Tier se eienaar moes self sneller trek

Martin (Rassie) Erasmus by Sheba die tier nadat sy van kant gemaak is. (Foto: Verskaf)

Die besluit om Sheba die tier van kant te maak was ʼn bitter moeilike een – en een wat baie vinnig geneem moes word gegewe die gevaarlike omstandighede.

Só het Gersham Mandy, ʼn lid van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Sheba se hartgebroke eienaar, Martin (Rassie) Erasmus, was volgens Mandy die een wat die moeilike besluit moes neem en ook die een wat haar eindelik van kant gemaak het. Mandy sê volgens sy kennis is die tier geskiet, maar hy is nie seker of dit met ʼn vuurwapen was en of sy met ʼn pyltjie geskiet is nie.

“Hy het oor haar liggaam gesit en huil. Dit was baie hartseer. Hy was baie lief vir sy tiere [Sheba en Tyson] en het hulle met die hand groot gemaak,” het Mandy gesê. Tyson is Sondag reeds hervestig en daar is tans geen tiere op Erasmus se kleinhoewe nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die tierwyfie die naweek op ʼn kleinhoewe ten suide van Johannesburg ontsnap het. Sy is Woensdag in die vroeë oggendure tussen huise op ʼn plaas in die Walker Fruit Farms-omgewing opgespoor en van kant gemaak.

Hier het sy ook ʼn hond verskeur. Pogings om haar te vang, te verdoof en te hervestig was onsuksesvol.

Mandy was nie Woensdagoggend self op die toneel nie, maar sê dat verskeie lede van die GPF spoedig saam met Erasmus op die toneel was.

“Ons het haar sowat 700 m van waar sy ontsnap het opgespoor. Daar is toe pogings aangewend om haar te vang – onder meer deur haar met vleis te lok. Die aas is by die kamp neergelê waar sy ontsnap het met die hoop dat sy daarheen sou terugkeer en maklik gevang kon word.

“Gisteroggend [Woensdag] het ons egter ʼn oproep ontvang dat sy op ʼn buurplaas sowat 3 km verder is. Sy was op die perseel en het tussen die huise geloop. Sy het ook een van die honde op die plaas aangeval en doodgemaak.

“Ons span is ontbied en die eienaar was ook vinnig op die toneel. Om verdere risiko’s te voorkom moes die baie moeilike besluit geneem word om haar van kant te maak. Dit was ʼn besluit wat deur die eienaar geneem en uitgevoer is. Toe alles verby is, het hy [Erasmus] by die tier se liggaam gesit en huil.”

Mandy sê die tiere was soos Erasmus se kinders. Hy sê hy was voorheen op Erasmus se kleinhoewe en dat die tiere uiters goed versorg was. Hulle is nie in hokke aangehou nie, maar in groot kampe met baie spasie en beweegruimte.

Hiér kan jy ʼn tier sonder ʼn permit aanhou

In Gauteng is dit wettig om ʼn tier aan te hou sonder ʼn permit en daar is geen vereistes waarvolgens hierdie diere aangehou moet word nie.

Volgens Elize Parker, woordvoerder van die dierewelsynsorganisasie Four Paws, vereis Mpumalanga, Limpopo en Noordwes ook nie permitte om eksotiese diere soos tiere aan te hou nie. Permitte is wel nodig om hierdie diere in te voer of tussen provinsies te vervoer.

Parker het Donderdag gesê die voorval met Sheba onderstreep ʼn groter argument wat die aanhou van tiere – en ander groot katte soos leeus – betref.

“Tiere sal nie aangekoop en as troeteldiere aangehou kan word as daar in die eerste plek nie tiere beskikbaar is om te koop nie. Ons wil graag ʼn einde sien aan die kommersiële teling en handel van tiere,” het Parker gesê.

Sy het die publiek intussen gewaarsku dat groot katte in aanhouding ʼn gevaar is vir die samelewing, maar ook vir die diere self. “Dit lei dikwels tot uitbuiting van dié diere.”

Parker sê in Suid-Afrika is 12 000 leeus tans in aanhouding, terwyl net 3 000 wilde leeus in die natuur oor is.

Data en statistieke oor tiere is ʼn bietjie meer skraps as die data oor leeus, veral omdat nie alle provinsies permitte vir die aanhou van tiere vereis nie.

Die organisasie kon wel data met behulp van provinsiale departemente in Limpopo, Gauteng en die Wes-Kaap bekom.

Dit is op statistieke van 2021 geskoei en verlede jaar in ʼn verslag deur Four Paws beskikbaar gestel.

In Limpopo was daar in 2021 62 tiere in aanhouding, sewe in Gauteng en 18 in die Wes-Kaap – in beide private en openbare besit.

Honderde tiere word egter van Suid-Afrika uitgevoer, wat beteken dat baie meer tiere wel in die land aangehou word.

Four Paws lewer onder meer ook kommentaar op konsepwetgewing rakende die aanhou en teling van leeus, en meen strenger wetgewing en regulasies oor tiere is ook nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Misky ·

Sjoe dis werklik hartseer en ek glo steeds sy kon eerder gered word. Koeël of dartpyltjie word albei geskiet…… RIV Sheba.

Opinie ·

Ek het aanvanklik ook gevra wat is die verskil tussen pyltjie en skiet. Ons moet weet dat die vee arts nie by die groep was in die vroee oggend ure nie. Sou hulle vir die vee arts wag, was daar n moontlikheid dat die dier weer kon verdwyn. Die moontlikheid van lewens verlies, sou die tier weer wegraak, was ook baie groter op die stadium.
Daarom die ingeligte besluit om haar van kant te maak.

Prikkie ·

Martin, ek huil saam met jou.

Ons moes op 22 Desember ons Husky laat uitsit. Hy was soos ons kind. My hart is stukkend en dus verstaan ek jou hartseer.

Sterkte ou maat.

annie ·

Hartseer! Dis jammer dat hy ontsnap het, maar ek sou ook wou na ingeperk. Dis eintlik ‘n sonde om sulke onnatuurlike leefwyses te wil afdwing. Wilde diere tree outomaties op. As hy iemand of ‘n hond gebyt het was dit bloot natuurlik.

Mnr De Beer ·

Strenger wetgewing en regulasies van aanhou en teling van leeus en tiere moet ingestel word. Hopelik om so gebeurtenis te probeer vermy in die toekom. Onskuldige mense en troeteldiere kan ernstig beseer word.

Marcello ·

Hoekom is Tyson ook verwyder, dit is mos nie die eienaar se skuld dat Sheba uitgekom het nie. So hoekom die ander een ook wegvat.???????

Manie ·

Die tier is doodgeskiet met ‘n koëel, as dit met ‘n pyltjie was soos Mandy wonder, kon hulle haar mos verdoof het?

Rayman ·

There is a distinct chance that these truly magnificent cats could be extinct by as soon as 2025!

Nettie ·

So bitter hartseer. Sy was pragtig. Ek is jammer, mnr Erasmus. Sterkte met u pad vorentoe.

Antoinette ·

My opinie….en ek is nie ‘n “groene” nie. Hoekom het Sheba in die 1ste plek uitgekom – omdat ‘n ongewenste/s die drade geknip het. Ja tiere kom nie natuurlik voor in SA nie en daar is baie mense wat wilde diere vir die regte redes aanhou.
Daar is baie ander groter en meer gevare daar buite en een daarvan is die konstante beurtkrag wat ons sekuriteitsstelsels lamlê. Ongewenstes het ‘n lekker lewe in hierdie tyd.

Rassie my hart is seer saam met jou oor die mooie Sheba. En dis my 5c bydrae…

Andre ·

Groot bohaai oor die tier wat net natuurlik optree. Moordenaars word vrygelaat om dit weer te doen.

Lillian ·

Hartseer maar hy is steeds verkeerd om hul so aan te hou. Tiere is wilde diere en hul instink bly.

Onnie ·

Dis werklik baie hartseer, maar ook ‘n goeie les vir mense wat hierdie diere in hul agterplaas aanhou. Dit gaan net in trane eindig – gewoonlik vir die eienaar, die dier en die gemeenskap.

Ronel ·

Sonder grappies – ek sou my DOOD GEHUIL HET AS DIT MY TIER WAS!!!!! Ek is doodseker hulle kon n ander plan gemaak het. Dalk wou hulle net nie – kies toe die “maklikste uitweg” soos al soveel keer vantevore. In hierdie land het lewe geen waarde nie. Daar word nie eers waarde aan mense se lewe s geheg nie – nog minder aan diere s’n. Dis SA vir jou!!!!!!

Wildemien ·

Ek is nog steeds kwaad oor hierdie storie.
Afskuwelike mensdom.

gpsa ·

Dis baie hartseer, ek het heeltyd gehoop hulle kan haar vang en terug neem. Glo dit was ‘n moeilike besluit en verstaan ook nie die hele situasie nie. As daar mense lewens in gevaar is, is dit ongelukkig die algemene besluit. Sou hulle nie die besluit geneem het nie en iemand was dood agv daarvan, was daar groot moeilikheid. Steeds baie spyt dit het so ge-eindig, RIV Sheba.

Janice ·

en weereens is die mens die probleem, nie die arme dier nie

LOUIS ·

Daar is n verskil tussen verdowings pyl skiet en geweer skiet. Verdowing is verdoof en skiet is dood. Ek hoop sy lewe nog, want nuwe SA wil alles dood maak.

piet ·

Ek vind dit belaglik dat wilde, gevaarlike diere sonder permitte aangehou kan word. Nee, eintlik vind ek dit ongelooflik.

FBS ·

Dit sal n blye dag wees as n mens weer die reg het om aan te hou en wat jy lief het en KEN. Instansies soos Four Paw wat net vir die geld daar is, ook die NSPA wat regtig geen doel dien nie. Uit die wild bedryf verwyder word.

Prikkie ·

En moordenaars en verkragters en skurke agter tralies, maar tog loop daar BAIE van hulle vry rond.

Kla liewer daaroor.

Papsak ·

Ja dit is bitter hartseer om jou eie geliefde dier dood te skiet maar sterkte ek dink nog dit was onnodig sy kon verdoof geword en gevang geword het dan hoekom dood maak

Nadine ·

Soooo hartseer. Wens Sheba het net nog een kans gekry om iewers anders heen gestuur te kon word waar Sheba haar lewe verder kon voorsit. Sheba is net ‘n dier en verstaan nie wat sy verkeerd gedoen het nie. ???? Was dit regtig nodig gewees om Sheba die dood skoot te gee ????

Pandora ·

Mens begryp dat die eienaar hartseer sou wees, maar ai, om twee tiere op ‘n hoewe aan te hou, is bitter onregverdig teenoor daardie diere wat geen natuurlike lewe gelei het nie. Dankbaar dat hul Tyson kon hervestig in ‘n area waar hy meer ruimte het om te beweeg. So so uiters jammer dat Sheba van kant gemaak moes word. Ons het almal gehoop dat sy veilig gevang sou kon word en met haar boetie herenig kon wees. Baie tragies.

madels ·

Ek dink die mens moet vry wees om enige dier aan te hou. Alles moet altyd beheer word, en vir wat? As iemand n wilde dier aanhou en hom uiters goed versorg kan ek voorwaar niks daarmee verkeerd sien nie..

LANA is ELANè ·

So verdomp onnodig, die mens is die wreedste wesen op hierdie aarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.