Teleurstelling ná saak teen Fochville-beskuldigdes teruggetrek is

Natasha Wheeler Barnard (Foto: Natasha Wheeler Barnard/Facebook)

Die familie van die vermoorde Natasha Wheeler Barnard (33) is teleurgesteld dat vier van die vyf verdagtes wat vir Barnard se moord aangekla is, nou vry gaan rondloop.

Alle aanklagte is Maandag teen Maryna Doyle, haar kêrel, Sidney Scheepers, asook Twane Wienand en Dave Lourens teruggetrek.

Landdros Fatima Khan het in die landdroshof op Fochville, Gauteng, geen redes verskaf waarom die aanklagte teruggetrek word nie.

Die besluit volg nadat die beskuldigdes se regsverteenwoordigers in April hulle tot die direkteur van openbare vervolging (DOV) in Gauteng gewend het met vertoë dat die saak teen hulle teruggetrek moet word. Die beskuldigdes het op 17 Maart die eerste keer vertoë by die hof ingedien, wat onsuksesvol was.

Die beskuldigdes by die landdroshof in Fochville (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die vertoë bevat ʼn opsomming van die beskuldigdes se weergawe van gebeure. Die hof het egter nie die inhoud daarvan bekend gemaak nie.

Die vyfde beskuldigde, Rudolf Pretorius, het egter nie vertoë gerig nie en die saak teen hom gaan voort. Hy sal na verwagting weer op 6 Oktober in die hof verskyn.

Barnard se familie was ontsteld oor dié besluit.

Natasha Wheeler Barnard se ma, Frieda, suster, Chantell, en pa, John. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Ons is teleurgesteld en voel die besluit om die klagte te laat vaar, sonder enige rede, is onregverdig,” het Barnard se suster, Chantell Wheeler, na afloop van die hofsaak aan Maroela Media gesê.

Die familie het die oggend met ʼn positiewe houding hof toe gegaan en met trane daar weggestap.

“Ons verstaan nie waarom dit gebeur het nie. Ons is in die donker.”

Barnard is op 3 Maart 2022 in die Boulevard-restaurant-en-kroeg op Fochville na bewering aangerand en vroeg die volgende oggend by haar ma, Frieda Venter, se huis afgelaai. Paramedici het haar later daar dood verklaar. Sy het beserings gehad wat daarop dui dat sy aangerand is.

Die ondersoekbeampte, ao. Kitty Fourie, het vroeër getuig dat Barnard traumabeserings aan haar kop, nek en ruggraat opgedoen het.

In videomateriaal van die voorval kan daar glo gesien word dat ʼn konfrontasie tussen Pretorius (die kroegbestuurder) en Barnard ontstaan het.

Rudolf Pretorius (Foto: Rudolf Pretorius, Facebook)

Fourie het getuig die videomateriaal wys duidelik dat Barnard daarna na die deur stap, waarna Pretorius haar van agter met ʼn stoel en kussing gegooi het. Sy het teruggedraai om weer in te gaan, maar Doyle en Wienand het glo na die deur beweeg en Barnard gekeer en na buite gestamp.

Volgens Fourie se getuienis is Pretorius na die kantoor waar hy die videokameras afgeskakel het. Hy is daarna terug na die gebied waar die stampery met Barnard aan die gang was. Die kameras is glo ná ongeveer 11 minute weer aangeskakel. Barnard het in daardie stadium op die grond in die parkeerterrein gelê.

Die videomateriaal sal na verwagting as kernbewysstuk in die saak dien.

Doyle, Scheepers, Wienand en Lourens is verlede jaar op borgtog van R5 000 elk vrygelaat, terwyl Pretorius se borgtog op R10 000 vasgestel is.

Aanklagte teen ʼn sesde verdagte, Cecilia Storbeck, is in Desember verlede jaar laat vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Die saak is waarskynlik teruggetrek weens ‘n tekort aan bewyse.

Magda G ·

Weer eens n geval waar n onskuldige vrou deur n groep aangeval word en dan kom die aanranders skotvry. Mag alle hel hulle tref

Cherokee ·

Ek dink nie dat daar tot ‘n beslissing gekom kan word in enige saak, sonder om redes te gee vir die besluit.

Mnr De Beer ·

Ek stem saam. Te veel bakleiery in sommige van die kuier plekke en kroee. Dit maak dit nie meer lekker om rustig rugby te gaan kyk of lekker te kuier. Want altyd is daar die persone wat net wil baklei in sulke plekke. Baie min plekke waar daar nie bakleiery is.

domheks ·

Skande! Wie gaan nou vir haar minderjarige kinders sorg? Die gemors moes elkeen verplig word om ‘n bedrag maandeliks by te dra vir die versorging van die kinders! Ouma en Oupa kan nie alleen die verantwoordelikheid neem nie.

Roek ·

Die feit dat die saak terug getrek is ,is dit nie dat die mense onskuldig is nie daar nie , die NVG kan enige tyd weer die saak open , dit is heel moontlik dat hul nog bewyse wil kry of iets dergliks , Om die saak die heletyd uit te stel het nou weer sy eie probleme , trek die saak terug , kry jou varkies agtermekaar en indien alles reg loop stamp hulle dan om , onthou net die oomblik wat daar ‘n uitspraak gelewer word het jy ‘n probleem , dit is waarom die Landros niks gese het nie ! Die landros trek die saak terug omrede die aanklaer dit aangevra het!

Roek ·

Onthou ook daar is ‘n verskul tussen terug trek en Nolle proseque !

Tanya ·

Duidelik weet iemand iets wat die res nie weet nie… dis baie hartseer om die mense wat vervolg moes word vir jou suster se dood, sommer net vry loop. Die feit dat Rudolf Pretorius nie deel was van die aansoek nie, beteken reeds, hy weet meer. Ons gereg… ek weet darem nie meer nie.

Hannelie ·

Laat daai Pretorius laaitie van sy eie medisyne kry. Want hoekom die kameras afsit, dit wys net hy het dit met ‘n doel gedoen….EN…hy het ‘n vrou aangerand. So hy moet maar tronk toe.

Mieke ·

Hoe “verloor” jy jou humeur so sleg dat jy iemand aanrand en die se dood veroorsaak???
Ek verstaan dit nie. Ek is al ouer, so miskien het ek maar met tyd wyser geword, en loop ek weg, maar genade, wat gaan met die mensdom aan, of is dit maar die laatste 3 letters in mensDOM??

Truman Burbank ·

Die lewe het verander. As jongeling was daar nooit sulke gevalle in kuierplekke wat ek van geweet het nie. Dalk het ek per ongeluk nie daarmee te doen gekry nie. Maar terwyl jong en onverantwoordlike mense by suke plekke uithang, gaan dit net erger word. Elkeen wat na n kroeg of kuierplek gaan, doen so met die wete dat so iets kan gebeur. En enige hofsaak en/of skuldigbevinding is te laat. Daar het n barbarisme ingetree by die laaste generasies wat skrikwekkend is

piet ·

Hang af waar jy gebly het en welke kroee jy besoek het. As jongeling was ek wel by sulke gemors kroe waar ouens mekaar met bottels geslaan het en so aan. Party ouens gaan net na sulke plekke toe om te baklei, gemors van die aarde. Jy kry ordentlike bars ook waar sulke gemors nie sal gebeur nie, moenie my verkeerd verstaan nie.

Harley Davidson ·

Ek sou die beskuldiges by die stasie gaan aflaai het ,as daar mense is wat yellowstone kyk sal hulle presies weet wat ek bedoel.

piet ·

Hoekom nie die vrou uitlos toe sy uiteindelik loop nie? Maar drank praat, die hele spulletjie was seker weer gesuip.

007 ·

Almal neem net aan die aangeklaagtes is skuldig. Nie een van ons was daar nie. Hoekom sou die klomp haar net aanrand? Iets moes verseker gebeur het tot aanlyding van alles. Wat soek n ma van twee kleuters in so plek in elk geval? Die mannetjie wat die kameras afgesit het het met getuienis ingemeng en moet verduidelik. Ek hoop maar die waarheid sal seëvier.

Lillian ·

Deesdae kuier jý nie meer in ‘n pub of ‘n club nie, jy kan jou lewe verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.