Toeken van vissersregte weer vertraag

Wanneer die regte toegeken word, is dit 15 jaar lank geldig, maar die organisasie sê verskeie vissers in die bedryf het reeds handdoek ingegooi. (Foto: Christel Cornelissen)

Die burgerregtegroep Kaapse Forum het ʼn besluit om die toekenning van visvangregte opnuut uit te stel Vrydag skerp gekap.

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het die toekenning van die regte nou tot Oktober vanjaar uitgestel nadat dit reeds verkeie kere vantevore ook uitgestel is.

Wanneer die regte toegeken word, is dit 15 jaar lank geldig, maar die organisasie sê verskeie vissers in die bedryf het reeds handdoek ingegooi weens die lang wagtydperk, terwyl ander “alles verloor” het.

“In ʼn tyd waarin die ekonomie krimp en rentekoerse styg, wat weer die styging van voedselpryse tot gevolg het, word Suid-Afrika se kleinskaal sowel as kommersiële vissers doelbewus deur die minister uit die ekonomie gesny. Hierdie beleid is onaanvaarbaar,” sê Tommy van Zyl, koördineerder van die Kaapse Forum.

Die organisasie sê hy is in verbinding met verskeie vissers wie se kinders hul studies weens ʼn gebrek aan geld moes opskort. Weens die vertragings met die toekenning van die regte kan dié jong mense ook nie in hul familieondernemings werk nie, wat tot die verarming van gesinne en ganse gemeenskappe lei.

Minister Barbara Creecy se departement het die hernieude uitstel Dinsdag bekend gemaak. Volgens die minister het die departement ʼn rekordgetal klagtes en appèlaansoeke ontvang.

Die departement het in Desember gesê die toekenning van regte is in Februarie verlede jaar afgehandel en dat appèlaansoeke teen die besluit daarna ingedien kon word. Meer as 1 200 appèlle is ontvang.

“Tog word daar nêrens vermeld dat die aanlyn stelsel maande lank foutief was nie. Redes soos dié wat die vertraging van die toekenning van visvangregte tot gevolg het, word nie genoem nie,” sê Van Zyl.

Die Kaapse Forum sê hy sal sy veldtog teen die regering voortsit en is reeds besig om vir die eerste hofsaak gereed te maak wat eersdaags in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.