Thabo Bester: Moordsaak ondersoek; jongste oor ondersoek  

Thabo Bester tydens sy verhoor meer as tien jaar gelede. (Foto: Verskaf)

Die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste gaan Donderdagoggend die jongste inligting bekend maak rondom die ontsnapping van Thabo Bester.

Makgothi Thobakgale sal om 09:00 die media toespreek by die Grootvlei-gevangenis in Bloemfontein.

Intussen het genl. Fannie Masemola, nasionale polisiehoof, opdrag gegee dat die ondersoek na Bester, die sogenaamde Facebook-verkragter en -moordenaar, prioriteit geniet en gedoen word in die beste belang van geregtigheid vir die slagoffers, oorlewendes en die geaffekteerde gesinne.

Speurders van die eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe en georganiseerde misdaad in die Vrystaat en Gauteng werk onverpoosd aan die saak, het Masemola gesê.

ʼn Moordsaak word ook ondersoek in verband met die liggaam wat in die sel gevind is waar Bester aangehou en ontsnap het nadat die uitslag van die DNS-ontleding bevestig het dit is nie die lyk van Bester nie.

Die lykskouingsverslag het verder aan die lig gebring dat die oorledene dood is weens houe met ʼn stomp voorwerp teen die kop. Die persoon was reeds dood voor die beweerde brandstigting.

Weens die sensitiewe aard van die ondersoeke het Masemola ʼn beroep gedoen op die publiek om geduldig te wees en ondersoekers die nodige ruimte te gee om ʼn deeglike ondersoek te doen.

“Om onnodige druk op die ondersoekers te plaas en in hierdie stadium heeltyd opdaterings te eis oor die verwikkelinge in die saak, het die potensiaal om die ondersoek in gevaar te stel.”

Volgens Masemola word daar ook ondersoek ingestel oor “die uitlek van sensitiewe en vertroulike inligting” aan die media.

Die Vereniging van Staatsamptenare (PSA), wat meer as 13 000 werknemers van die departement van korrektiewe dienste (DKD) teenwoordig, het intussen gesê hy is baie bekommerd oor onlangse berigte van hoëvlakkorrupsie en onderbemanning by korrektiewe sentrums, sowel as wydverspreide omkopery van korrektiewe amptenare deur oortreders.

“Onlangse onthullings oor die ontsnapping van Thabo Bester bevestig verder die wydlopende korrupsie en gebrek aan aanspreeklikheid wat die DKD teister,” het Reuben Maleka, woordvoerder van die PSA, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Hoe proe die eier op julle gesigte ? But we are not corrupt !! ????

Casper ·

Hoe het die lyk in Bester se sel beland.Een ding is seker,sy ontsnapping is fyn beplan.Daardie lyk is nie die van ‘n gevangene, nie so die lyk is “ingevoer”Wat gaan regtig daaraan en wie sit agter die hele debakel.

Andries ·

Ja nee ek sou sê hy het definitief hulp van binne gekry.

Roek ·

Hulle moet almal toesluit,vanaf die hoof tot by die skof wat die dag daar was !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.