Té veel uitsprake van Grondwethof is laat

Die Konstitusionele Hof lewer nie uitsprake betyds nie. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Marecia Damons, GroundUp

Die hoogste hof in die land stel ʼn swak voorbeeld vir ander howe deur uitsprake keer op keer laat te lewer. Die Konstitusionele Hof het tans vier laat uitsprake uitstaande en vele ander is ook vanjaar laat gelewer.

Die geregtelike norme en standaarde vir howe vereis dat uitsprake in siviele en strafregtelike sake oor die algemeen nie voorbehou moet word sonder ʼn vasgestelde datum om uitspraak te lewer nie.

In plaas daarvan om reg ná ʼn verhoor of kort daarna uitspraak te lewer, kan die hof besluit om uitspraak voor te behou sonder ʼn vasgestelde datum vir uitspraak.

Die geregtelike norme en standaarde bepaal dat, afgesien van “uitsonderlike gevalle waar dit nie moontlik is om dit te doen nie, alles moontlik gedoen moet word om uitspraak nie later nie as drie maande ná die verhoor te lewer”.

Luidens die jongste verslag oor die hoofregter se vonnisse wat voorbehou is, was 181 vonnisse teen Desember verlede jaar vir minstens ses maande in howe landwyd uitstaande. Altesame 901 vonnisse is voorbehou.

GroundUp het ʼn lys saamgestel van uitsprake wat laat gelewer is. Altesame tien uitsprake, wat sedert Augustus verlede jaar deur die Konstitusionele Hof voorbehou is, is ses maande laat gelewer. Altesame 19 is eers ná drie maande gelewer en is – volgens die geregtelike norme en standaarde – laat gelewer.

GroundUp het verlede week ʼn navraag by die kantoor van die hoofregter ingedien oor 21 sake wat op die Konstitusionele Hof se webwerf nog op uitspraak wag. Daarna is sommige van dié sake se status bygewerk en nou is daar net 18 uitstaande uitsprake.

Sommige sake wat gelys is, is jare gelede al afgehandel, maar verskyn steeds op die lys.

Uitspraak in die saak tussen Sasol Chevron Holdings en die kommissaris vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is byvoorbeeld op 4 Mei vanjaar voorbehou. Uitspraak is egter op 3 Oktober vanjaar gelewer; die webwerf van die Konstitusionele Hof het dit steeds gelys as hangend.

Nog ʼn voorbeeld is die saak tussen Sassa en die lewensversekeringsmaatskappy Lion of Africa oor aftrekkings van kindertoelaes. Uitspraak is reeds op 26 Mei 2016 gelewer, maar dit word op die hof se webwerf gelys as wagtend op uitspraak. Die webwerf lys ook Bonginkosi Khanyile teen die staat as gereserveer op 1 Maart 2017. Ook in hierdie saak is uitspraak al gelewer.

Gegrond op die Konstitusionele Hof se lys van uitstaande vonnisse en bogenoemde uitgesluit, is daar vier vonnisse wat meer as ses maande gelede voorbehou is wat nog uitstaande is:

  • Uitspraak in die saak tussen Estelle Booysen (née Swanepoel) en Jacobus Cornelius van Eden is op 18 Augustus verlede jaar voorbehou;
  • uitspraak in die saak tussen Robert Andrew Groves en die minister van polisie is op 14 Februarie vanjaar voorbehou;
  • uitspraak in die saak tussen MC Olesitse teen die minister van polisie is op 16 Februarie vanjaar voorbehou; en
  • uitspraak in die saak tussen Tereza Rayment en die minister van binnelandse sake is op 28 Februarie vanjaar voorbehou.

GroundUp het met verskeie geleenthede die hoofregter se kantoor gekontak om vas te stel watter sake by die Konstitusionele Hof afgehandel is en watter nog uitstaande is. Hoewel die navraag glo “aandag geniet”, het die kantoor ná verskeie opvolgversoeke ophou reageer.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Seker nie gedink EEN instelling is vrygespreek van die res van die land se onbevoegde onverandwoordbaarheid nie? Letterlik verhewe bo enige wetgewing om verandwoordelik gehou te word. Interessant die baie sake wat ministers insluit?

gatgogga ·

Lyk my die hof is veral bang om uitsprake te lewer wanneer ministers betrokke is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.