Tegeta se Eskom-kontrak onregmatig; regstappe volg

(Argieffoto)

Die hooggeregshof se tersydestelling van ʼn omstrede R3,7 miljard-kontrak tussen Tegeta, die maatskappy met Gupta-bande, en Eskom is wyd verwelkom.

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag beslis die kontrak wat op 10 Maart 2015 aangegaan is en wat bepaal dat Tegeta tien jaar lank steenkool aan Eskom se Majuba-kragsentrale sal voorsien, is onregmatig en ongeldig en kan nie afgedwing word nie.

Tegeta het voorheen aan die berugte Gupta-familie behoort.

City Press het vroeër berig Eskom het ná steenkooltekorte in 2018 ʼn mediumtermyn-noodkragverkrygingsmandaat van 2008 uitgebuit om steenkooltenders tussen 2013 en 2015 toe te ken. Tegeta het in dié tyd ʼn uiters winsgewende kontrak bekom. Die maatskappy is selfs toegelaat om die voorwaardes verbonde aan die kontrak te bepaal en ʼn verlenging tot 2025 te beding.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het in 2018 met sy hofgeding begin om die kontrak ter syde te laat stel.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het die uitspraak verwelkom en sê die “stryd teen korrupsie gaan nie sonder optrede deur wetstoepassingsagentskappe gewen word nie”.

“Wanbestuur is dikwels die grondslag vir korrupsie om te floreer en dít ten koste van die staatskas en eindelik ook dienslewering. Ons is bemoedig wanneer pogings om hulpbronne wat aan Suid-Afrikaners behoort te herwin, vrugte afwerp,” het Lamola gesê.

Die hof het ook beslis dat die SOE ingevolge art. 133 van die Maatskappywet kan voortgaan met regstappe teen Tegeta, selfs al is die maatskappy in Februarie 2018 in sakeredding geplaas.

Ghaleb Cachalia, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings, het die uitspraak verwelkom en gesê hy hoop die Gupta-gerigte raad, wat destyds deur die minister van openbare ondernemings Lynne Brown aangestel is, word dienooreenkomstig aangekla. Die raad is destyds gelei deur Ben Ngubane en het die voormalige Eskom-hoof Brian Molefe ingesluit.

Cachalia het gesê ses van die raad se agt lede het bande met die Guptas gehad, of was sakevennote van hulle.

“Dit is hoog tyd dat diegene wat verantwoordelik is vir die enorme diefstal by Eskom en ander staatsinstellings voor stok gekry word,” het Cachalia gesê.

Die DA sê hy loof die SOE se optrede om die saak tot op hierdie punt te dryf, maar dat nie net een saak nagejaag kan word om aan die land se behoefte vir verantwoordbaarheid te voldoen nie.

Cachalia sê hy sal aanhou vra dat die besonderhede van alle groot staatskontrakte wat aangegaan is, bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dries ·

En steeds is NIEMAND agter tralies nie… Maar as die polisie net dink jy lyk verdag wanneer jy saans rondry, ruk en pluk hulle vir jou rond en gooi jou in ‘n vangwa sonder vrae.

Nie Verbaas ·

Ek stem. Kom ons kyk maar hoe ver gaan hulle met die katte met die dik sterte se vervolging.

henndrik ·

Hulle is reeds in sakeredding so daar sal nie regtig iets daar teruggekry word nie, die mense by Eskom wat dit in plek gesit het moet ook aanspreeklik gehou word

4ntj13 ·

Ek hoop dit sluit ook vervolging van die vorige minister in. Dis tyd dat hulle ook beboet word vir hul vrot oorsigtelike werk of vennootskap met Guptas.

Sarel ·

Rerig!!!!! Ern van Ponokio vervolgings wat nooit gaan gebeur en niemand ooit verantwoordelik gehou en vervolg sal word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.