Toekomsberaad: Doenplanne wat sal werk

Flip-Buys-2015-September

Flip Buys die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Die Helpmekaar 2020-plan wat Saterdag by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad in Centurion bekendgestel sal word, is beslis nie net lugkastele nie.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die organisasie reeds ʼn suksesrekord met die projekte wat tydens die beraad ter tafel gelê sal word. “Dit is nie totaal nuwe planne, wat ongetoets is, nie. Die Helpmekaar 2020-plan bou net voort op planne wat reeds werk, maar op ʼn groter en uitgebreide skaal.”

Buys het verwys na die Helpende Hand wat reeds betrokke is by vyfhonderd skole en die organisasie se kleuterskoolprojek wat ook klaar vierduisend kleuters met noodvoedingsprojekte help. “Die stelsels werk en ons gebruik die bydraes van mense vir die Helpende Hand om hierdie projekte te dryf. Die behoeftes word egter meer en ons sal byvoorbeeld wil inspring en help as hulle skryfbehoeftes of Afrikaanse handboeke nodig het, of om selfs onderwysers en assistent-onderwysers se salarisse betaal as dit moet.”

Toekomsgerig

Buys sê die Toekomsberaad fokus juis op die volgende vyf jaar in Suid-Afrika. “Baie mense is bekommerd oor die huidige situasie in die land, misdaadsyfers wat eenvoudig bly styg, swak dienslewering in dorpe en probleme in onderwys.” Volgens hom gaan die Toekomsberaad se planne juis fokus op die hantering van hierdie probleme.

Die Toekomsberaad volg op die Solidariteit Beweging se Krisisberaad in Mei vanjaar, waar as’t ware ʼn voorraadopname gedoen is van die stand van sake in die land. Daar het die Solidariteit Beweging onderneem om taakspanne aan te stel om te werk aan praktiese oplossings en dit is hierdie oplossings wat Saterdag bekendgemaak word.

“Ons gaan beslis nie net vae idees en mooi woorde ter tafel lê nie. Die planne moet meetbaar wees. Die uitvoering van die planne sal gekoppel word aan spesifieke organisasies wat verantwoordelikheid vir die uitvoering daarvan sal neem. Hierdie organisasies is deel van die Solidariteit Beweging of sal in vennootskap met die Beweging saamwerk,” sê Buys.

Volgens Buys is die Helpmekaar 2020-plan beslis nie die begin van ʼn volkstaat of ʼn afskeidingsplan of selfs ʼn plan om die Afrikaner van die res van Suid-Afrika te isoleer nie.

Groeiende selfstandigheid

Hierdie planne gaan gemeenskappe help en bemagtig om verantwoordelikheid te neem vir die belangrike sake wat hulle elke dag raak. “Ons noem dit ʼn selfstandigheidsplan wat die teenoorgestelde is van staatsafhanklikheid. Met Plan A vertrou jy net op die staat om byvoorbeeld altyd skoon water te verskaf en die paaie in stand te hou, terwyl die president van die land altyd luister na die aanbevelings van die openbare beskermer en daar geen korrupsie is nie.”

Die Solidariteit Beweging sal steeds Plan A gebruik en in gesprek wees met die regering, maar dit is ongelukkig nie meer genoeg nie en vandaar die selfstandigheidsplan as die sogenaamde Plan B.

“Dit sal groeiende selfstandigheid behels, want ʼn mens kan nie al hierdie probleme oornag oplos nie, maar ons kan ongelukkig nie net meer afhanklik bly van die staat nie. Hierdie probleem is nie ook noodwendig uniek aan Suid-Afrika nie. Dit is wêreldwyd ʼn neiging vir mense om al meer verantwoordelikheid te neem, want die staat kan nie alles vir almal wees nie.”

Die Toekomsberaad se Helpmekaar 2020-plan is saamgestel uit 20 verslae met meer as ʼn duisend insette van mense wat na afloop van die Krisisberaad vroeër vanjaar ontvang is. Dit het die taakspanne drie maande geneem om hierdie doenplan op te stel. Die plan kan in drie hoof onderafdelings opgedeel word en bestaan uit:

  • Goeie werk, anti-diskriminasie en opleiding,
  • Geskiedenis, erfenisbewaring en Afrikaans,
  • En selfstandige gemeenskappe, gemeenskappe doen self, gemeenskapsveiligheid, gemeenskapsmedia en die jeug

Hierdie onderafdelings se onderskeie planne sal in besonderhede by Saterdag se Toekomsberaad bespreek word, asook watter organisasies betrokke is en wat beplan word.

Kapitaalmobilisering

Maroela Media het vroeër berig dat die Helpmekaar 2020-plan sal beteken dat R3,5 miljard oor die volgende vyf jaar in die Afrikaanse gemeenskap belê sal word. Uit hierdie bedrag sal R1 miljard rand aan Afrikaanse onderwys en opleiding toegeken word.

Volgens Buys het die hele Solidariteit Beweging tans 340 000 duisende lede, wat ʼn gemiddelde ledegeld van R100 per maand betaal. Daar word beoog om die ledetal op te stoot na 500 000 om een van die bronne van inkomste te skep. Korttermynversekeringskemas wat deur die Beweging bedryf word, sal ook ʼn bron van inkomste wees.

“Die hele strategie is gebaseer op klein bedraggies, wat saam ʼn groot verskil sal maak. Dit is soos mense in die ou dae koeksisterverkopings gehou het om ouetehuise te bou of muntleggings vir ʼn kerksaal.”

Die derde bron is betaling vir dienste, soos met Sol-Tech, die tegniese opleidingskollege, waar ledegeld aanvanklik gebruik is om die kollege op te rig. Dit het die Solidariteit Beweging R50 miljoen gekos en die grootste enkele skenking was R10, maar dit was duisende skenkings van R10 wat gehelp om die opleidingsinstansie, die grootste Afrikaanse instansie van sy soort, op te rig. Tans word die bedryfskoste deur kursusgeld betaal en die Helpende Hand help met studiebeurse waar nodig.

Hoe kan jy betrokke raak

Buys verduidelik dat die doenplan van elkeen vereis om aktief betrokke te raak. Dit kan behels dat jy aansluit by een of meer van die Solidariteit Beweging se organisasies, soos die vakbond Solidariteit, AfriForum, Helpende Hand of die FAK en jou onderteuning gee deur jou ledegeld. Jy kan egter ook beteken dat jy iets eenvoudigs doen, soos om vir jou gemeenskap te bid, of uit te reik na bejaardes in ʼn versorgingsoord. “Mense moet nie net aan groot planne dink nie. Dit gaan daaroor om te gebruik wat jy het. Doen nou wat jy kan, met dit wat jy het.”

  • Mense wat die beraad wil bywoon, kan registreer by www.toekomsberaad.co.za. ‘n Regstreekse uitsending van die Toekomsberaad sal ook op die webwerf beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Danielja ·

Ek moet se, hierdie maak my opgewonde. Ek en my man praat baie oor immigrasie, maar hierdie toekomsberaad gee vir my hoop, hoop wat nie voorheen daar was nie.

Hierdie is ‘n bal wat begin rol, en as hy eers aan die rol is sal niemand die Afrikaner kan stop nie.

Baie dankie aan die Solidariteit beweging vir alles wat julle doen.

Peet J ·

Aangesien Solidariteit Beweging onderneem om taakspanne aan te stel om aan praktiese oplossings te werk is dit seker beter om te wag vir die uitslae daarvan wat Saterdag bekend gemaak gaan word. Die woord Afrikaner: Wie is nou eintlik die Afrikaner is daar iemand wat die Afrikaner kan definieer is hy wit, swart of bruin kan enige persoon ‘n Afrikaner genoem word.
Volgens die Selfstandigheidsplan gaan die gemeenskappe nie meer op die staat steun nie, is dit nie nou die tyd om dit aan die staat uit te wys en terselfdertyd voorbrand te maak vir ‘n Volkstaat idee wat ek dink wat die enigste oplossing is vir die voortbestaan van die blankes in hierdie land.

Johann Marx ·

Ek hou van hierdie inisiatief, en sal dit ondersteun. Wat ek haat hiervan is dat ek ‘n regering moet bly betaal wat vir my NIKS doen of beteken nie…..en dan met dit wat oorbly SELF die diens moet lewer waarvoor ek hierdie armsalige regering betaal het.

connie ·

Is dit net vir afrikaners bedoel of kan enige wit pewrsoon aansluit wat anderstalig is?

Danie ·

Sien met verwagting uit wat Saterdag aangekondig gaan word. Geluk Solidariteit met julle iniasitief en sterkte vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.