Thys die Bosveldklong oor gesondheidstryd: ‘Jy probeer dag vir dag oorleef’

Thys Streicher, bekend as Thys die Bosveldklong, by die Jakaranda-pynkliniek waar hy behandeling vir sy veelvuldige sklerose ontvang. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Slegs enkele weke gelede was Thys Streicher, bekend as die Afrikaanse vermaak-ster en radio-omroeper Thys die Bosveldklong, nog so te sê bedlêend weens sy diagnose met veelvuldige sklerose wat veral sy onderlyf aangetas het.

Sedert dr. Russell Raath van die pynkliniek by die Netcare Jakaranda-hospitaal in Pretoria hom behandel, is hy egter weer in staat om met behulp van ʼn loopraam te stap en kan hy selfs uit die swembad by die huis waar hy tans tuisgaan foto’s vir sy 11-jarige seun aanstuur om te wys: “Kyk, Pappa staan weer!”

Selfs Raath is verstom oor die vordering wat hy in die laaste paar weke gemaak het.

“Toe hy sowat agt weke gelede by my aangekom het, kon hy nie loop nie. Hier staan hy vandag, sy kleur lyk beter en sy gemoed is ook beter,” sê Raath in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Van die opgewekte, ondeunde en loslit-sanger het daar weinig oorgebly sedert hy in April 2020 met Maroela Media gesels het oor sy diagnose. Destyds het hy slegs sy kierie nodig gehad wanneer hy die dag ʼn bietjie van balans af was, het hy trots vertel.

Hy is in 2019 deur ʼn neuroloog met veelvuldige sklerose gediagnoseer nadat hy vir vier jaar die simptome wat hy getoon het, onderdruk en medici vermy het, maar sedertdien het sy gesondheid agteruit gegaan en het hy bedlêend geraak.

Thys op die verhoog, voordat hy siek geword het. (Foto: Facebook)

Nou, sowat drie jaar later, kan hy nog nie die trappe van ʼn verhoog klim nie en is daar geen manier vir hom om die energieke, lawwe vertonings waarvoor hy eertyds so bekend was, te lewer nie. Tog hunker hy steeds daarna om musiek te maak.

“’n Nuwe album sal altyd iets wees wat op die horison lê. Musiek is my menswees, dit is wie ek is. Ek kan darem nog kitaar speel en musiek maak, en soos ek hier sit het ek ʼn hele album in my kop wat ek in ʼn ateljee wil gaan neerlê,” vertel Thys by die Jakaranda-pynkliniek waar hy weke lank reeds met drups behandel word vir sy siekte.

Aangesien hy in Pretoria behandel word, moes hy ook die radio-omroeperspos wat hy by Kosmos Stereo 99.3 FM in Middelburg, Mpumalanga, beklee het, laat vaar.

ʼn Egpaar van Pretoria het hulself oor Thys ontferm toe hulle in Desember verlede jaar ʼn plasing op sosiale media sien waar mense ná aan die “In die middel”- en “Ou bobbejaan”-sanger pleit om geldelike hulp vir sy behandeling.

Hulle het jare gelede met Thys bevriend geraak toe hy by hulle troue opgetree het. Hulle het vir Thys gekontak en hom gaan haal waar hy hom in Desember bevind het en die nodige behandeling by Raath, asook verblyf, vir Thys gereël.

“Toe ek in Desember vir Thys gaan haal het, moes ek hom in die voertuig help. Nou klim hy al self in. Ek kan ook sien dat daar ʼn verbetering in sy psige plaasvind. Jy kan vir jouself dink hoe dit ʼn ou se psige aantas as hy eens op die kruin van ʼn suksesvolle loopbaan was en skielik begin hy wegkwyn weens ʼn mediese toestand.”

“Jy vat dit maar dag vir dag,” sê Thys die Bosveldklong. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Volgens Thys was hy die laaste paar jaar so besig om net “aan te gaan en te probeer oorleef” dat hy nie regtig tyd gehad het om te besin oor wat met hom gebeur nie.

“Jy vat dit maar net dag vir dag,” sê die sanger in ʼn sagte, teruggetrokke stem – veel anders as die luidrugtige, vrolike Thys wat sy aanhangers geken het.

Sy ma, Elise, wat destyds in die Paarl gewoon het, het intussen nader getrek om met sy versorging te help en hy het gereeld kontak met sy jong seun.

“Hy is altyd baie opgewonde om die foto’s te kry wat ek vir hom aanstuur van my vordering. Hy is nou oud genoeg om WhatsApp te hê; dan antwoord hy met ‘wow’ en laggende emoji’s. Dit is alles te danke aan Raath,” glimlag Thys.

Wat behels die behandeling?

Thys en dr. Russell Raath van die pynkliniek. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die drupbehandeling wat Thys ontvang, is 100% natuurlik en hy ontvang dit tans drie keer per week, waar hy aanvanklik elke dag van die week behalwe Sondae behandeling ontvang het.

Thys ondergaan ook weekliks behandeling bekend as vakuumterapie om die bloedsomloop in sy bene te bevorder, wat reeds ʼn wesenlike verskil in Thys se mobiliteit teweeg gebring het.

Veelvuldige sklerose, ʼn outo-immuunsiekte, word veroorsaak deur die verlies van myelien in die senuwees van die liggaam en veroorsaak dat die spiere wanfunksioneer. Om die produksie van myelien te bevorder, word Thys met medikasie behandel wat die produksie van butiraat, oftewel bottersuur, in die liggaam bevorder.

Raath verduidelik die produksie van bottersuur, wat hoofsaaklik in die dikderm geproduseer word, bevorder dan weer die produksie van myelien.

“Ons het ook Thys se dieet aangepas en maak seker hy kry in pilvorm die regte bakterieë in sy derms om te help met die bevordering van die produksie van bottersuur. Dit hoofbestanddeel van die drupbehandeling wat hy ontvang, is bottersuur, en hy ontvang ook die regte hoeveelheid vesel wat in die kolon kan fermenteer en bottersuur vervaardig.”

Thys in ligte luim by die pynkliniek. Hy was bedlêend voordat hy hier begin behandeling ontvang het vir sy veelvuldige sklerose en vandag kan hy weer loop. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Aangesien Thys vir twee jaar bedlêend was, het sy spiere ook gekwyn en verswak. “Waar ek glo die senuwees is so te sê genees deur die behandeling wat ons hom gee, is dit egter ook noodsaaklik dat hy deur middel van biokinetika sy spiere sterk kry. Thys sal ook ʼn MRI-skandering van sy brein moet laat doen om te bepaal tot watter mate die behandeling sy breinfunksie beïnvloed het. Uiteraard het die verlies van myelien ʼn sekere vorm van breinskade tot gevolg gehad, wat ʼn rol gespeel het in die verlies van motoriese funksie.”

Volgens Raath is enigiemand met ʼn outo‑immuunsiekte, hetsy daar uitermatige pyn by betrokke is of nie, welkom om hom te sien by die pynkliniek in Pretoria.

“Dit is belangrik om te benadruk dat ek nog nie honderde pasiënte op dié wyse behandel het nie, maar Thys is ʼn sprekende voorbeeld daarvan dat dit wel werk. Die kanse is dus goed dat dit vir ander pasiënte ook kan werk. Dit is egter nie ʼn wonderkuur nie – dit is ʼn proses en hoewel medisyne ʼn groot deel daarvan uitmaak, speel die sielkunde ook ʼn baie belangrike rol.”

  • Aangesien Thys nie tans in staat is om ʼn inkomste te genereer nie, behandel Raath hom pro bono. Hy gaan egter geldelike hulp benodig vir toekomstige mediese behandeling soos die biokinetika en ander oorhoofse koste soos verblyf en vervoer. Om Thys geldelik by te staan, kontak Maroela Media by [email protected], wat kontak met Thys se familie sal maak vir ʼn bankrekeningnommer. Die Quicket-skakel kan ook gevolg word om ‘n bydrae te maak.
  • Om kontak te maak met dr. Russell Raath van die Jakaranda-pynkliniek by die Netcare Jakaranda-hospitaal in Pretoria, stuur ʼn e-pos aan [email protected] of skakel 012 344 4198.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.