Toerismebedryf-betoging: Optrede versoek oor polisiegeweld

‘n Betoging in Kaapstad oor die afsonderingsregulasies wat die gasvryheidbedryf lamlê.

AfriForum het vandag ’n skrywe aan die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, gerig waarin die burgerregteorganisasie versoek dat hy ’n ondersoek van stapel stuur na die Wes-Kaapse provinsiale polisiekommissaris en haar bestuurspan se ondeurdagte optrede tydens die hantering van ’n vreedsame protes in die Kaapstadse middestad.

AfriForum het op 24 Julie 2020 ’n skrywe aan lt.genl. Yolisa Matakata, Wes-Kaapse polisiekommissaris, gerig waarin die organisasie redes versoek het vir die onnodige en hardhandige hantering van lede van die toerismebedryf. Die organisasie het in die skrywe sy skok uitgespreek oor die gewelddadige en hardhandige hantering van dié lede wat in Kaapstad aan ’n vreedsame betoging deelgeneem het. Die SAPD het protesgangers met ’n waterkanon gespuit en met traangas en skokgranate uiteengejaag.

Ná verskeie aanmanings aan die provinsiale polisiekommissaris om ’n verduideliking te verskaf, het die organisasie uiteindelik op 27 Augustus ’n skrywe van Matakata ontvang waarin sy meld dat, ingevolge Regulasie 37 van die Rampbestuurswet, alle samekomste verbied is met sekere uitsonderings, waarvolgens dié vergadering nie binne die lys van uitsonderings vervat word nie.

“Die SAPD se optrede tydens die vreedsame optog waar die deelnemers as sagte teikens geïdentifiseer is, in teenstelling met hul huiwering om op te tree waar mense se eiendom en lewens deur kriminele en gewelddadige elemente bedreig word, dui op substandaard opleiding en die gepaardgaande onvermoë van die SAPD om wet en orde te handhaaf,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se waarnemende hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek. “In die lig hiervan het AfriForum ons misnoeë te kenne gegee oor Matakata se flou verweer en haar stelling verwerp dat die gebruik van die waterkanon in dié geval deel uitmaak van minimum geweld.”

Van Dalen voeg by AfriForum is positief dat die nasionale polisiekommissaris hul versoek in ’n positiewe lig sal bejeën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Oe ee ee die redenasie vermoë darem van die polisie gaan my verstand te bowe! Dit was heeltemal onnodig gewees. Wys net weer hoeveel mag hul gekry het tydens lockdown…

Tanja ·

Ek het geen watterkanonne, traangas of skokgranate voor Clicks gesien nie, net die EFF was daar

Jaco ·

Dis mos swart betogers op daardie foto. So swart polisie het ‘n waterkanon teen swart betogers gebruik. Uiters vreemd. Wat dan nou van Black Lives Matter? Ook vreemd dat die swart deel van toerisme ook moet swaarkry tydens inperking. Ramaphosa het dan gesê inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop. ‘n Waterkanon teen wit betogers sou dus meer sin gemaak het.

christo ·

Wanneer ‘n betoging gewelddadig is word dit deur die SAPD ‘gemonitor’ maar as dit vreedsaam is ( en witmense teenwoordig is )word daar gewelddadig opgetree deur die polisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.