Tiener deel van dié wat glo twee moor

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Tiener is glo deel van ʼn groep verdagtes wat vroeër vandeesmaand twee jongmense op straat in Eldorado Park, ʼn voorstad van Soweto, in Johannesburg doodgeskiet het.

Die 17-jarige en twee ander verdagtes, onderskeidelik 22 en 31 jaar, is Vrydag vir die moorde in hegtenis geneem.

Kol. Dimakatso Sello, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het na bewering op 10 September twee mense doodgeskiet terwyl hulle in die straat geloop het.

Die slagoffers, onderskeidelik 19 en 20 jaar oud, is vir dood agtergelaat terwyl die verdagtes op die vlug geslaan het.

Die verdagtes het skynbaar niks by die slagoffers geneem nie.

Die drie sal na verwagting eersdaags in die hof verskyn waar aanklagte van moord hul in die gesig staar.

Volgens Sello is nog ʼn verdagte in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by die moord van ʼn man in April in dieselfde gebied. Dié sal ook binnekort in die hof verskyn terwyl die polisie se ondersoek voortduur.

“Die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid in Gauteng laat geen steen onaangeroer in hul pogings om diegene vas te trek wat verantwoordelik is vir die onlangse moorde in Eldorado Park nie,” sê Sello.

Ondanks die polisie se pogings, is inwoners van die gebied ontevrede met die vlak van misdaad en byna daaglikse skietvoorvalle in Eldorado Park. Soveel só dat talle inwoners al dae lank voor die plaaslike polisiestasie byeenkom in protes teen die moorde.

Dwain Ponsonby, plaaslike raadslid, is een van die inwoners wat sedert verlede week Maandag voor die polisiestasie kampeer en vra vir dringende ingryping na die “vlaag moorde”.

Ponsonby het aan News24 vertel dat minstens 19 skietvoorvalle asook sewe moorde in die afgelope tyd aangemeld is.

“Die misdaad is buite beheer, en mense is wetteloos. Wetstoepassers in die gebied is nêrens te vind nie. Hulle is in die gebied, maar hulle word nie ontplooi om inhegtenisnemings uit te voer nie. Dit is duidelik dat polisiëring ʼn probleem is,” het hy gesê.

Ponsonby het reeds briewe aan die Gautengse premier, David Makhura, en pres. Cyril Ramaphosa se onderskeie kantore gerig waarin hul hulp versoek word “om in te gryp by die magdom kwessies wat Eldorado Park en ander gemeenskappe teister”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oljetter ·

Aan die skryfster van die artikel: Wanneer iemand “vir dood agtergelaat” word is hy nog lewendig.

Pierre ·

Julle is nie aleen nie, die land is n walglike krimenele speelveld en meer as soms is die wat aangestel word om mense te beskerm deel van die pandemie.

Sarel ·

Daar gaan weer gewag word vir tragedie soos in Krugersdorp…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.