Telkom wil tot 3 000 aflê

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Reint Dykema)

Solidariteit het vandag ʼn skrywe aan Telkom gerig waarin versoek word dat ʼn moratorium op gedwonge afleggings geplaas word. Dit volg nadat die maatskappy vakbonde in kennis gestel het dat tot 3 000 werkers afgelê kan word.

In ʼn brief wat Telkom Donderdagoggend aan werkers gestuur het, skryf Telkom se uitvoerende hoof, Sipho Maseko, dat die afleggings nodig is om die bedryfsmodel te hersien. Dit blyk boonop die eerste van vele rondes afleggings by dié maatskappy te wees.

Maar Solidariteit sê hierdie afleggings bedreig juis die finansiële volhoubaarheid van die maatskappy.

“ʼn Maatskappy kan nie meer as R100 miljoen aan sy uitvoerende span betaal en dan van 3 000 van sy werksmag ontslae raak nie. Telkom se uitvoerende hoof, Sipho Maseko, alleen het in die vorige finansiële jaar ʼn volle R23 miljoen huis toe geneem,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Dit is roekeloos en genadeloos as ons kyk na die arbeidsmark wat afgelegde werkers in die gesig staar,” sê hy.

Solidariteit vra dat ʼn aggressiewe heropleidingsprogram tydens die moratorium by Telkom ingestel word, sodat werkers met nuwe vaardighede toegerus word om Telkom in die vinnig veranderde inligtingsomgewing verder te kan help groei. Telkom-werkers moet saam met die maatskappy van vastelyn- na mobiele dienste beweeg.

Die Telkom-winkel in Centurion Mall Foto: Centurion Mall

Hermann sê die feit dat Telkom nou tot 3 000 mense wil aflê, bevestig dat die maatskappy klaaglik misluk het in die heropleiding van sy mense, sodat Telkom nog vinniger in sy groeifokusgebiede soos mobiele dienste kan ontwikkel.

“Indien ʼn maatskappy nie daarin kan slaag om sy werksmag vir nuwe uitdagings op te lei nie, moet daar nie van die werkers ontslae geraak word nie, maar van die topbestuur,” sê Hermann.

Telkom se werksmag het reeds in die vorige finansiële jaar met 2 176 of 12,5% gekrimp. Dit was nie weens gedwonge afleggings nie, maar grootliks weens vrywillige skeidingspakkette. Hermann sê grootskaalse personeelvermindering by ’n maatskappy kan maklik tot swak dienslewering lei. “’n Verdere 3 000 poste wat besnoei word, is te veel. Indien die personeel verder verminder moet word, kan dit deur vrywillige prosesse en natuurlike personeelomset gedoen word,” voeg Hermann by.

Hermann sê die inligtingstegnologie-omgewing is hoogs mededingend en goeie vaardighede is skaars. “Die onsekerheid wat Telkom nou skep, gaan bloot tot gevolg hê dat die beste werkers eerste loop.

“Telkom moet eerder ’n boodskap uitstuur dat ’n pad saam met lojale werknemers gestap word. ’n Moratorium op gedwonge afleggings sal die sekerheid gee wat Telkom-werkers nou nodig het,” sluit Hermann af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris Ws

Waar is die regering se beloofde “werkskeppings” projekte???

Daan

Telkom is in elkgeval n klomp skelms. Swak diens lewering. Al hou hulle al 3000 van daai werkers gaan hulle nie meer baie lank werk nie want meer en meer mense beweeg weg van telkom af juis oor hul swak diens lewering. Jy kanseleer iets by hulle en dan vir die volgende 8 maande vat hulle nogsteeds jou geld met beloftes om dit trug te gee

Se maar net

Hoekom is dit altyd die man op die grond wat afgele moet word, kan Telkom maar nie eers begin by middel en top bestuur en daar poste sny, dis gewoonlik die “fat cats” wat voordeel uit die situasie trek.

charmaine

Stem Daan, ons betaal vir TELKOM WiFi lyn vir nou amper 4-6 maande maar geen diens want ons log die problem want dis by die drade wat ook nie reggemaak kan of wil word nie. Ons gaan nou maar die hele besigheid cancel en n ander uitweg prober.

Johan Venter

Wat Telkom se ‘aflegging’ of herstrukturering aan betref wonder ek in hoe verre dit nie met Open Serve te doen het nie. Telkom het ‘n paar jaar gelede ‘n ‘been’ tot stand gebring, of dan met seker mense daardie tyd, die Guptas, as ek reg verstaan, ‘n ooreenkoms aangegaan om die nuwe been aan hulle te verkoop. Die ‘nuwe been’ wat Open Serve genoem is, sou die tegnikusse wees wat die veldwerk doen en ook vir vesel verantwoordelik wees. Die ooreenkoms met die Guptas het toe platgeval na die openbaring van staatskaping. Dus, is hierdie aflegging in effek dus nie… Lees meer »