eie voertuig geklim en aanvanklik aangevoer dat hy nie die voertuig bestuur het nie.
Die saak word deur die Parow-polisiestasie ondersoek, maar ondanks verskeie besoeke aan die betrokke speurder en talle oproepe aan verskeie beamptes, blyk dit dat die ondersoek botstil staan.
“Ons soek net geregtigheid. Ons gaan deur hel. My kind was ʼn topleerder en het ʼn belowende toekoms gehad. ʼn Stuk van my is vir altyd uitgeruk,” het Groeneveld gesê.
“Malizka, wat die ongeluk oorleef het, leef met baie fisieke pyn en kan ook nie meer die toekomsdrome nastreef wat sy voorheen gehad het nie. Ons sal eers berusting kan vind as die persoon wat die ongeluk veroorsaak het, tot verantwoording geroep word.”
Maroela Media het ʼn navraag aan die Wes-Kaapse polisie rakende dié ondersoek gerig, maar wag nog op terugvoer.
‘Owerhede onbevoeg, apaties’
Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê owerhede en die regstelsel doen beslis nie genoeg om geregtigheid vir slagoffers te verseker nie.
“Daar is verskeie redes daarvoor en dít begin al by die ongelukstoneel,” sê Bateman.
“Dikwels word die rekonstruksie van die ongeluk heeltemal verkeerd gedoen. In baie gevalle word dit ook nie op dieselfde dag van die ongeluk gedoen nie, maar weke of maande later eers, wanneer die betrokke voertuie en bewyse nie meer op die toneel is nie.”
Owerhede versuim ook dikwels om die besonderhede van betrokke persone en moontlike ooggetuies, asook ander moontlike bewyse soos beeldmateriaal van kringtelevisie- of paneelbordkameras, in te samel. Dieselfde geld vir die afneem van verklarings, insluitend dié van paramedici en nooddienspersoneel wat dikwels van die eerste mense op ʼn ongelukstoneel is.”
Bateman sê dit word onder meer deur ʼn kombinasie van onbevoegdheid en apatie in die polisie sowel as die regstelsel in geheel veroorsaak.
In sommige gevalle het speurders bloot nie die nodige ervaring nie. In ander gevalle gee polisiebeamptes of aanklaers doodeenvoudig nie om wat van die saak word nie.
“Nog ʼn verskoning wat ons dikwels [van owerhede] hoor, is dat die uitslae van bloedalkoholvlakke lank vat. Dis egter ʼn flou verskoning, aangesien daar baie ander bewyse is wat met vervolging kan help.”
Paaie, polisiesigbaarheid ook ʼn probleem
Layton Beard, woordvoerder van die AA, beskryf padongelukke en -oortredings in Suid-Afrika as ʼn “nasionale krisis”.
Volgens Beard begin die probleem reeds by die afdwing van padreëls deur wetstoepassers.
Dit kan onder meer wees omdat wetstoepassers nie die regte toerusting het om motoriste te toets wat byvoorbeeld vir dronkbestuur voorgekeer word nie, en laboratoriums nie vinnig en doeltreffend genoeg uitslae kan verskaf nie.
“Die regering doen ook nie genoeg om padveiligheid te bevorder nie. Die padsterftesyfers bly bestendig of styg jaarliks. Tussen 2012 en 2021 het ʼn gemiddeld van 12 761 mense elke jaar weens padongelukke in Suid-Afrika gesterf.”
Beard sê daar is boonop veels te min wetstoepassers op Suid-Afrikaanse paaie en dat dubbel dié getal nodig is om paaie beter te beveilig.
“Elke wetstoepassingsbeampte moet ook behoorlik toegerus wees met onder meer die nodige toerusting, voertuie, werkende stelsels en rekenaars.”
Dan is die omkopery van wetstoepassers natuurlik ook ʼn groot probleem wat daartoe lei dat mense nie vervolg word nie.
“Omkopery kom ook by toetssentrums voor, wat beteken dat onpadwaardige voertuie en onbevoegde bestuurders op ons paaie beland.
“Wanneer daar geen gevolge is vir oortredings nie, skep dit ʼn baie gevaarlike situasie op die pad.”
Nog ʼn groot bydraende faktore is voortslepende beurtkrag en die slegte toestand van die land se paaie, wat dikwels ook tot ongelukke lei, asook voortslepende kragonderbrekings.