Toergids gered na nag in siedende rivier

(Foto: Verskaf deur SAPD)

ʼn Toergids is gered nadat sy voertuig in Mpumalanga op ‘n laagwaterbrug vasgeval het en hy die nag in sy voertuig moes deurbring.

Die 56-jarige toergids se voertuig het omstreeks 20:00 Donderdagaand vasgeval toe hy die Komatirivier in Komatipoort by ʼn laagwaterbrug wou oorsteek.

Die toergids, wat deur Laevelder geïdentifiseer is as die Britse burger Michael Turner, was van Mosambiek af op pad om gaste in Komatipoort op te laai toe die voorval plaasgevind het.

Volgens Laevelder se berig is daar reeds Donderdagaand op Turner afgekom, maar is besluit om tot daglig te wag om hom te red weens die sterk vloei van die rivier. Turner het die nag in sy voertuig deurgebring voor hy omstreeks 11:00 Vrydag suksesvol gered is.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het gesê Turner is met behulp van ʼn weermaghelikopter uit die water gered en dat sy voertuig steeds in die rivier vasgekeer is.

Intussen word steeds gesoek na twee mans wat ook Donderdag die rivier wou oorsteek en toe verdwyn het.

(Foto: Verskaf deur SAPD)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.