Tientalle diensklagtes teen polisie ingedien

Phyllis Vorster, ‘n aanklaer by AfriForum se private vervolgingseenheid, Andrew Leask, hoofondersoeker by die eenheid en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, by die Wierdabrug-polisiestasie waar hulle die klagte aanhangig gemaak het.

AfriForum se private vervolgingseenheid het sedert April vanjaar meer as 20 formele diensklagtes teen die polisie ingedien by verskeie provinsiale polisiekommissarisse asook die nasionale polisiekommissaris. Hierdie klagtes spruit uit die onvermoë of onwilligheid van polisielede om hul pligte uit te voer.

Die jongste klagte is op 24 Augustus vanjaar by die provinsiale polisiekommissaris van die Oos-Kaap ingedien in die saak van Odette Kotze.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur AfriForum is Kotze (57) tydens vlak 5 van die afsonderingstydperk in ’n winkelsentrum in Port Elizabeth deur winkeleienaars aangerand en met ’n tou vasgebind nadat hulle haar beskuldig het van die diefstal van ’n pakkie vuurhoutjies. Die winkeleienaars het haar langer as twee uur teen haar wil aangehou.

“Die polisie het haar daarna in hegtenis geneem en verder aangehou – nie op ’n klag van diefstal nie, maar aanranding,” lui die verklaring.

Kotze het op die aanklag van aanranding in die hof verskyn, waarna sy op R500 borgtog vrygelaat is. Die landdros het aanbeveel dat sy ’n saak teen die winkeleienaars aanhangig maak nadat hy haar beserings waargeneem het.

“Kotze het daarna ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer, menseroof en saakbeskadiging teen die winkeleienaars geopen.”

Odette Kotze is deur winkeleienaars in PE aangerand (Foto: Verskaf)

Volgens die verklaring het die polisie versuim om die kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval te bekom en ook geweier om terugvoer aan Kotze as die klaagster in die saak te gee.

Die private vervolgingseenheid het verder in April vanjaar ’n diensklagte teen lede van die Wierdabrug-polisiestasie in Centurion ingedien nadat Sanet Erasmus, self ’n werknemer van die polisie, deur ’n vrouekollega aangerand is. Die beweerde aanranding het voor ’n senior polisieman plaasgevind, maar hy het geen stappe gedoen om dit te stop nie.

Volgens die verklaring het Erasmus ’n strafregtelike klagte teen hierdie persone ingedien en hoewel die ondersoek volgens die polisie afgehandel is, het hulle nog geen inhegtenisnemings gemaak nie.

“AfriForum het in hierdie geval aansoek gedoen vir ’n nolle prosequi-sertifikaat en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oorweeg tans die aansoek.”

Ander onlangse klagtes teen die polisie sluit in die beweerde aanranding van Leonie Kambouris en die beweerde mishandeling van Baba N.

Die polisiestasie in Pretoria waar AfriForum die dokters en maatskaplike werker gaan bystaan het. (Foto: Verskaf)

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se private vervolgingseenheid, blyk dit uit dié eenheid se ervaring dat polisiestasies al hoe meer die verskoning aanbied dat voorvalle nie in hulle jurisdiksie val nie en dan klaers wegwys.

“Die afleiding kan dus gemaak word dat sekere polisiebeamptes bloot nie lus is om hul werk te doen en hul gemeenskappe te dien nie. Dit is kommerwekkend dat ons soveel klagtes teen die polisie moet eskaleer tot in die kantoor van die nasionale kommissaris as gevolg van sekere polisielede se onverskillige houding en werksetiek. Dit beklemtoon weer eens waarom dit so belangrik is dat daar instellings soos AfriForum is wat die rol van burgerregtewaghond vervul,” sê Leask.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Moet die Polisie nou klagtes teen die Polisie ondersoek. Waar is die MRK en die Onafhanklike Ondersoek Eenheid? Wie gaan die sake ondersoek en gaan ons terugvoeting kry.

Benjamin ·

Dankie AfriForum en Solidariteit want dit is nog net julle wat tussen ons en anargie staan. Ek weet nie hoe julle dit doen nie want dit is n 24/7 werk om die regering van nasionale tot op munisipale vlak in toom te probeer hou. Die regering is finansieel en moreel bankrot en so ook feitlik elke regerings organisasie en munisipaliteit. Is dit werklik die oplossing om na 26 jaar nog steeds hulle hand te probeer vashou of moet ons afskei en ons eie polisiestasies bou, ons eie skole, ons eie dorpe, n nuwe land!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.