Thys die Bosveldklong: ‘Ek het nie die luuksheid van opgee nie’

Thys die Bosveldklong. (Foto: Verskaf)

Skaars ʼn maand gelede het die Afrikaanse vermaak-ster en radio-omroeper Thys die Bosveldklong nog sukkel-sukkel met ʼn kierie oor die weg gekom nadat hy in Desember verlede jaar nog rolstoelgebonde en feitlik bedlêend was.

Vandag het hy sy kierie slegs nodig wanneer hy die dag ʼn bietjie van balans af is, vertel die sanger trots. Hy is verlede jaar deur ʼn neuroloog met veelvuldige sklerose gediagnoseer nadat hy vir vier jaar die simptome wat hy getoon het onderdruk en medici vermy het.

Intussen het hy op natuurlike produkte en holistiese behandeling, soos Osoon-behandeling, begin staatmaak en glo hy dit is dié benadering wat hom gered het.

“Moet nou nie dink ek is ʼn wonderwerk nie – dit gaan oor om jou kop reg te kry, jou eie wilskrag om te oorleef en om te besef jou wêreld gaan nie stilstaan nie. Toe die siekte by my gediagnoseer is, was dit asof ʼn swart kleed oor my gesak het, want ek was onkundig oor die siekte.”

Thys vertel ʼn holistiese dokter het bevind dat hy dié siekte opgedoen het as gevolg van ʼn bosluisbyt wat hy in sy weermagdae by ʼn opleidingsgebied naby die Krugerwildtuin opgedoen het. Ironies, sê hy, gegewe die feit dat dit juis tydens sy weermagdae is dat hy geleer het dat opgee nié ʼn opsie is nie.

“Maak nie saak hoe die Liewe Vader die dice gooi nie, jy spéél.”

Deesdae hou hy sy lyf radio-omroeper by Kosmos Stereo 99.3 FM in Middelburg, Mpumalanga. “Ek het nie die luuksheid en gemak van opgee nie. Ek het verpligtinge en verantwoordelikhede. So elke uitdaging wat oor my pad kom móét ek vierkantig in die oë kyk.”

En mense moet hom ook nie jammer kry nie, sê hy. “My hande en my stem en my oë makeer niks, dit is net my onderlyf wat aangetas is.”

Daarom skryf hy nog gereeld musiek en beplan hy om weer ʼn vollengte album uit te bring. “Jy”, ʼn liefdesliedjie wat verlede jaar uitgereik is, is ʼn treffer op al wat ʼn radiospeellys is. Sy humoristiese liedjies weerklink ook daagliks tydens sy middagprogram, Gooi kole, wat oor die grootste gedeelte van die Hoëveld opgevang kan word.

“Dit is ʼn tipiese Thys-program, met pittigheid en humor. Ek probeer om luisteraars ʼn bietjie te laat lag. Mense stuur ook grappies en stories in wat ek dan oor die lug lees, in my mooiste radiostem natuurlik. En dan speel ek ʼn wye verskeidenheid van musiek, nie net my eie nie, maar ook dié van kollegas en vriende soos wyle Zac van Niekerk, Wicus van der Merwe, Leon Schuster, Anton Goosen en David Kramer,” vertel hy.

Thys die Bosveldklong. (Foto: Facebook)

Hy is ʼn man met vele kante, wat benewens sy militêre opleiding ook ʼn skilder en gekwalifiseerde afslaer is, en hy wil ook dié verskillende kante van Thys die Bosveldklong met aanhangers deel met sy jongste album. Hy finansier dié liefdesprojek self en het juis daarom nog nie ʼn uitreikingsdatum beplan nie.

Die album sal onder meer Afrikaanse humor en Engelse country bevat. “Dit sal die ander kant van Thys ten toon stel. Mense herken my aan my ritmiese en vrolike musiek, maar soos wat ʼn mens as persoon groei in die lewe, moet jou musiek ook groei sodat jy getrou kan bly aan jouself. En dan hoop jy jou gehoor kan getrou bly aan jou.”

Dieselfde mens as die Thys wat al bykans twee en ʼn half dekades Afrikaners op feeste en verhoë landswyd en geselsprogramme soos Maak ʼn las as Die Bosveldklong vermaak, is hy beslis vandag nié. Hy is die afgelope paar jaar deur diep waters, soos sy egskeiding, die dood van sy broer, Piet Streicher, en pa, ook Piet, én meer onlangs die diagnose van sy siekte.

Maar, sê dié pa van ʼn tienjarige seun, hy glo die beste lê nog voor, en sodra die algehele afsonderingstydperk in Suid-Afrika verby is, gaan hy vir sy familie op Danabaai kuier. “En sodra my bene minder wankelrig stap, gaan ek weer valskermspring.”

Hy kon egter nie hierdie tawwe reis alleen aandurf nie en sonder sy ma, Elise, uit as ʼn groot steunpilaar in sy lewe. “Ons bly ongelukkig ver van mekaar. Sy woon in die Paarl in die Wes-Kaap, maar ons kommunikeer daagliks met mekaar. Sy is my heel grootste inspirasie.”

Vriende, familie en kollegas het hom gehelp om die wa deur die drif te trek. “Vir hulle almal is ek ongelooflik dankbaar. Dit is absoluut, soos enigiets in die lewe, nét genade. John en Paul van The Beatles was beslis reg toe hulle gesê het: ‘All you need is love’.”

Gooi kole kan weekmiddae van 14:00 tot 17:00 op Kosmos Stereo 99.3 FM gehoor word. Om Thys se musiek aan te koop of om hom te bespreek vir vertonings, stuur vir Martin van Live Music Bands ‘n e-pos by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

lollapot ·

Sterkte Thys! . . .en SPEEL daai dice! Ek bid dat jy spoedig en volkome sal herstel!

Karin ·

Ek was in 1999 gediagnoseer, 25 jaar oud en vol moed! Needles to say het ek elke poefie raad gevolg en geglo(seker desperaatheid), o.a. Essies tee(of so iets), iets te doen met biesmelk en natuurlik die bosluis snert. Nou 21 jaar later is ek afhanklik van ‘n kierie of party dae my rolstoel, dra doeke, my geheue en woorde is party dae net missing, en dis net ‘n paar simptome!! BOTTOM LINE… NIKS, behalwe Tysabri (huidiglik) of die af en toe hoë dosis kortisoon drip, het nog ooit die M.S. ge”cure” nie!! Maar elke ou het seker die reg om te glo wat hy wil glo!

DieKriek ·

Ja nee, my man is ook in 1999 gediagnoseer. Hy het n baie aggressiewe vorm van MS gehad. Alles probeer, maar dis n ongenaaklike siekte. Dis anders vir elke mens maar hý is in 2012 oorlede. Dit was n genade want daar was net n hulpelose skim oor. Dis wreed. Sterkte Karin ❤

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.