Tien dood in Soweto-stormloop

Gautengse premier, David Makhura. (Foto: Twitter)

David Makhura, premier van Gauteng, sê tien mense is Maandag tydens ’n stormloop by ’n winkelsentrum in Meadowlands in Soweto dood.

Dít terwyl ’n beampte van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) Maandagaand by ’n winkelsentrum in Alberton aan die Oos-Rand geskiet is toe hy plunderaars verjaag het.

Die plundertogte in Gauteng het volgens Makhura nou reeds 19 lewens geëis, terwyl meer as 400 mense in Gauteng tot dusver vir openbare geweld in hegtenis geneem is.

Meshack Mahlangu (50), verbonde aan die EMPD, is gisteraand by die Sam Ntuli-winkelsentrum in Katlehong geskiet toe hy en ander metropolisiebeamptes strooptogte probeer stuit het.

Hoofsupt. Kelebogile Thepa, woordvoerder van die Ekurhuleni-​metropolisie, sê Mahlangu het onderweg na ’n hospitaal aan sy wonde beswyk. Dít nadat ’n ambulans weens versperde paaie nie dadelik toegang tot die toneel kon verkry nie.

“Soos wat ons nou praat, duur die plundery voort,” het Makhura vanmiddag vanuit Soweto aan verslaggewers gesê.

Meshack Mahlangu is tydens die strooptogte in Katlehong, Alberton, doodgeskiet. (Foto: Verskaf)

Die premier was in die omgewing om meer te wete te kom oor die stormloop.

“Ek kan nie sê dat die situasie onder beheer is so lank as wat die plundery voortgaan nie,” het Makhura erken.

Die premier sê daar heers boonop kommer oor die uitwerking wat die plundery op Gauteng se reaksie op die derde vlaag Covid-19-infeksies het en het ’n beroep op kalmte gedoen.

“Ons kan nie bekostig dat Gauteng se ekonomie tot stilstand kom nie.”

Die ANC in die Groter Tshwane-streek het intussen ʼn beroep op sy lede in al 107 wyke gedoen om plundery by winkels of winkelsentrums aan te meld. “Ons is ook gekant teen die beskadiging van openbare en private eiendom.”

Die burgemeester van Tshwane, Randall Williams, het intussen “sporadiese” plundery wat Maandagaand by veral twee winkelsentrums in Mamelodi plaasgevind het, veroordeel en gesê die metro se wetstoepassers is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag.

Soshanguve, Ga-Rankuwa, Atteridgeville en die Pretoriase middestad word veral gemonitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

marius ·

Julle sal NIKS daaraan doen nie , want julle keur dit goed . En moet nie eers probeer om dit te ontken nie

Willem ·

Nou dadelik aandklok reël aankondig en as jy beweeg koebaai

Cecilia ·

Daars klaar aandklok reel maar niemand steur hul aan dit nie. Nie eers nie-plunderaars nie. Luister net bietjie saans na 9uur hoe ry voertuie nog op en af in j straat

Gert ·

Wonder hoeveel polisie lede eers geskiet of beseer moet word voordat die polisie hulle mag beskerm

fs ·

Innige simpatie met Mnr Mahlangu se afsterwe! Hy behoort ‘n helde begrafnis te kry – hy het sy bes gedoen! Mnr Makhura… too little to late… na die eerste sentrum vernietig is moes jul ALMAL druk op CR gesit het om die weermag betrokke te kry. jul het GEWEET wat kom… maar niks gedoen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.