Toeris sterf tydens skubaduikuitstappie

Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap. (Foto: Sharon Mugridge/Pixabay)

ʼn Chinese toeris is Sondag dood toe hy die aan die kus by Gqeberha gaan skubaduik het en bewusteloos na die oppervlak teruggekeer het.

Die 50-jarige man het op ʼn huurboot wat vir duikuitstappies gebruik word op die see uitgegaan om te gaan skubaduik en toe vermoedelik sy bewussyn in die water verloor.

Die bemanning van die boot het die man tot in die boot gehelp en inderhaas kardiopulmonêre resussitasie toegepas.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Sondag omstreeks 10:45 in kennis gestel dat daar kardiopulmonêre resussitasie op ʼn man op ʼn huurboot op pad na die hawe gedoen word.

Die vaartuig was in daardie stadium nog in die omgewing van die verste klokboei.

Justin Erasmus, stasiebevelvoerder van die Gqeberha NSRI-kantoor, sê hul reddingstuig genaamd Rescue 6 Alpha kon gelukkig dadelik ontplooi word aangesien die reddingstuig reeds in die water by die NSRI se reddingstasie was.

Die gewilde Iron Man-kompetisie is die naweek in Gqeberha aangebied en die reddingstuig was op bystand in die geval van ʼn noodgeval tydens die kompetisie.

Die NSRI het sowat ʼn halwe seemyl vanaf die ingang na die hawe by die boot aangesluit. Die huurboot se bemanning was in daardie stadium steeds besig om noodhulp op die toeris uit te voer.

Die man is tot op die NSRI se reddingstuig getel en na die Gqeberha NSRI-kantoor gehaas waar paramedici kardiopulmonêre resussitasie oorgeneem het. Die man is eindelik dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.