Thabo Bester-sage: Vier vandag in hof

Dr. Nandipha Magudumana tydens haar vorige hofverskyning. (Foto: AFP)

Vier beskuldigdes sal vandag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn vir hul beweerde aandeel in die ontsnapping van die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester.

Bester se vriendin, dr. Nandipha Magudumana, sal vir die eerste keer saam met haar pa, Zolile Sekeleni (65), in die hof verskyn.

Die ander twee beskuldigdes is Teboho Lipholo en Senohe Matsoara. Die beskuldigdes staan tereg op verskillende aanklagte, waaronder moord, dwarsboming van die gereg, medepligtigheid en brandstigting.

Lipholo is ʼn werknemer van ʼn maatskappy wat gekontrakteer is om kameras by die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis te installeer en in stand te hou, terwyl Matsoara ʼn bewaarder by die tronk was.

Die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester tydens sy hofverskyning (14 April 2023) (Foto: AFP)

Bester het Vrydag in hand- en voetboeie in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn – waar sy regsverteenwoordiger aangevoer het dat hy vir sy lewe vrees. Die saak teen Bester is tot 16 Mei uitgestel.

Bester, wat die Facebook-verkragter gedoop is, is in 2012 lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy slagoffers op dié sosialemediaplatform gelok en hulle dan verkrag en beroof het. Hy het minstens een van sy slagoffers vermoor.

Hy het sowat ʼn jaar gelede tydens ʼn gewaagde ontsnapping uit die tronk verdwyn. ʼn Verbrande liggaam is in Mei 2022 in Bester se tronksel aangetref, wat die owerhede aanvanklik laat glo het dat hy homself aan die brand gesteek het. DNS-monsters het egter later gewys die oorskot in die sel is nie dié van Bester nie.

Bester en Magudumana is vroeër die maand in Tanzanië aangekeer nadat hulle landuit gevlug het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Gedink hy gaan vir ewig wegkom! Ongelukkig haal jou sondes jou een of ander tyd in.

Astrain ·

En dit is hoe ‘n narcissistic psychopath normaalweg goeie mense saamsleur op sy pad van vernietiging! En daar loop BAIE van hulle tussen ons rond elke dag – jy is dalk met een getroud….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.