Tegnologie skep hoop vir die volgende generasie Afrikaanssprekendes

dirk-hermann-sos-onderwyskongres-2019-06

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het met leiers in die onderwys gesels oor tegnologie en die toekoms vir Afrikaanse onderwys. Foto: Reint Dykema.

“Meer Afrikaanse kinders word gebore as die aantal Afrikaners wat jaarliks emigreer.”

So het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, gesê op die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se leierskapkongres, wat Dinsdag by die St. George Hotel in Centurion plaasgevind het. Die kongres is deel van die SOS se groter kongres vir onderwysers wat hierdie week in Gauteng plaasvind en deur meer as 400 onderwysers bygewoon word.

Solidariteit het ’n opname onder Afrikaanssprekendes gedoen om te bepaal hoe hulle werklik voel oor emigrasie. Die uitslae wys dat 67% van Afrikaanse mense onder 40 dit oorweeg om te emigreer. “Dis ’n verskriklike syfer en ’n skuldigbevinding teen ’n staat wat nie daarin slaag om ’n belangrike deel van hul gemeenskap geborge te laat voel nie,” sê Hermann.

“Die 98,5% van die groep wat oorweeg om te emigreer, het egter nog geen stappe gedoen om te emigreer nie. Dit is dus ’n ontstellende noodkreet van jongmense wat sê hulle voel so vervreemd dat hulle al oorweeg om te trek, terwyl hulle eintlik in Suid-Afrika wil bly.

Herman het bygevoeg dat slegs ’n skrale 0,7% van Afrikaanssprekendes aangedui het dat hulle wel volgende jaar gaan emigreer.

“Die grootste groep – 99,3% van Afrikaners – gaan dus nié volgende jaar emigreer nie en is steeds hier,” sê Hermann.

Suid-Afrikaners kry ook meer kinders as ’n paar jaar gelede. “Dit is ons verantwoordelikheid en plig om hoop te skep vir die volgende geslag, vir dié wat agterbly en dié wat gebore word,” sê Hermann.

Hermann sê die staat is besig om te verswak en baie staatsdienste moet nou deur die gemeenskap gelewer word.

“Tegnologie en die vierde industriële revolusie kan ons help om vinnig oplossings te vind vir hierdie probleem, wat ons in die verlede gedink het onmoontlik is.”

Hy sê dit is juis tegnologie wat gehalteonderrig nou meer moontlik as ooit te vore maak.

“Die staat se geskiedenis wys ons kan nie al ons eiers in die staat se mandjie sit nie. Ons kan nie op hulle staatmaak om goeie openbare skole te bou en onderhou nie. Ons kan nie verseker weet dat daar oor twee jaar nog goeie openbare skole gaan wees nie” sê Hermann. “Daarom moet ons voorsiening maak vir gehalteskole van ons eie, met die goeie tegnologie tot ons beskikking.”

Hermann verwys na die SOS se Wolkskool, wat oplossings bied vir skole in die platteland wat nie meer wêreldklasonderwysers het nie en kan help om goeie skole in die stad selfs nog beter te maak. Dit kan op die lange duur ook ’n bekostigbare privaatskoolstelsel daarstel.

“Nuwe tegnologie hou ons arms regop sodat ons soomloos in die toekoms kan ingaan, maak nie saak waarheen die onderwys gaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

M ·

Julle moet wikkel. Tyd loop uit vir ons Afrikaners. Terloops emigraise is goed solank dit al die liberales is ….

Jimmy ·

Hermann klink baie trots dat daar so baie Afrikaner kindertjies hier rondhardloop. SA is seker die enigste plek in die wêreld waar wittes se aanwas hoog is. Dit is ‘n teken dat die Afrikaner se sosiale agteruitgang kan lei tot selfs meer kihders. Om kindertjies groot te maak kos baie geld. Min ouers het die geld vir al die inisiatiewe. Die laaste ding wat ons nou nodig het is Afrikanertjies wat op straat beland.

aj ·

Wonderlike geleentheid om die 4de industriële rewolusie te omhels d.m.v. ruimte – eeuse onderwys.

Terwyl die RES nog skole afbrand vir onderrig soos in die Middel eeue!

Breek weg Bugers!!!

Adam ·

Jimmy, dink jy regtig ons Afrikaners moet ophou leef omrede ons nie uitsluitlike beheer oor ons eie lot het nie. Die bevolkingsaanwas onder blankes is gewis nie bokant aanvaarbare norme nie. Natuurlik vier misdaad hoogty en niemand sal stry oor hoe die regering die ekonomie geknou het nie, maar jy kan seker wees dat in die res van die wereld dit ook nie net maanskyn en rose is nie. SA bied nog enorme geleenthede vir diegene wat bereid is om die hand aan die ploeg te slaan. My eie kinders het na hul universiteitstudies in die korporatiewe wereld werk gekry met hul eerste poging en dit is tekenend van die geleenthede wat daar is.

Jimmy ·

Feit is, Afrikanertjies wie se ouers skaars vir een kind behoorlik kan sorg, staar armoede in die gesig. Gaan kyk maar hoe lyk wit plakkerkampe rondom stede in Gauteng. Syfers van 300 000 wit plakkers landswyd is al genoem. Helpende Hand sal weet. Hoë bevolkingsaanwas is ‘n teken van sosiale probleme, beslis nie voorspoed nie. En onthou, nie almal is gelukkig om universiteit toe te gaan nie. Party het nie geld nie, ander het nie die verstandelike vermoë nie. Wees maar dankbaar jou kinders is deel van die wat suksesvol is, en bid dat jou kleinkinders in hul voetspore sal volg. Terloops, gaan kyk maar na die “Happyness Index”. SA is onder die laagstes. Dieselfde met die Human Development Index en produtiwiteitindekse. SA is ‘n mishoop vergeleke met die ontwikkelde wêreld. Bevolkingsaanwas moet verantwoordelik geskiet.

Leonard van der Dussen ·

Dis wonderlik om in ‘n groterige gesin te kon grootword. Het geleer deel, stoei, debatteer, minste wees, verantwoordelikheid neem, leierskap en ja, waar daar nie altyd geldelike rykdom was nie juis geleer innoveer, saamwerk (selfs teen groot verskille in – ons is nie een kind dieselfde as die ander nie), optimiseer; en ‘n aanvoeling om iets vir jou naaste oor te hê. Hoera vir groter gesinne! Geen onderwys kom naby aan daardie leerskool en ondersteuning van die groot gesin nie.

Dirk ·

Die ekonome is dit almal eens oor die ekonomiese vooruitsigte dat Suid Afrikaners verder gaan verarm oor die volgende vyf jaar, uitgesluit die reeds gevestigde welaf Suid Afrikaners. Met al Solidariteit/Afriforum pogings om die Afrikaner nie te laat emigreer nie, sluit die verarming seker dan maar Solidariteit se lede uit. Indien nie, gaan die Afrikaners wat aangedui het dat hulle gaan emigreer na volgende jaar, Virseker so maak!

Kallie ·

In elke Afrikaners gesin met wie ek te doen kry in my familie, vriendekring en werkomgewing is daar geliefdes in die buiteland – sibbe, kinders, kleinkinders, selfs ouers. Elkeen kan ‘n lys maak van oud werkkollegas en skoolvriende wat verkas het. In 1990 het ek beswaarlik ‘n kennis gehad wat in die buiteland woon. Vandag is dit ‘n ander storie. En nog meer is in die beplanningsfase. Nie almal in die buiteland is gelukkig nie, maar terugkeer is nie ‘n opsie nie.

Sandra ·

Hulle sal nie – Nie as as hul reg opgevoed word deur ouers en Tegnologies geletterd raak nie. Ek sê lankal Wolkskole en privaat skole is die antwoord. Dan kan die Model C skole waaroor so baklei word, maar opgevoeter word deur die wat dit wil hê, Solank dit net bekostigbaar bly vir ouers.

Fanie Kemp ·

Baie Baie dankie Dr.Dirk Hermann vir jou positiewe benadering en Solidariteit vir jul volgehoue, positiewe en opbouende aksies, soos bv die miljarde rand wat julle gaan aaanwend vir Onderwys, juis terwille van die 98% Afrikaner kinders wat heelwaarskynlik in hierdie land gaan bly en vir wie ons ‘n toekoms moet help skep.
Om sinies en afbrekend te wees sal niks help nie. Kom ons ondersteun organisasies soos Solidariteit en AfriForum en help so bou aan ‘n toekoms vir ons nageslagte.

Michelle ·

ons kinders moet nie uit die land nie maar omdat ons Afrikaners is mag ons ook nie in die pragtige land werk nie, want daar moet eerder ‘n engels sprekende aangestel word as Afrikaans. Daar is baie baie Afrikaners in ander lande. Ons Afrikaners hou maar by ons tonnel uitkyk op die lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.